Wednesday, 8 May 2013





JÝ  IS  GOD  SE  KIND


Lees  Rom 8:12-16


Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.  

Rom 8:14


Die kernwaarhede van die evangelie is:  Vaderskap en kindskap; verlossing en geloofsekerheid;  erfgenaamskap.

God het die mens só liefgehad dat Hy Christus na die wêreld gestuur het om ons met Hom te versoen en ons weer te maak wat God bedoel het ons sal wees.  Jy het soveel waarde in die oë van God dat Hy jou uitnooi om Hom “Vader” te noem.  Daarom mag jy nóóit neerhalend oor jouself dink of praat nie.  Die Gees lei jou om in dankbaarheid te jubel oor die waarheid dat Christus jou verlos het uit jou sonde en jou sy kind gemaak het.  Hy roep jou op om jou sondige verlede te vergeet en jou kindskap te aanvaar.

Om jouself kind van God te noem en dan steeds sondes wat vergewe is op te diep, is ‘n verloëning van God se liefde en genade.  Deur sy Heilige Gees lei God jou tot die aanvaarding van sy vergifnis deur Christus se soenverdienste en help Hy jou om ‘n lewe van oorwinning te lei.

Jý is God se kind en erfgenaam!  Wat ‘n onbeskryflike wonder van Goddelike genade!


Gebed:  Vader, ons is u kinders.  U Heilige Gees bevestig dat ons u erfgename is.  Dankie vir die onbeskryflike genade dat ons U “Vader” mag noem.


*Wees tevrede om sy kind te wees en laat die Vader daagliks aan jou lig, krag, oefening, probleme, vrese, vreugde, vrede en beproewing uitdeel soos Hy dit goed vind – I PENINGTON.*


~ Uit Op Vlerke van Geloof deur Solly Ozrovech ~










LIEFDE


Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.  -  2 Kor 13:13


Dierbare Heer, met my hele hart en siel glo ek in die krag van U liefde wat nou in en deur my werk en straal.  Dit heel en hernu my, en omdat ek glo in die krag daarvan, is ek ontspanne en ‘n heerlike gevoel van alles-is-wel, neem van my besit.  Ek is vry en het die krag om my God-gegewe talente en vermoëns uit te leef.

Dierbare Heer, dankie vir die lig van U liefde wat altyd in my en om my skyn.  Alles wat ek in hierdie lig doen, kry nuwe betekenis.   Ek sien hoe dit in en deur my skyn tot seën van elke mens en elke gebeurtenis in my lewe.

Dierbare Heer, uit die diepte van my hart dank ek U vir U liefde wat my hart tot oorlopens toe vul, wat in my en deur my vloei tot seën van my medemens en die ganse wêreld.  Waar U liefde heers, neem geluk en vrede oor.  Ek weet dit en ek glo dit.  My lewe verloop ordelik en alles is wel met my en met my wêreld.


Gebed:  Dankie Heer, vir die seën van U liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 6 May 2013





‘N  TEMPEL  VAN  DIE  HEILIGE  GEES


Lees – 1 Korintiërs 3:16-17


Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?  (1 Kor 3:16)


Die Bybel leer ons dat die tempel in Jerusalem vir God se volk ‘n heilige plek was, dié plek waar hulle die Verbondsgod aanbid het, en waar Hy sy wil aan hulle bekend gemaak het.

Vandag se teksvers sê vir ons dat élke kind van God ‘n tempel is.   Jy óók!   En omdat ons tempels van God is en sy Heilige Gees in ons woon, moet ons heilig lewe.  Dit beteken dat ons só moet optree, praat en lewe dat ons vriende, en ook vreemde mense, kan sien dat ons opsygesit is vir God.

Net soos ‘n mens nie God se gebooie kan gehoorsaam sonder sy hulp nie, kan jy ook nie ‘n tempel van God wees as die Heilige Gees jou nie help nie.  Hy sal vir jou sê wanneer jy verkeerd doen, maar sal terselfdertyd by God vir jou intree.   Wanneer jy die Gees van God se stem hoor, luister na Hom!


Gebed:  Heilige Gees, baie dankie vir die voorreg om u tempel te mag wees.  Help my om heilig te lewe en waarsku my wanneer ek verkeerd doen.  Dankie dat U vir my by God intree.


*Ek is ‘n tempel – God se tempel.*


Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon.  Dan sal julle besef dat Ek die Here is.  Ek het dit gesê en Ek sal dit doen, sê die Here  (Eseg  37:14).



~ Uit Dagboek vir die Vrou – Nina Smit ~


Sunday, 5 May 2013






God se strykwerk................... ♥


Versigtig vou Hy die doek van begrip oop oor ons opgefrommelde lewens ,,,  die stoom van Sy liefde sproei druppeltjies deernis oor ons ... en terwyl Sy tere liefdeshande besig is ... hoor jy die refrein in Sy hart wat sê:  "Al beland jy ook 'n duisendmaal op hierdie strykplank ... jy is en bly My kind!


GEBED:  'n Opgefrommelde lewe Vader, voor U troon kom kniel ons nou neer.  Here, U sien alles in ons lewens raak tot in die fynste besonderhede, want U Here het ons in ons moederskoot aanmekaar geweef, U het ons  lewe fyn beplan.   Vader soms kom staan ons voor U, en dan voel dit ons ons lewe opgefrommel is.  Here en dan besef ons weereens, U stoom die liefde oor ons Vader, want dit maak nie saak of ons opgefrommel, vertrap of verniel is deur die lewe nie, in U oë verloor ons nooit ons waarde nie.  Want al gaan ons soms deur 'n dal van doodskaduwee, sê U ons moet geen onheil vrees nie!

Amen











Voordat jy vandag iets negatief en afbrekend vir jou medemens te sê het
 - dink aan iemand wat stom is.

Voordat jy vandag kla oor die slegte smaak van die kos
- dink aan diegene wat niks het om te eet nie.

Voordat jy vandag kla oor 'n geliefde wat nie dink, sê en doen soos jy van hulle verwag nie
- dink aan iemand wat elke dag wens vir vriende of 'n lewensmaat.

Voordat jy vandag kla oor die lewe 
- dink aan 'n kind wat op 'n sterfbed lê.

Voordat jy vandag oor jou kinders kla en hul dalk onnodig verskree
- dink aan die wat begeer om 'Mamma' of 'Pappa' te hoor maar nooit die voorreg sal hê nie.

Voordat jy vandag baklei oor die deurmekaar huis of 'n onopgemaakte bed  - dink aan die mense wat op straat bly of onder rommel skuiling moet soek.

Voordat jy vandag kla oor die afstand wat jy werk toe moet ry of die verkeersknope - dink aan iemand wat geen vervoer het en werk toe moet loop.

Voordat jy vandag kla oor jou werk en hoe moeg jy is
- dink aan die werkloses of gestremdes wat 'n werk begeer.

Voordat jy daaraan dink om 'n vinger te wys of te oordeel
- onthou dat nie een van ons sonder sonde en tekortkominge is nie.

Wanneer negatiewe gedagtes vandag dreig om jou depressief te laat voel - Sit jou hand op jou borskas en voel jou hartklop, glimlag dan en wees dankbaar vir die voorreg om te kan leef,


WANT die lewe is 'n geskenk en ons moet elke oomblik daarvan voluit en met passie aanpak. Wees Vrolik en Lag sonder ophou. Geniet elke oomblik daarvan en Gee baie liefde want God het hierdie lewe aan jou geskenk en die feit dat jy nog hier is, beteken dat jy nog iets vir iemand beteken, dat jou werk hier op aarde nog nie klaar is nie ... en onthou - Geloof maak alles moontlik en Liefde maak dit mooi.


Jesus Liefde ♥










GODS  ORDE


Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van Sy hande bekend.  -  Ps  19:2


Heer, ek weet, die oomblik as ek agterkom dat ek betrokke raak by een of ander vorm van disharmonie om my, moet ek net stil word voor U.

Diep in my diepste heiligdom vat ek U Vaderhand, en U liefde en vrede wat my in die stil tyd saam met U binnevloei, kan nie in woorde beskryf word nie.  Dit voel asof die dinge wat my geteister het van alle krag ontneem word.  Ek voel so verlig dat ek sommer dieper begin asemhaal, en die spanning en stres wat in my opgebou het rol van my skouers af.

Dít, Heer van my hart, is omdat ek myself en alles wat my aangaan in U hande geplaas het.  Wanneer ek dit doen, neem U orde oor, en geen wanorde of disharmonie kan staande bly voor die wonder van U orde nie.  Ek kyk na die werke van U hande in my en om my, ek maak dit my eie, en daarna bekommer ek my nie meer nie, want Ú is in beheer.  Hoe groot die voorreg om deel te wees van so ‘n ordelike plan wat ook op my lewe van toepassing is!  Dankie, Vader!


Gebed:  U orde Heer, heers in my lewe!


~ Uit Daelikse Woord ~









AS  JY  OUER  WORD


Lees – Psalm 92


Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag.  Hulle sal fris en lewenskragtig wees (Ps 92:15).


Wanneer ‘n mens ouer word, beteken dit nie dat  jy vir God minder werd is nie, soos dalk vir ander mense nie.   Soos die palmboom kan jy ook jou krag in die Here vind, in jou ouderdom fris en lewenskragtig wees, en selfs toeneem in krag.   Jy kan vir jou kinders en kleinkinders ‘n voorbeeld wees van God se genade;  jy kan hulle help met jou ryper insig, en jy kan aanhou vrugte dra vir jou Here.


Gebed:  Hemelse Vader, dankie dat ek, ook wanneer ek nie meer jonk is nie, my krag in U kan vind.  Help my om altyd vir U vrugte te dra.


*’n Christen kan steeds vir die Here werk en vrug dra al is hy nie meer so jonk nie.*


~ Nina Smit ~