Friday, 27 June 2014




LAAT LOS LAAT GOD


Moenie bang wees nie, want  Ek is by jou.  Ek sal jou seën.  -  Gen. 26:24


Staan ek voor ‘n uitdaging wat dreig om my te oorweldig?  Soek ek versekering dat die besluit wat ek in ‘n belangrike saak neem, die regte een is?  As my antwoord op hierdie twee vrae of enigiets anders wat my hinder, ja is, neem ek nou ‘n oomblik om stil te word en by Jesus se voete te gaan sit.  In hierdie gewyde oomblik waarin ek met my Heer verkeer, maak ek my gedagtes stil sodat Hy in en deur my kan werk.

Ek laat los en laat God.   Wat ookal mag gebeur, ek laat geen negatiwiteit toe om my gedagtes oor te neem nie.  Ek laat alles in Sy bekwame hande, en ek weet ek hoef my nie te bekommer dat dinge nie volmaak sal uitwerk nie.

Ek laat los en laat God.   Ek wys sodoende dat ek glo dat Sy volmaakte orde in my lewe tot stand kom.  Ek doen alles in my vermoë om ‘n kanaal te word waardeur Hy kan werk om alles en almal betrokke te seën.


Gebed:  Ek laat los en laat God


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 26 June 2014






GOUE OOMBLIKKE


Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit.  -  Job.  37:22


Die kosbaarste tye in my lewe is die tye waarin ek ‘n diep sielevreugde ervaar.  Dit is goue oomblikke hierdie wat God gebruik om Sy doel met my en die betekenis van my lewe aan my te openbaar.

Ek weet dat elke oomblik ‘n spesiale betekenis het vir my.  Of dit nou iets is wat gebeur wat ek as toeval beskou, of ‘n goeduitgewerkte plan, ek moet goed kyk, want God mag ‘n doel daarmee hê – iets belangrik vir my en vir die weg wat ek moet volg in my lewe.

Ek kyk dus na alles wat met my gebeur soos ek dink God dit sou sien – propvol geleenthede vir my om te leer en verder geestelik te groei.  Met hierdie benadering verwelkom ek elke geleentheid, of dit nou deel van my roetinesake is, of iets ongewoons, en ek soek en vind die seën daarin verborge  vir my.

Elke oomblik van elke dag is ‘n goue oomblik op my lewensweg, aan  my geskenk deur God.  ‘n Geskenk so mooi en so wonderlik dat ek dit vir ewig soos ‘n kleinood koester.


Gebed:  Ek koester en onthou elke goue oomblik in my lewe.



~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday, 22 June 2014





TROOS


Die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, ... sal julle alles leer.”  -  Joh. 14:26 (Ou Vertaling)


Wanneer ons bedroef is, sal die gedagte dat ons Trooster altyd by ons is, vertroosting bring vir ons hart en berusting vir ons seer gemoed.  Die krag wat bomenslik is, die vreugde wat geen trane kan uitdoof nie, die liefde wat weet dat ons nooit ‘n geliefde kan verloor nie, dit alles behoort aan u deur Christus, ons Heer.

Dink aan die vertroostende woorde van Jesus: 

“Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid ... julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees ...  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle;  nie soos die wêreld gee nie, gee Ek aan julle nie.  Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”  (Joh. 14 vanaf vers 16 Ou Vertaling).

Mag die liefde van Christus wat in u hart woon, u vertroos, onderskraag en die nodige krag gee deur enige gebeurlikheid.


Gebed:  Dankie Heer, vir U liefde in my hart.


~ Uit Daelikse Woord – Maart 1989 ~




Saturday, 21 June 2014





EK VAT JOU HAND


Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand.  -  Jes. 41:13


Wat ‘n pragtige belofte!   Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand.  Is daar groter trooswoorde as juis hierdie??  Kom ons luister na God se stem:

“Is daar ‘n tekort aan een of ander noodsaaklikheid in jou lewe?  Ek vat jou hand – niks sal jou ontbreek nie.

Is jy uitgeput en moeg na siel en liggaam?  Ek vat jou hand en lei jou na waters waar rus is – Ek verkwik jou siel.

Sit jy vasgevang in die diepste duisternis, moenie bang wees nie – kyk, Ek is met jou.  Ek vat jou hand.  Ek vertroos jou.  Hier is My stok en My staf, gebruik dit, en Ek sal jou uit die duisternis die lig in lei.

Is jou hart in stukke gebreek en sit jy bedroef en moedeloos langs die pad, glad nie meer lus om een tree verder te gee op jou lewenspad nie?  Kom, vat My hand.  Vir geen oomblik sal ek jou begewe of verlaat nie – Ek vat jou hand en stap saam met jou die onbekende toekoms in.  Die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag, want Ek is elke oomblik aan jou sy.  Kyk, Ek vat jou hand.”


Gebed:  Vat my hand dierbaarste Heer, en hou dit styf vas.


~ Uit Daelikse Woord ~








Griet en haar 15 Kleutertjies - Ons God is SO groot! (bietjie lank maar oor en oor die moeite werd!)

deur Nina Smit 


Tydens 'n televisieopname vir Christen-Net gesels ek met 'n vrou in Happy Valley wat elke dag na 15 kleutertjies, wie se ouderdomme van sowat nege maande tot ses jaar wissel, omsien. Sy bly in n eenkamerplakkershut, sonder 'n toilet of kombuis. Die dubbelbed in die klein vertrekkie beslaan omtrent een derde van die beskikbare ruimte.

'Griet,' wil ek by haar weet, 'wat op aarde vang jy élke dag vir twaalf uur lank met so baie kinders in so 'n klein kamertjie aan?'

Sy glimlag stralend vir my. 'O, ek kyk na hulle en ek lees vir hulle stories en ek leer hulle sing en ek is lief vir hulle.' sê sy.

'Kan hulle vir ons sing?' vra die televisieregisseur. Griet stel haar spannetjie in gelid voor die plakkershut op - sommer so tussen die wapperende wasgoed - en neem langs hulle stelling in met die twee jongstes op haar heupe. Sy sit in en hulle begin sing:

My God is so groot, so sterk en so magtig,
daar's niks wat my God nie kan doen!
Die berge maak Hy, riviere daarby,
die blommetjies, voëltjies en sonneskyn -
My God is so groot, so sterk en so maggtig,
daar's niks wat my God nie kan doen!

Die kuier by Griet het vir my weer die waarheid van die kleuters se koortjie onderstreep: die God wat ons aanbid, is groot, *so* groot en *so* magtig, dat daar heeltemal niks is wat Hy nie kan doen nie. Ons mag maar met groot vrymoedigheid op sy hulp staatmaak en oor Hom bly wees!

(Is dit nie ongelooflik wat hierdie vrou doen nie - sy laat die kinders sing van die mooiste ou blommetjies wat hulle dalk nog nie eens gesien het nie, want hul word groot tussen sinkplate en roesplekke! Ek is seker daar sal eendag 'n baie spesiale plekkie in die hemel wees, want wat SY doen vir die kindertjies wag GOD *so* liefhet, is sekerlik een van die grootste liefdesdade *ooit*!


Thursday, 19 June 2014





MY  STERKTE


God is my sterkte;  aan Hom behoort  ek vir altyd.  -  Ps 73:26


Heer van my hart, ek vat U hand!  Gee my die nodige krag vir die ure en die dag wat voorlê.  Maak my sterk, dierbaarste Heer, na gees, siel en liggaam.  Versterk my wil en versterk my moed en geloof sodat ek kan doen en wees dít wat ek in U krag kan doen en wees en moet deurgaan.

Maak my liggaam oop en ontvanklik vir die helende krag van U liefde en lig wat onverpoosd in my are vloei, en seën my met nuwe lewensenergie en krag.

Heer van my hart, gee my die krag om vas te staan in my geloof in U en U almag, en nie ontsteld te word deur die voorkoms van dinge om my nie.  Hou net my hand styf vas, Heer, dan sal nie struikel of val nie – dit wéét ek!

Heer van my hart, voorsien my vandag van ál die lig, ál die liefde en ál krag wat ek nodig mag hê om van hiérdie dag ‘n sukses-dag, ‘n Lig-dag, ‘n dag saam met U te maak!

Dierbaarste Heer – dankie dat U só naby aan my is – net een enkele gedagte, een gebed ver!


Gebed:  Ek vat U hand, Heer, besitter van heel my lewe!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 18 June 2014






WONDERLIK!


Staan stil en gee ag op die wonders van God.  -  Job 37:14 (OV)


Is dit nie wonderlik dat ons die geleentheid het om deur positiewe, liefdevolle, konstruktiewe denke en gevoel ons lewe kan omskep in ‘n aangename avontuur nie?

Is dit nie wonderlik dat ons vryheid van keuse het en boonop soveel het om van te kies nie!

Is dit nie wonderlik dat ons van ander kan verskil wat begeertes, optrede en opinie aanbetref en nogtans vir hulle kan liefhê en respekteer nie!

Is dit nie wonderlik dat daar oorgenoeg van Gods goedheid is om in ons almal se behoeftes te voorsien nie!

Is dit nie wonderlik dat niemand van ons geestelike kwaliteite van ons kan wegneem nie!

Is dit nie wonderlik dat ons kan glo soos ons wil glo nie, en wat ons glo, dit geskied!

Is dit nie wonderlik dat God liefde en volmaaktheid is en dat Sy seun in ons woon nie!

Is dit nie wonderlik om elke dag hand-aan-hand saam met Hom te stap nie!


Gebed:  Is die lewe nie wonderlik nie!


~ Uit Daelikse Woord ~