Showing posts with label BESKERMD. Show all posts
Showing posts with label BESKERMD. Show all posts

Sunday, 26 May 2013





BESKERMD


Here, U alleen laat my veilig woon.  -  Ps  4:8


God het Noag aangespoor om ‘n ark te bou om hom te beskerm teen die vloed, nog lánk voor die eerste reën begin val het.  Net soos Noag is God nog steeds daar vandag om ons betyds te lei en te beskerm teen die stortvloed van uitdagings en gevare wat ons vreedsame bestaan mag bedreig.  Ons ark is ons diepste heiligdom – die plek van gebed – die plek waar ons inskakel op die koninkryk van God deur Christus wat in ons woon.

Ons glo en bevestig dat ons nou hier, en waar ons ookal mag gaan, altyd veilig en beskermd is in die lig en liefde van ons Heer.  Hy sorg vir ons, sien na ons om, en gee selfs Sy engele bevel om ons te behoed en te bewaar op al ons weë.

Tuis of by die werk, op die snelweë of in die lug, sê ons steeds dankie vir ons Hemelse Vader se beskerming.  Ons seën ons reis, ons seën die voertuig waarmee ons op reis gaan, en sorg dat die gedagtes wat ons dink slegs lig-gedagtes is – gedagtes gevestig op die lig en liefde van ons Heer en Meester.


Gebed:  In die liefde van God is ek altyd veilig.


~ Uit Daelikse Woord ~







Tuesday, 26 February 2013





BESKERMD

Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
 Ps. 91:11

Die grootste krag is nie beperk tot die fisiese nie, nog is onwrikbare moed gegrond op ‘n helder verstand.  Die magtige krag van ‘n geestelike wese en die vaste moed van ‘n wenner is binne-in ons -  binne-in almal wat God ken.  En hierdie krag, hierdie moed, is slegs een gebed ver!

As ons dus ooit bedreig voel, of onveilig waar ons mag woon of werk, bevestig ons net:  God heers hier, en ek is veilig!  Onmiddelik skakel ons in op Sy alles oorwinnende krag, en onmiddelik reageer Hy met Sy beskermende liefde en lig.  Hy gee selfs Sy engele opdrag om ons te beskerm. Ons sien die lig, ons voel die rus wat Sy liefde bring, en ons is veilig.

Is dit nie ‘n seën om ‘n hemelse Vader te hê wat só oor ons waak nie?  Veral nou in hierdie bedreigde land van ons.  Mense sonder geloof kan voorwaar nie meer hier staande bly nie, maar dié wat glo in God en in die krag van Sy mag, hulle is die mense wat vrede gaan bring in hierdie land.  Laat ons dus ook vir ons land sê:  God is hier en ons is veilig!

Gebed:  God is hier en ek is veilig!

~ Uit Daelikse Woord ~






Thursday, 29 November 2012





BESKERMD

Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie.  -  Filip. 4:5,6

Die Here is naby ons, ons moet oor niks besorg wees nie – hóé nodig het ons nie híérdie boodskap vandag en elke dag van ons lewe nie!  Hy is só naby – Hy is binne-in ons, en as gevaar ons bedreig, keer Hy dit weg nog vóór ons selfs bewus was daarvan.  Hy sorg vir ons, waak oor ons, en bly ons Pantser van Lig waardeur niks en niemand met kwade bedoelings ons kan bereik nie.  Of ek nou werk of slaap, stap of op pad is, ek bly rustig en kalm, want ek weet Wie waak oor my!

Dankie, Vader, vir die hemelse voorreg om só veilig te kan voel en wees in U beskermende Liefde, Lig en Krag.  Saam met U wandel ek, ry ek, werk ek, en ek weet – U is die Een wat saam met my stap, saam met my ry, my eie persoonlike Wonderwag!  En ek vra U, Heer, waak ook so oor my geliefdes.  Waak oor die mense van hierdie mooi land van ons, en bring lig in die duisternis, bring insig in die denke van hulle wat aan die stuur is, en omskep ons land in die mooi, veilige land wat dit kán wees in U.

Gebed:  Die Here is naby, ek is oor niks besorg nie.  Dankie, Vader!

~ Uit Daelikse Woord ~


Saturday, 13 October 2012






BESKERMD


Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots by wie ek skuil.  -  Ps. 18:3


Dierbare Vader, hoe heerlik om so rustig en kalm te voel waar ek my ookal mag bevind, omdat ek weet, U is met my.  In U liefde vou U my toe.  U lig is soos ‘n skild om my wat deur geen duisternis oorweldig kan word nie, en in U krag staan ek vas, wat ookal die uitdaging.  Ek is altyd op die regte tyd op die regte plek, want ek wandel in U lig, en ken U op al my weë.

Moet ek op reis gaan – U reis saam met my, my troue Vriend en Medereisiger.  Of die pad nou veilig of minder veilig is, ek sal geen onheil vrees nie.

Moet ek ‘n nuwe, vreemde toekoms aandurf – ook daar is U met my, nou en vir ewig.  U is en bly my rots by wie ek skuil, my troue redder deur die ure van die dag en ook in die nag.

Hand aan hand saam met U op my lewensweg kan ek nêrens wees waar U nie is nie, en ek sal veilig en beskut in U huis bly, in lengte van dae.

Dankie, Vader, vir elke heerlike kommervrye dag saam met U.


Gebed:  U Heer, is my Herder, en ek is veilig.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 15 September 2012





BESKERMD


Die Here dink aan ons.  -  Ps  115:12


Wat ‘n mooi idee om ons dag mee te begin -  Die Here dink aan ons -  en as Hy aan ons dink, is ons mos beskermd.  Vandag gaan ek, sodra ek onveilig voel, sodra ek onseker of bang voel, vir myself sê:  My Heer dink aan my, en weet, wat ek eintlik sê is dit – My Heer is mét my!

Of ek êrens heen op pad is, of tuis bly - My Heer is mét my.  Hy vou my toe in Sy liefde.  Hoe heerlik om so veilig te voel in hierdie land van ons wat so onveilig is.  Hoe heerlik om te weet Hy is steeds aan my sy - My Heer dink aan my!

Ook vir my vriende, familie en geliefdes, ja, ook hulle wat vir my onbekend is en tog saam met my hierdie land bewoon – vir elkeen bid ek:  In Gods liefde is julle veilig!

Hoe diep my dank vir hierdie grootse liefde wat my Vader op my uitstort.  En vanaand wanneer ek my dag afsluit met die gedagte - My Heer dink aan my- Hy is met my,- raak ek sonder kommer aan die slaap, ontspanne in die wete dat ek veilig in Sy troue sorg is!


Gebed:  My Here dink aan my, Hy is met my!  Baie dankie dierbare Vader.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 25 April 2012





BESKERMD


Want U, Here, is my toevlug.  Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.  Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;  want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.  Ps. 91:9-11  (OV)


Ek weet U is met my Heer, waar ek ookal mag woon of werk of ry – U is altyd daar.  Nooit kan ek wees waar U nie is nie, en geen onheil sal my tref nie.

Soms is ek geneig om bekommerd te raak – soms voel ek onveilig, maar dan dink ek net aan U, en omdat U so na aan my is – net een gedagte, een gebed ver – kom daar rus in my gemoed.  ‘n Diep hemelse rus wat vrede bring, en waar vrede heers, verdwyn alle stres en kommer, en liefde neem weer oor.  Positief en goedgesind benader ek my naaste, en geen onheil kan my tref nie.

Dankie, Heer, vir die voorreg om U te ken soos ons U ken, want hoe anders sal ons staande kon bly in hierdie gevaarlike wêreld waarin ons vandag leef -  hoe sou ons nog die skone en die mooie kon geniet?  Maar nou weet ons – U is nog in bevel, en alles is wel.  Dankie dat ons so saam kan bid, Heer.  Dankie vir U engele altyd daar vir ons, en vir ons geliefdes.


Gebed:  Die Allerhoogste is my beskutting.


~ Uit Daelikse Woord ~