Showing posts with label Innerlike Vrede. Show all posts
Showing posts with label Innerlike Vrede. Show all posts

Thursday, 21 January 2016

Innerlike Vrede








Innerlike Vrede


Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o Here, alleen laat my in veiligheid woon. - PS. 4:9 (OV)


Wie van ons is daar wat nie graag in vrede wil gaan lê en meteens aan die slaap raak nie? Soms lyk dit so onbereikbaar, en tog - daar is 'n antwoord. Die antwoord? "Ons Heer," sê die teks. Dis Hy wat ons in veiligheid laat woon - dis Sy liefde in ons hart wat ons laat ontspan en rus vind, en ons die rustige, vreedsame mense maak wat ons so graag wil wees.

Diep in ons diepste heiligdom van krag sal ons Hom vind, en in die stilte van ons gebede sal sy lig ons denke verlig - sy liefde sal ons hart binnevloei, en sy krag sal ons omskep in sterk dinamiese mense, wie se gemoedrus deur niks en niemand versteur kan word nie.

Alles om ons is op die oog af *so* deurmekaar. Ons lewens, ons land, ons wêreld, alles word bedreig, maar as ons vroeg in die oggend ons hand in die hand van ons Heer plaas, as ons laat in die aand met 'n stille dankgebed gaan slaap, veilig toegevou in sy liefde, sal ons "in vrede kan gaan lê en meteens aan die slaap raak.".


Gebed: Ek rus in die vrede van GOD in my en om my.



~ Daelikse Woord ~







Monday, 14 September 2015

Innerlike Vrede








INNERLIKE  VREDE


Vrede laat  Ek vir julle na;  My vrede gee Ek vir julle.  -  Joh. 12:27


Dierbare Heer van my hart, tot Ú wend ek my vir vrede in my gemoed.  Ek bring na U toe ál my gejaagde, dwalende gedagtes, en word stil in U líéfdevolle teenwoordigheid.  U vrede wat álle verstand te bowe gaan, vloei my hart binne, en ek kóm tot rus.  Hoe héérlik die vrede wat net Ú kan gee.  Dit vloei in en deur my héle wese, en herinner my opnuut daaraan hóé na aan U ek wérklik is.

Op die vleuels van Ú vrede word ek deur al die aktiwiteite van hierdie dag gedra, en níks kan die rus en vrede wat nét U kan gee, versteur nie.

U hémelse vrede bring harmonie in my liggaam – harmonie wat genésing bring.  Nêrens is daar énige wrywing of disharmonie nie,  en ek is héél, want ek is een met u onéíndige Gees van vrede.

Ek deel hierdie vrede met ál wat leef.  Waar U vréde ookal nodig is, géé ek my seën van vrede, en ek weet U díép, blywende vrede is daar om álles reg te maak en álle disharmonie tot niet te maak.


Gebed:  Dánkie, Vader, vir die vréde wat nét U kan gee.




~ Uit Daelikse Woord aangepas ~





  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!






mamma333  @  gmail.com

Saturday, 15 February 2014





INNERLIKE  VREDE


Die Gees wat ons ontvang het, is ... die Gees wat van God kom, en daardeur weet ons wat God ons uit genade geskenk het.  -  1 Kor. 2:12


As ons ons gedagtes laat vashaak aan een of ander probleem, raak ons gespanne en uit harmonie.  In die poging om ons eie of andere se lewens te reël, kan ons vasgevang word in  “as-net”  gedagtes:  “As omstandighede maar net wil verander ... As alles maar net gebeur soos beplan is ... As mense maar net wil doen wat ons wil hê hulle moet doen.”

Ons lewens kan egter harmonieus en rustig wees as ons gereeld ons diepste heiligdom van krag biddend nader, en Christus toelaat om in en deur ons te dink en te doen.  Sy diep innerlike vrede sal vrede bring ook in ons gemoed.

As enige probleem dus opduik, sal ons nie daaroor tob nie.  Ons sal ons onmiddellik tot Hom wend.  Ons sal ons harte oopmaak vir Sy omvouende liefde, en vrede sal oorneem en ons gedagtes stil.


Gebed:  Dankie Heer, vir U vrede in my gemoed.


~ Uit Daelikse Woord ~








Tuesday, 17 September 2013

INNERLIKE VREDE





Gaan gerus!   Die Here is by julle op julle reis.  – Rigt. 18:6

Luister ................. kan jy die lied van die lewe hoor? 
Kyk ...................... sien jy Gods lig in jou en om jou?
Voel .................... jy Sy vrede en rus diep in jou wese?
Gaan in vrede, want waar jy ookal is, daar is God!

Sy stem word gedra deur die fluistering van die wind deur die bome, deur die strelende stem van ‘n geliefde, deur die rus en vrede wat jy ondervind in jou stil tye van gebed, diep in jou diepste heiligdom.  As jy ‘n behoefte het aan vrede en rus kan jy dit vind, want God is orals teenwoordig.   Ook daar waar jy is, is Hy gereed om jou in Sy liefde te omvou en met Sy vrede te vul.

God is orals teenwoordig.  Sy lewenskrag pols in jou en deur jou – in en deur alles wat bestaan – ‘n Krag baie groter en sterker as wat die mens al ooit kon skep.  ‘n Hemelse krag wat elke planeet en ster in ‘n ordelike patroon laat beweeg, en selfs die kleinste plantjie laat groei.

Ook vir jóú is Hy áltyd daar – Sy Gees is ín jou, en jy hoef nóóit alleen of eensaam te voel nie.  Strek jou hand uit, Hy sál dit styf vashou!

Gebed:  Vat my hand, Heer, bly by my!

~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 13 December 2012






INNERLIKE  VREDE


Ek het jou nog altyd liefgehad.  -  Jer.  31:3


Hoe heerlik die wete dat God my liefhet, ‘n ewigdurende liefde sonder einde.  Hoe diep die rus en vrede wat my siel binnevloei as ek hierdie liefde my eie maak.  Oor en oor herhaal ek die woorde:

God het my lief.   So dikwels herhaal ek dit, dat die diepe betekenis  daarvan begin deurdring in my gedagtes, en die vrede en diepe rus wat hierdie woorde teweegbring in my hart en in my siel, kan nie deur enige persoon of ondervinding aan my gegee word nie.

God het my lief.   My lewe is vol en bedrywig, maar die vrede in my hart is soos ‘n kussing tussen my en al die stampe en stote wat ek in die loop van die dag mag ervaar.

God het my lief.   Ek is Sy geliefde kind, ‘n deel van hierdie wêreld wat Hy geskep het, deel van die orde wat heers oor heel Sy skepping.  Hy, die een krag en die een mag in die heelal, sien ook om na my, Sy mensekind, omdat Hy my liefhet.

God het my lief.   Hoe meer ek hierdie waarheid my eie maak, hoe dieper word my dank, en hoe groter die vrede in my gemoed.  Vir ‘n liefde só groots en só onvoorwaardelik – dankie, baie dankie, Dierbare Hemelvader!


Gebed:  God het my lief!


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 10 December 2012





INNERLIKE VREDE

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Matt.  11:28

Kom na My toe, My geliefde kind, en hier, diep in Gods koninkryk binne-in jou waar Ek my intrek geneem het, sal Ek jou die rus en vrede gee wat alle verstand te bowe gaan.

Die rus wat Ek jou gee kan die aarde jou nie gee nie – veral nie in hierdie tyd so uiters wisselvallig en gevaarlik nie.  Nee, die rus wat Ek jou gee is die rus van ‘n siel wat My gevind het, en dit is jy.  ‘n Siel wat gló in My, en dit is jy!

Neem net My hand, en Ek sal My lig helder laat skyn op jou pad.  Nie net dít nie – Ek sal elke tree saam met jou stap – Ek sal jou lei en rig en beskerm elke tree van die weg wat jy moet gaan.

Na waters waar rus is sal ek jou heen lei, en by hierdie waters sal Ek jou siel verkwik in My liefde so oneindig groot vir jou.  Rus en vrede sal jou gemoed binnevloei en géén angs en spanning sal staande bly in My lig en liefde nie.

Gaan nou in vrede en hou goei moed, want Ek het die wêreld klaar oorwin.  Kom, neem nou My hand – Ek wag.

Gebed:  Ek neem U hand, dankie, dankie dierbare Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 18 July 2012





INNERLIKE  VREDE


Ek het jou nog altyd liefgehad.  -  Jer. 31:3


Hoe kyk ek na myself?  Sien ek my as gebonde en vol gebreke – swakker as wat ek behoort te wees?  As ek egter ‘n poging aanwend om my te sien soos God my sien – Sy geliefde kind, veilig beskermd teen omstandighede of gebeure, vul ‘n diep innerlike vrede my gemoed.

God het my lief net soos ek is.  Ek mag van dag tot dag groei en verander, ek mag faal en struikel, maar Sy liefde vir my staan vas – nou en vir ewig!

Dis ‘n liefde wat ons as mense nie kan peil of meet nie.  So diep en standvastig is dit, dat ek nooit verlore of eensaam voel nie.  Al gaan ek deur ‘n dal van diepste duisternis, God is met my – Hy vertroos en versterk my, en bring rus en diep innerlike vrede vir my moeë siel.

Niemand staan my by in my uur van krisis soos God my bystaan nie.  Hy het my lief – Hy glo ek kan.  Selfs wanneer ek alle geloof in myself en my eie vermoëns verloor het, is Sy liefde nog daar, Sy lig skyn nog en Sy krag hef my weer op.  Op die wieke van Sy liefde bereik ek nuwe hoogtes van vervulling.


Gebed:  Gods liefde bring vrede in my hart en gemoed.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 21 June 2012





INNERLIKE VREDE


By God is alle dinge moontlik.  -  Mark. 10:27 OV


Watter sleutel sluit die deur tot algehele vrede oop?  Jesus het ons die antwoord en ook die sleutel hiervoor en vir talle ander heerlike hemelse skatte gegee toe Hy gesê het. “By God is alle dinge moontlik.”

As ek hierdie waarheid my eie maak, sal daar vrede kom in my gemoed en in my hart, ‘n vrede gebaseer op Sy grootse liefde vir my, en met vreugde sal ek uitroep:  “Dankie Vader, dat u my so vry maak van alle kommer en sorge – dankie dat ek in U lig, liefde en krag enige situasie met vertroue kan benader.  Dankie dat ek een is met U – een met U vrede en liefde.”

Ek ken Hom op al my weë, en vergeet vir geen oomblik hoe na aan my Heer ek werklik is nie.  In Sy grootse liefde lei Hy my, rig Hy my en onderskraag Hy my, maak my gesond en verkwik Hy my siel.  Hoe diep my dank en hoe groot die vrede in my hart as ek my Heer ken op al my weë!

Aan u Heer al my lof en dank vir die diep innerlike vrede wat ek net by U kan vind, omdat ek weet – by U is alle dinge moontlik!


Gebed:  By God is alle dinge moontlik!


~ Uit Daelikse Woord ~







Tuesday, 18 October 2011



INNERLIKE  VREDE


Om U wil te doen, my God, is my begeerte, U woord is my hele lewe.  Ps. 40:9


Heer van my hart, weet U wat dit vir my beteken om so met U te kan praat hier in die stilte van my binnekamer. Die rus en vrede wat my gemoed binnevloei so saam met  U, ken geen perke nie.  Dis ‘n diepe rus en vrede wat nie in woorde beskryf kan word nie, dis ‘n rus en vrede waarvoor nie met woorde dankie gesê kan word nie.

Ek praat met U, en U luister na wat ek vir U wil vertel.  Al my kommer en sorge, al my vrese, my geliefdes en alles wat my aangaan, kan ek hier aan U oorhandig, en U neem oor.  En wanneer ek klaar met u gepraat het, Heer,  is U nog steeds daar. Wanneer ek klaar oorhandig het, vul U elke leë plekkie met U liefde – ‘n liefde wat my siel laat sing en my hart jubel.

U was met my Heer, in wat ookal my te beurt geval het in my lewe, en net so sal U ook met my wees vorentoe.  Wat is daar nog om voor bang te wees? Sag en liefderik vou U my toe in U liefde – ‘n liefde wat heel en vertroos, dit bied U my.

Dankie Heer, vir hierdie hemelse plek van stilte waar U altyd op my wag – waar U altyd my hand vat en my sorge in U lig toevou.


Gebed:  U woord Heer, is my hele lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~