Sunday, 6 November 2011



VOORSPOED


In alles wat hy onderneem het … het hy met sy hele hart gevra na die wil van God, en daarom was hy voorspoedig.  – 2 Kron. 31:21


Christus woon in my hart, en as ek Hom ken in alles wat my aangaan, en Sy leiding volg op elke gebied van my lewe, sal Hy my ‘n wenner maak.

Gedagtes aan gebrek, gedagtes wat sê ek kan nie, enigiets wat my inperk en aan bande lê, is soos onkruid en soos onkruid roei ek dit uit.  Slegs die lig, die liefde en krag van God groei in die altaar wat my hart is.

God het my lief en Hy sorg vir my.  Nuwe weë tot voorsiening gaan voor my oop.

God het my lief en lei my.  Hy voorsien my van die nodige insig, wysheid en goeie oordeel.

God het my lief en help my om nuwe talente te ontwikkel en om my vaardighede op lonende maniere te benut.  Nuwe idees inspireer my tot verdere optrede.

God het my lief en maak my voorspoedig.  Liefdevol lei Hy my op die pad wat strek tot my hoogste heil, en sonder die geringste twyfel of vrees volg en soek ek Sy wil in alles wat my aangaan.


Gebed:  Laat U wil geskied, Heer.


~ Uit Daelikse Woord ~





Saturday, 5 November 2011



NUWE DEURE


Die oue is verby, die nuwe het gekom.  – 2 Kor. 5:17


Nuwe deure gaan oop in my lewe.  “Dankie Vader!”  Vandag is ‘n nuwe dag.  Die deur na gister is reeds gesluit, en die deur na môre is nog nie oop nie. Vandag is die dag wat die Here gemaak het, tot oorlopens toe gevul met seëninge.

Nuwe deure gaan oop in my gemoed.  Ek sluit die deur na herinneringe aan dit wat seergemaak het, of verlore geleenthede.  Die deur tot nuwe inspirasie staan oop, en dit lok my uit tot ‘n nuwe begin en nuwe vreugdes.

Nuwe deure gaan oop in my hart.  Met entoesiasme reageer ek op die mense in my lewe.  Ek voel nie meer alleen of afgesonder nie, want die liefde in my hart open die deur tot nuwe vriendskappe en geleenthede om te deel.

Nuwe deure gaan oop in my sake en belange.  Ek sien die lewe as ‘n avontuur, gevul met interessante aktiwiteite en uitdagende geleenthede.  Entoesiasties en vol verwagting gaan ek die lewe tegemoet!


Gebed:  Dankie Heer, vir die nuwe deure wat voor my oopgaan.


~ Uit Daelikse Woord ~






VERGEWE


Toe sê Jesus: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”  - Luk. 23:34


Kyk net na die teks hier bo en dink aan die omstandighede waaronder Jesus kon vergewe. Sal ons kan?

Eintlik is dit ‘n baie hard werk om iemand nie te vergewe vir ‘n onreg ons aangedoen nie, want met ons wrewel en onvergenoegdheid bou ons ‘n muur tussen ons en die liefde van ons Heer, totdat dit haas onmoontlik word om te vergewe.  Sy liefde in ons harte is soos ‘n suiwer rivier van helende water, en elke gedagte van blaam is soos ‘n swaar klip wat ons aandra om die muur tussen ons en hierdie hemelse liefde al hoe hoër te bou.  Hoe uitputtend is so ‘n werk nie!

Maar daar is ‘n ander opsie.  Ons kan daardie suiwerende liefdestroom deur ons hart laat vloei.  As ons dit in alle opregtheid doen, sal die wrewel en seer wegvloei, liefde en vrede sal ons hart binnevloei, en soos Jesus, kan ons ook vergewe.

Dankie, Heer van my hart, vir U liefde wat my hart weer die suiwer, skoon kanaal gemaak het wat kan vergewe en vergeet, hoe groot die onreg ookal was.


Gebed:  Vader, dankie vir U liefde waarmee ek kan vergewe.


~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 3 November 2011


DRYFKRAG


Laat daar Lig wees! – Gen. 1:3


Heer van my hart, laat daar Lig wees in my denke, in my hart en in my dade, lig wat my die krag gee om op te staan en te wees wat ek is in U.

Wees U die dryfkrag in my denke, sodat ek U lig-gedagtes wat in my brein posvat, en omskep word in lig-idees, met moed en durf kan toepas in my lewe.

Wees U die dryfkrag in my hart, sodat ek die liefde wat U is in my hart, kan uitleef teenoor my medemens in wat ek doen en wat ek sê.

Wees U die dryfkrag in my dade, sodat ek nie moedeloos tou opgooi wanneer dinge te lank sloer nie, maar aanhou met aanhou, oortuig daarvan dat dit wat ek doen, deur U geïnspireer word, en deur U beplan word.

Met U dryfkrag agter my, kan en sal ek in U lig, die wenner wees wat U so nodig het op hierdie aarde – die Ligmens wees wat U so nodig het om U lig, U liefde en U krag deel te maak van alles en almal wat leef op hierdie aarde.


Gebed:  Laat daar Lig wees!


~ Uit Daelikse Woord ~






DANKIE  VADER


Dank Hom, prys sy Naam.  -  Ps. 100:4


Hoe mooi hierdie dag!  Hoe wonderlik sal dit nie wees as almal in die wêreld vandag saam met ons God kan loof en dank vir hierdie wonder-mooi dag nie! Maar ons wat hierdie stukkie lees kan!

“Dankie, Vader, vir hierdie wonder-wêreld wat ons ons tuiste is!  Dankie vir die lug wat ons kan inasem, vir die son wat die dag so helder verlig, en vir die maan wat lig bring in die nag.  Dankie vir die vrolike melodie van die voëls, dankie vir al die plante wat vol nuwe groei is en alles om ons so mooi maak.  Vir die orde wat heers in U wêreld – al sien ons dit nie altyd raak nie, loof en dank ons U!

“Dankie, Vader, vir familie en vriende wat ons lewens soveel voller en ryker maak.  Seën elkeen van hulle, en seën ook die vreemdeling wat saam met ons hierdie aarde bewoon.  Laat U liefde en lig wat alles deurstraal, ook vir die mens lig bring en liefde, wat vrede tot gevolg het.

“Dankie Vader, vir U liefde vir ons, U mensekinders.  Maak ons hierdie grootse liefde van U waardig, Heer, in dit wat ons sê, en in dit wat ons doen.”


Gebed:  Dankie, Vader, vir U liefde vir ons!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 1 November 2011


GENADE


Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 
Joh. 1:16


Hoe hard ons ookal mag probeer, ons mag iets doen wat gladnie voldoen aan ons hoë ideale en drome nie.  Of, sodra ons voel nou kom ons darem êrens, mag ons net daar weer struikel en val.

Maar deur dit alles heen bly God so goed vir ons!  In Sy genade gee Hy aan ons die nodige moed en durf, die nodige energie om ons deur te dra.  Saggies vou Hy ons toe in Sy genade en liefde – vang Hy ons die oomblik wanneer ons begin struikel.

Genade is Gods liefde in aksie.  Dit is die sekere wete dat God ons liefhet net soos ons is.  Dis die omgee en die liefde wat ons elke dag van ‘n skoon bladsy voorsien waarop ons opnuut kan begin.  Dit is die voorsiening wat in al ons behoeftes voorsien.

Gods genade vloei deur die mense wat ons liefhet, en ook deur hulle wat ons nie liefhet nie – deur die situasies en omstandighede wat lyk asof dit tot seën is, of nie vir ons tot seën is nie.  Gods genade is altyd daar vir ons, en soms kry ons ‘n kykie in die grootsheid van Sy liefde vir ons!  Wat ‘n wonderlike gesig!


Gebed:  Dankie, Heer, vir U liefde en genade.


~ Uit Daelikse Woord ~




LIEFDE


Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
- 1 Kor. 13:4-7 OV


Watter soort gedagtes koester ek as ek dit oorweeg om meer harmonie in my lewe in te bring?  Het ek al ooit in moedeloosheid uitgeroep, “Ag, as ek hom maar net kon verander!” of, “As sy maar net na my raad wil luister!”

Maar as ek met volle aandag na hierdie versugtinge van my kyk, sien ek dat dit alles te doen het met hoe ek die ander persoon kan verander, in plaas daarvan om te wonder wat  ék  kan doen.  As ek myself die middelpunt maak waarom my hoop en verlange na meer harmonie tussen my en andere draai, begin wondere in my en om my gebeur – vrede vul my hart en geduld my gemoed.  Die tye wat ek nou met hulle deel, word aangenaam en opbouend van aard, omdat  ék  vriendelik is en wys dat ek omgee.

As ek uit die hemelse liefde in my hart begin gee dit wat ek het en kan gee, soos gelei en gerig deur Hom wat in my woon, maak harmonie en vrede hul tuiste in my hart en in my samesyn met andere. Ek leef Gods liefde uit, en nooi andere om my voorbeeld te volg.

Gebed: Geduldig en vriendelik, skep ek liefde om my.


~ Uit Daelikse Woord ~