Wednesday, 14 December 2011




GODS LIEFDE IN AKSIE


Hy is soos ‘n boom wat by ‘n waterstroom geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra, en waarvan die blare nie verdroog nie.  – Ps. 1:3


Dit sal nogal interessant wees om na ‘n video van my lewe te kyk.  Is my drome en ideale bewaarheid?  Was ek suksesvol in die projekte wat ek aangepak het, of in my werk? Was ek ooit tot seën van my medemens – het ek ooit iets van waarde gegee?

Maar daar is nie so ‘n video nie, en nooit sal ek weet watter invloed ek op die lewens van andere gehad het nie.  Ek kan net hoop dat dit deurgaans positief en opheffend van aard was, veral vandat ek Gods pad van lig my lewenspad gemaak het.  Hierdie pad is ‘n opheffende pad, dis ‘n vrolike, positiewe pad, ‘n pad van liefde en deernis teenoor andere.  En ek het darem seker kinders en volwassenes aangemoedig om in hulself en hul eie vermoëns te glo – altans, ek hoop so!

En mag die saadjies van Gods liefde wat ek so in menseharte om my saai, groei en gedy en op die regte tyd vrugte dra, want dan was my lewe nie nutteloos nie.


Gebed:  Ek dra Gods liefde oor aan andere so ver ek gaan.


~ Uit Daelikse Woord ~







GODS  LIG


In U lig sien ons die lig.  – Ps. 36:10  OV


Here, ek bid vir U lig en inspirasie want dit is in die helder strale van U lig wat my lewe betekenis en rigting kry.  Dit is in die glans van U lig wat ek die Christusweg voor my sien ontvou – waar my soms weifelende voetstappe die uitnodiging ontvang om U leiding te volg.

Here, ek weet dat U lig ewig skyn en ‘n gloed uitstraal wat deur niks uitgedoof kan word nie.  Dit maak nie saak hoe groot die duisternis van my menslike hart en verstand is nie, ek vertrou op U hemelse lig.

Ek laat nou U lig deur my skyn.  Ek weet dat dit nie in my mag is om die vlam aan te steek nie maar ek weet wel dat in in my mag is om die pit van die kers deur middel van my gedagtes in so ‘n toestand te hou dat U lig vir altyd helder deur die vensters van my hart en siel en lewe kan skyn.

Here, ek vertrou op U lig in my.  Ek is verlig, geïnspireerd en seker van my rigting.


Gebed:  In U lig Heer, sien ek die lig.


~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday, 13 December 2011



DIE WONDER


Dit weet ek:  God is aan my kant. – Ps. 56:10


En nou kom die grootste wonder van alle wonders – na die groot beproewing waardeur ons Heer en Meester ons gedra het, na die wonder van ons opstanding waarna Hy ons weer op ons voete geplaas het – na dit alles, is ons nooit weer dieselfde nie.

Dis nie die seer wat ons so verander het nie – want dan sou ons met ‘n wrok rondgeloop het.

Dis nie die teleurstelling wat ons so verander het nie – want dan sou ons weer dieselfde paadjie geloop het.  Nee, dis so oneindig meer!  Dis die opstanding wat Jesus so graag wil sien in ons!

Sy liefde neem oor in ons hart, en ons word deernisvolle mense – Barmhartige Samaritane.  Sterk en kragtig in Sy krag wat nou ook ons krag is, en ons kan opstaan en ons man staan voor die grootste uitdagings heen!

Dit is Hy wat lewe in ons en deur ons omdat ons Hom toegelaat het om oor te neem diep in ons hart. En weer ken ons dank geen perke nie!


Gebed:  Dankie Skepper God dat U aan my kant is!


~ Uit Daelikse Woord ~


Monday, 12 December 2011





HARMONIE


Alle dinge is moontlik vir die een wat glo.  –  Mark. 9:23  OV


Daar is seker nie een van ons wat nog nie agtergekom het dat almal en alles om ons onaangenaam en sommer deurmekaar raak wanneer ons diep ontsteld is oor iets nie.  Gelukkig is die teenoorgestelde ook waar!

As ons kalm en rustig is, tevrede met onsself en die wêreld om ons, raak alles en almal om ons ook rustig en tevrede, maar is dit enigsins moontlik om die twee bymekaar te bring?  Is dit moontlik vir ons om kalm en rustig te bly, ongeag die vreesaanjaende nuusberigte, die tweestryd en dreigende oorloë tussen verskillende groepe en volkere, kan ons nog kalm en rustig bly?  Uit ons eie sal ons dit nooit regkry nie, maar vir die een wat glo, is alle dinge moontlik.  Met God, kan alles!

Ons glo!  O Heer, ons glo!  Ons glo in U liefde in ons harte – ons glo dat ons hierdie liefde ons eie kan maak en dit kan uitleef teenoor ons naaste.  Ons glo in ons vermoë om dinge in ons eie lewens en in die wêreld om ons te verander, solank ons saam bid en vas staan in U lig, U liefde en krag.


Gebed:  Ek glo Heer, en ek kan!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 11 December 2011





EK WAARDEER JOU AS VRIENDIN



HARTSGESKENKE deur Helen Steiner Rice…en aangepas vir elkeen!



DIS NIE DIE DINGE WAT ONS KOOP WAT ONS VERRYK EN VERBLY NIE

MAAR WEL DIE “GESKENKIES VAN DIE HART” DEUR GELD NIE TE VERKRY NIE.


‘N GLIMLAG BLY, ‘N WOORDJIE SAG, ‘N HOOFKNIK STIL EN TEER,

IS ALLES KLEIN GESKENKIES UIT DIE SKATKIS VAN ONS HEER.




DIS DINGE WAT ONS NIE KAN KOOP NIE, WANT DIS ONMOONTLIK OM

MET GELD OF GOUD – BEDAGSAAMHEID EN LIEFDE TE BEKOM!


DIS LEWENSSKATTE WAT ONS NOOIT MET GELD TE KOOP KAN KRY

EN RYKLIK IS DIE LOON VAN HUL WAT DIT SO MILD VERSPREI.




IN ‘N WERELD VOL VAN SORGE VOEL MENS DANKBAAR EN BLY

VIR VRIENDINNE WAT NOG HULLE TYD AAN LIEFDESDIENS TOEWY…


HULLE WAT NOG GLO DAT DEUR LIEFDE TE BETOON

HULLE VIR JESUS CHRISTUS EER WAT IN HULLE HARTE WOON.



MY VRIENDINNE…JULLE IS ALTYD GEREED OM MET WOORDE, DADE EN KRAG

‘N HAND VAN LIEFDE UIT TE STEEK…NA IEMAND WAT DAARNA SMAG!


EK WAARDEER JULLE ELKEEN WAT DIE HEMELPAD SAAM MET MY LOOP

MAG OOK JULLE DIESELFDE VAN MY ERVAAR…EN OOK ALTYD STEEDS BLY 

HOOP!



OP ‘N BLYE, NUWE MORE…VOL GELEENTHEDE OM MEKAAR TE RESPEKTEER


MEKAAR LIEF TE HE, TE BEMOEDIG EN OOK MEKAAR INSPIREER…


OM NUWE HOOGTES AAN TE DURF…LIEF TE HE…EN ELKE DAG PROBEER


OM NOG MEER TE GROEI IN VRIENDSKAP…VERAL MET


Jesus, ons Heer!







DANKIE!


Wees in alles dankbaar. – Tess. 5:18 OV


Sê dankie, dankie, dankie!  As iemand ons deur die dag seergemaak het, wat onthou ons? Die belediging – die seer?  Tob ons daaroor en kry ons onsself al hoe meer en meer jammer?  Dan het ons skoon vergeet wat Jesus se opdrag was omtrent die seer wat ons saam met ons rond dra – die seer wat uiteindelik ‘n wrok word.  En in plaas van nog ‘n geleentheid om op te staan en voort te wandel in die lig van ons Heer en Meester, sit ons vas met ‘n wrok-ketting om ons enkels… Of gaan ons sommer gou iets daaromtrent doen – voor ons sit met ‘n wrok wat al hoe moeiliker is om van ontslae te raak? Maar hoe?

Ons kyk daarna met die oë van ons siel, en ons sien dit wat met ons gebeur as lesse wat ons steeds voorwaarts en opwaarts lei op ons lewenspad, en stadig maar seker sal die seer verdwyn en plek maak vir ‘n innige  dankbaarheid  uit die diepste dieptes van ons hart! Ja, ons dankbaarheid ken geen perke nie!


Gebed:  Dankie, dankie, dankie, Heer van my hart!


~ Uit Daelikse Woord !


Saturday, 10 December 2011





CHRISTUS IN ONS


Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens.  2 Kor. 5:17


Wie is dit wat van ons nuwe mense maak?  Ons eie inwonende Christus-self natuurlik, Hy wat ons in staat stel om op te staan en te wees die wonder wat Hy is in ons!  Nie meer bang en huiwerig om iets nuut aan te pak nie – sy lig verhelder ons brein, reguleer ons gedagtes en bring planne in ons doen en late wat soms selfs vir ons verstommend is!

As dit nie die geval is nie, en ons ploeter nog voort met allerhande vreesgedagtes en twyfel in die krag van God in Aksie in ons – ons eie Christus-self – dan het dit nou tyd geword om ons brein vas te vat, want dit is ons brein wat ons kort-kort laat tou opgooi met vreesgedagtes en twyfel, omdat ons nog nie alles kan sien met die oë van ons siel nie.  Wat nou?!

Moenie bang word nie – daar is ‘n oplossing!  Ons sou nie tot hier gekom het as die oplossing nie daar was nie!  En die oplossing?  Ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee!  Hoe groot hierdie wonder – hoe innig en opreg ons dankie, dankie, dankie, vandag!


Gebed:  Ek is en bly ‘n nuwe mens!


~ Uit Daelikse Woord ~