Tuesday, 20 December 2011





TROOS


Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.  – Jos. 1:9


Moedeloos en hartseer, mag ek my hande uitstrek na familie en vriende vir hulp en vertroosting.  Maar dit wat ek nodig het, is moontlik baie meer as dit wat hulle my kan gee.

Hierdie wete ontmoedig my egter gladnie, want ek weet waar ek al die troos en aanmoediging wat ek ooit mag nodig hê sal vind, naamlik in die spesiale plekkie diep in my hart.

Dit is hier waar die beste Vriend wat enige mens ooit kan hê, getrou en geduldig op my wag – dit is hier waar ek ‘n sielsgesprek met Hom kan voer, en seker daarvan kan wees dat Hy my hoor, dat Hy my sal antwoord en sal onderskraag in Sy liefde en lig.  In Sy hemelse liefde ontspan ek.  Ek weet Hy het my lief, Hy waardeer my, en so vind ek rus vir my gemoed.

My Heer is altyd met my.  Hy is my getroue metgesel, Hy vertroos my, lei my en is en bly altyd my heel beste Vriend, oral waar ek mag gaan.


Gebed:  U Heer, is my heel beste vriend.


~ Uit Daelikse Woord ~






LIG


God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie. – 1 Joh. 1:5


Wat gebeur met die duisternis as ons ‘n lig in ‘n donker kamer aanskakel?  Dit verdwyn.  Duistere vorms en skaduwees word heeltemal omskep tot die gewone as die lig daarop val.

Net so neem onsekerheid en vrees die wyk as ek Gods lig van begrip daarop laat skyn.  Diep in my wese skyn hierdie hemelse lig baie, baie helder.  Dit laat alle kommer, alle onsekerhedid, verdwyn, en werp ‘n helder baan van lig voor my uit wat ek met oorgawe en vreugde volg.

Hierdie hemelse lig laat my seëninge raaksien wat tot op hede nog vir my verborge was.  Hoe waardeer ek nie hierdie helder lig in my lewe en op my pad nie!  As ek ooit verlore voel, as ek deur die dal van duisternis gaan, as ek huiwer oor wat my te doen staan, bid ek tot my Vader wat in die hemel is, wat die lig aanskakel.  Dit skyn in my en om my, en vol moed en met ‘n lied in my hart, gaan ek vrolik voort op my hemelse pad van lig.


Gebed:  God is Lig!


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 19 December 2011





VANDAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  -  Ps.  118:24


Hoe mooi hierdie dag!  ‘n Heerlike, stralende dag, tot oorlopens toe gevul met seëninge van Bo, vir my, en vir alles en almal wat hierdie mooi dag met my deel.

Vry en bly betree ek hierdie wonderskone dag, en ek laat nie toe dat enigiets of enigiemand verhoed dat ek hierdie dag en alles wat dit bied, ten volle geniet nie!

Ek sit gedagtes van môre of gister, volgende week of volgende jaar opsy, en geniet hierdie dag wat God spesiaal uit sy liefde aan my geskenk het.  Met nuwe oë kyk ek na alles wat goed, mooi en inspirerend is in my lewe, en saggies sê ek, Dankie, Vader!  Ek sien die tappiserie van my lewe geweef met goue drade so wondermooi, en bring hulde aan die Meester skepper en onwerper.

Drade van liefde, lewe, vrede en vreugde is inmekaargeweef, om die skone kunswerk wat my lewe is, daar te stel.  Mag die glans van hierdie wonder-drade deur my skyn, en hierdie dag net so mooi en vol maak vir andere soos wat dit is vir my!


Gebed:  Ek juig en is bly oor hierdie mooi dag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 18 December 2011





‘N NUWE MENS


Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  – 2 Kor. 5:17


Hoe meer ek die waarheid dat Christus in my woon, my eie maak, hoe meer besef ek dat daar geen perke is aan wat ek kan bereik in Sy krag en liefde nie.  Hoe meer ek Hom nader in gebed, hoe helderder skyn Sy lig in my lewe.

Vrede en harmonie heers in my hart.  Hierdie vrede en harmonie waarvan my hart so vol is, kan gesien word as wysheid, gesondheid en lewensvreugde.  Ek word waarlik ‘n nuwe mens, wedergebore in Christus wat in my en deur my lewe.

Vir geen oomblik laat ek my gedagtes toe om af te dwaal van hierdie grootse waarheid nie.  Ek leef nie alleen nie, ek leef saam met die Heer van my hart.  Ek waag om dapper te wees, ek waag om liefdevol te wees, ek waag om te glo in die goedheid van my medemens – ek waag om te leef soos dit ‘n volwasse kind van God betaam om te leef – soos iemand vir wie die oue verby is – iemand wat ‘n nuwe mens is!


Gebed:  Ek behoort aan Christus en is ‘n nuwe mens!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 16 December 2011





TER NAGEDAGTENIS AAN ONS VOORVADERS


Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen,
 
dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, 

ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring, 

en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, 
en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. 

Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.


Die 1838 gelofte soos deur die digter W.E.G.Louw in Afrikaans vertaal. Die gelofte was die eerste keer op 9 Desember 1838 afgelê en elke aand herhaal tot 15 Desember 1838



(Hoe 'n ryke geskiedenis het ons net nie - laat ons dit nooit 

vergeet nie, maar oordra aan ons kinders en kleinkinders - 

vir ewig!)





VERSOENINGSDAG


Die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds.
 – 1 Joh. 2:8


Die duisternis is aan die verbygaan – is dit nie ‘n wonderlike belofte vir ons wat vandag hierdie stukkie lees nie?  Al is die wolk wat oor ons hang nóg hoe donker, al is die skares wat ons vryheid en selfs voortbestaan bedreig nóg so oorweldigend, ons kan bid en glo soos die klein klompie mense binne-in ‘n laer van waens gebid en geglo het.  Die teks sê vir ons,  “Die duisternis is aan die verbygaan.”

Miskien omdat ons bid soos hulle gebid het?  Miskien omdat ons glo soos hulle geglo het?  Ons benadering is mos dat dinge nog kan verander omdat so baie regverdiges saambid, waarom sal ons dan nie vandag opnuut ons daaraan wei om te bid vir lig vir ons land en sy inwoners nie?

Ons gebede wat opwaarts styg, breek deur die donkerste wolke en reik tot by Gods troon, vanwaar Hy wondere laat geskied.

Ons moet saam bid, ons moet die hand van vriendskap reik aan almal wat saam met ons hierdie land bewoon en vrede soek, en die duisternis sal inderdaad verbygaan.


Gebed:  Laat ons U lig sien skyn, Heer.

~ Uit Daelikse Woord ~







EK  IS


Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. – Joh. 14:6


GELIEFDE, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”  Ek sal jou na gees, siel en liggaam gesond maak.  Ek is die waarheid van jou wese.  Volmaakte lewenskrag en ewig rus en vrede, dit bied Ek jou.

Deur My lewe, beweeg en bestaan jy.  Ek is die lig wat jou lei.  Wandel in My lig en die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag.

Ek is alles wat jy is en alles wat jy kan wees.  Ek is meer as wat jy in jou wildste drome kan bedink, en aan dit wat jy kan bereik in My krag is daar geen perke nie.

Ons kan nooit  van mekaar verwyderd wees nie, want Ek is in jou en jy is in My.  Kom, stap saam met my, want hand aan hand sal ons al jou twyfel en jou vrese te bowe kom.

Deur My en in My krag kan jy alles bereik wat jy ooit gehoop het – alles waaroor jy al gedroom het.  Ek is jou vriend en jou trooster, nou en vir ewig een met jou.  Ek is Christus in jou hart.


Gebed:  Hand aan hand stap ek saam met my Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~