Sunday, 21 April 2013





Die Here sê vir jou ......................


EK SIEN JOU HARTSEER


Jesus het self gehuil by die dood van sy vriend  (Joh 11:35).  Daarom het Hy groot simpatie met jou.  Hy verstaan jou hart.  By Hom alleen is daar troos.  Hy bring berusting, en Hy droog die trane af  (Openb 21:4).










VERGEWE

Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees.   -  Ps. 51:12

Wat moet ek doen om ‘n rein, vergewende hart te bekom?  Ek vra en ek ontvang.  Ek vra vir liefde, en soveel liefde vloei my hart binne, dat ek sonder enige inspanning maklik vergewe en vergeet.  Liefde en vergifnis is nodig vir God om Sy werke deur my te doen.

‘n Hart vol liefde is vry van enige wrok of kwade gevoelens.  Vrede vul my gemoed.  Hoop, geloof en blye afwagting omskep my in ‘n stralende ligmens.  Ek is gereed, en God skep ‘n vergewende hart in my.

Hierdie vergewende, liefdevolle hart is egter nie iets wat sommer aangeskakel kan word nie.  Dit mag ‘n tydjie neem voordat ek hierdie eienskappe my eie kan maak en regkry om dit met oorgawe uit te leef.  Ek raak dus nie moedeloos as ek nie daarin slaag om onmiddellik alles en almal te vergewe nie.  Ek doen net my deel – ek lees elkde dag my Bybel en my dagstukkie, ek word stil voor die Heer van my Hart, en die vergifnis, liefde en geloof wat ek daagliks toepas en uitleef omskep my stadig maar seker in ‘n stralende Ligmens, met ‘n rein, vergewende, liefdevolle hart.

Gebed:  Skep vir my ‘n rein hart, o God.

~ Uit Daelikse Woord ~









Tien Beloftes uit Tien Gebooie

PDF
Print
E-mail

Omdat Jesus Christus die wet vir ons volkome vervul het, word die Tien Gebooie in Hom tien beloftes aan ons.


Eerste gebod:  Ek belowe jou dat, as Ek die eerste plek in jou lewe inneem, jy geen ander gode sal wil dien nie - Ek sal die eerste en ereplek in jou lewe hê.

Tweede gebod:  As ek in jou hart is, belowe Ek dat jy geen gesnede beeld van my sal maak nie. Dit sal nie nodig wees nie, want jy sal self my beeld dra.

Derde gebod:  As jy My liefhet, sê Jesus, belowe Ek jou dat my Naam nooit ‘n vloekwoord oor jou lippe sal kan wees nie, maar steeds en in alle omstandighede deur jou in ere gehou sal word.

Vierde gebod:  As Ek die ereplek in jou lewe het, belowe Ek jou dat die Sondag die hoogtepunt van die week vir jou sal wees. Dit sal vir jou ’n vreugde wees om kerk toe te gaan – nie om ’n dag om teen op te sien nie, maar om na uit te sien!

Vyfde gebod: As Ek in jou lewe is, belowe Ek vir jou dat dit vir jou ’n voorreg sal wees om jou ouers te eer en lief te hê. Dit sal vir jou nie moeilik wees nie, want agter hulle sal jy My sien wat hulle vir jou uitgekies en geleen het.

Sesde gebod: Ek belowe jou dat jy nooit iemand sal wil seermaak nie, wat nog te sê doodmaak.

Sewende gebod:  Ek belowe jou dat, as jy My liefhet, dit nie moeilik sal wees om aan jou lewensmaat getrou te wees nie. Gee My ’n plek in julle huwelik en Ek sal julle liefde vir mekaar en julle geluk in my hande bewaar en vashou.

Agtste gebod:  As Ek op die troon van jou hart sit, belowe Ek dat jy nie daarop ingestel sal wees om iets van ander te neem nie. Jy sal daagliks vra: Aan wie en waar kan ek aan ’n ander iets GEE?  Maar néém?  Nee, nooit...!

Negende gebod:  As Ek in jou lewe is, sal dit nie meer vir jou lekker wees om van ’n ander kwaad te praat nie. Ek belowe jou dat Ek deur my Gees jou ’n lojale mens sal maak wat van ander geen woord sal sê as dit nie iets goeds kan wees nie.

Tiende gebod:  Ek belowe dat Ek deur my Gees jou so sal vul met dankbaarheid dat jy niks meer sal begeer nie. Jy sal vergenoeg wees met wat jy het, met die besef dat God gee soos wat Hy dit nodig vind en as Hy gee, gee Hy altyd genoeg sodat niks jou sal ontbreek nie.


Saturday, 20 April 2013





HEER  VAN  MY  HART


U is met my, élke oomblik van élke dag.

U stok en U staf dié vertroos my - élke oomblik van élke dag.

U lei my en rig my voetstappe – élke oomblik van élke dag!

U lig skyn helder in my en rondom my  - élke oomblik van élke dag.

U liefde vul my hart en is duidelik sigbaar in die mens wat ek is - élke oomblik van élke dag.

U krag is my lewenskrag - élke oomblik van élke dag.

En ek is die lig, die liefde en die krag wat U is binne-in my  - élke oomblik van élke dag.

Élke oomblik van élke dag lewe ek vanuit die Grootse Wonder van U aanwesigheid in my, en aan my dank vir U is daar géén perke nie!

Ek dank U in die oggend as ek opstaan.

Ek dank U deur die dag.

En ek dank U in die aand wanneer alles stil word om my.

Ek dank U wanneer U my versterk.

Ek dank U wanneer U my bemoedig.

Ek dank U wanneer U die trane van my oë afvee.

En ek dank U wanneer U my dra as my bene mý nie verder kan dra nie.
In Ú lewe, beweeg en bestaan ek!

Dankie, dankie, Heer van my hart, vir Ú wat my dra élke tree van die pad!





Tuesday, 9 April 2013





DIE  REGTE  PAD

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.  -  Spr.  3:6

Het ek nou by ‘n kruispad in my lewe gekom en ek weet nie watter pad om te volg nie?   Dan wend ek my tot die opgestane Christus in my hart vir leiding en inspirasie.

Hy werk deur my as intelligensie en wysheid.  Deur Hom is ek in staat daartoe om die regte besluite te neem!  Hy werk deur my as leiding en openbaarmaking.  Ek is geïnspireer!  My hart en gemoed is oop vir Sy goddelike idees.

Christus is my innerlike wegwyser.  Ek wend my tot Hom im my stil oomblikke van gebed, en ek weet wat om te doen en hoe om dit te doen.

Géén keuse is te moeilik en geen aksieplan te onduidelik as ek op Hom staatmaak vir leiding nie.  Die weg wat ek moet volg, lê duidelik en oop voor my, want Christus sélf laat Sy lig voor my uit skyn op die weg wat ek moet volg.

Gebed:  Die Lig van Christus skyn duidelik op my pad!

~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 8 April 2013





GODS  PLAN

Ek weet wat Ek vir julle beplan het, sê die Here:  voorspoed en nie teenspoed nie;  Ek wil vir julle ‘n toekoms gee.  -  Jer  29:11

Ek weet dat Gods plan vir my goed is.  As ‘n probleem in my lewe opdoem, sien ek dit as ‘n geleentheid tot verdere groei, in plaas van ‘n probleem.

Ek mag geneig wees om my lewe in dele sien, met op en af tye.  Maar ek weet dat die patroon van my lewe geskoei is op Gods plan van goedheid vir my.

Dit is veral  belangrik om die mense en omstandighede wat my probleme gee, te seën.  As ek ‘n gewoonte daarvan maak om alles in my lewe met ‘n seën te benader, baan ek die weg vir die krag van Christus om oor te neem.  Deur elke uitdaging word ek al hoe meer bewus van Sy liefde in my en om my – van die werkinge van Sy krag in my en om my.

God het ‘n plan met my lewe, en as ek my elke dag in gebed voorberei om Hom te volg, sal Hy my lei volgens Sy plan,  Hoe bly en dankbaar maak hierdie wete my nie!

Gebed:  Lei U my Heer, volgens U goeie plan vir my.

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 4 April 2013





SKUD  DIE  SELFBEJAMMERING  AF

Lees  1 PETRUS 4:12-19

Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.   1 PET 4:13

Sommige mense maak hulleself bedroef.   Hulle kla gedurig oor hulle lot en kan alleen die tekortkominge van hulle medemens raaksien.  Die geringste probleem word buite verhouding opgeblaas en hulle kan slegs oor hulle teleurstellings, swaarkry en verspeelde kanse gesels.  So plaas hulle ook ‘n demper op almal se lewensblyheid met wie hulle ookal in aanraking kom, want terneergedruktheid word kilometers ver aangevoel.

Om hierdie slaggat te vermy, moet jy vrede maak met jouself en onthou dat jou gesindheid teenoor die lewe van die uiterste belang is.  Dit mag wees dat jy deur moeilike en donker tye gaan en dat jy voel dat jy alleen staan en dat selfs God van jou vergeet het.  As jy egter jou selfbejammering van jou afskud en vra wat God vir jou in hierdie omstandighede wil leer, sal daar vir jou ‘n lig opgaan in die donker.

Glo met oortuiging dat God ‘n plan het met jou lewe en dat alles wat oor jou kom deel van sy plan is.  Vertrou Hom elke dag, elke tree, dan sal jy ‘n gevoel van veiligheid en vrede ervaar.  So word jy ‘n medewerker van God aan jou eie geluk en loop jou lyding uit op vreugde.

Gebed:  Heilige God, al verstaan ek nie altyd u weë nie, help my om ‘n vreugdevolle mens te wees omdat ek U in gehoorsaamheid volg waar U my ook al lei.

Om elke teenslag opnuut te verdra met moet en waardigheid; om in alles die goeie te sien – dít is die wese van ‘n sterk karakter – ARISTOTELES.

~ Uit Op Vlerke van Geloof deur Solly Ozrovech ~