Wednesday, 2 October 2013

KIND VAN DIE LIG






Julle is die Lig vir die wêreld.  -  Matt.  5:14


Die Lig van God verhelder my gedagtes en my hele liggaam baat daarby.   Vanaf my brein word lig-gedagtes uitgestuur deur heel my wese, en elke atoom, elke sel, elke orgaan, word daardeur geraak, en daar waar ek nie kan sien nie, daar begin die lig te skyn, helderder en helderder.


Met hierdie wonderlig, is daar geen beperkings aan wat ek kan vermag op hierdie aarde nie, ongeag waar ek woon of werk of wat my ouderdom is, want God is my lig – Hy is in my, met my en rondom my – Hy lei my en rig my elke tree van die pad wat ek moet loop.  Ek volg hierdie lig, en hoe meer ek dit volg, hoe duideliker *sien* ek dit, en hoe meer *word* ek dit.


Elke oomblik van elke dag sal ek die lig *wees* wat ek sien, en ek onthou, geen taak is te gering voor die oë van God nie.  Om net harmonie en lig te bring in my huis, is alreeds ‘n groot en belangrike taak.  Om kinders te lei en gereed te maak vir volwassenheid, is nog ‘n groot taak.  Wat ookal my werk of verpligtinge, as ek die lig kan sien en dit kan wees, is ek ‘n volwaardige kind van die lig!


Gebed:  Ek is ‘n kind van die Lig!


~ Uit Daelikse Woord ~



KIND VAN GOD




Laat die kindertjies na My toe kom ... want die die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.  -  Luk. 18:16


Om my ware identiteit te ken, is om my te ken soos God my ken.   Ek is ‘n geliefde kind van God!


Ek is ‘n stralende kind van die lig.   Die lig skyn helder in my en om my, en voorsien my van al die wysheid wat ek ooit mag nodig hê.   Ek is wys.


Ek is ‘n vrolike kind van die lewe self.  Die lewenskrag van God pols in elke sel en atoom van my liggaam.   Ek is vol lewe!


Ek is ‘n gelowige kind van die liefde.  Intuïtief en met volle oorgawe gee ek hierdie liefde aan alles en almal om my.   Ek is liefdevol.


Ek is ‘n kind van vrede.   Die vrede van God vloei in my en deur my, en dit skep ‘n klimaat van vrede om my,  om my land en om my wêreld, dag na mooie dag.  Ek is kalm en rustig.


Wat ‘n heerlike avontuur is dit nie om myself te leer ken soos God my ken nie!  En hoe meer aandag ek hieraan in my gebede gee, hoe meer tref die waarheid van hierdie wonder my!


Gebed:  Ek is ‘n stralende kind van God!


~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday, 24 September 2013

GOD IS






Christus is in julle.  -  Kol. 1:27


God is Lig, Liefde en Krag – die drie-eenheid – dus is hy Seun, Christus, ook Lig, Liefde en Krag.  En as Christus in ons is, is ons ook Lig, Liefde en Krag.   Ware Ligwesens – ambassadeurs van God – sy hande en voete op hierdie aarde, en hoe nodig het Hy ons nie in die hierdie stukkende wêreld van Hom nie!


Hoe diep ons dank vir dit wat Hy ons in staat stel om te wees.  Ons lewe, beweeg en bestaan in Hom, en as ons Hom ken op al ons weë, en opreg is in ons strewe om te wees dit wat Hy is in ons, dan word ons omskep in Ligwesens, Liefdeswesens, Kragwesens, tot alles in staat deur Hom wat die Bron is, binne-in ons!


Om ‘n Ligwese te wees, is om ‘n intelligente wese te wees, met ‘n brein helder verlig in die lig van ons dierbare Hemelse Vader, ‘n liefdevolle wese met ‘n hart vol liefde, fier en sterk in sy krag wat ook ons krag is, getrou in ons gebede elke dag van ons lewe vir vrede.  Dankie Hemelvader, vir U lig in ons denke, wat ook ons gedagtes verlig, tot ons eie en ons wêreld se seën.


Gebed:  Ek is ‘n ware ligwese in Christus.



~ Uit Daelikse Woord ~



Saturday, 21 September 2013

LEIDING





Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees.  1 Kor. 15:49


God het die mens na Sy beeld geskape, en hierdie beeld noem ons vandag *Christus wat in ons woon – ons hoop op die heerlikheid*.  Hoe méér ons Hom ken in ons lewe, hoe duideliker sal Sy beeld gestalte aanneem in ons lewe.  In dit wat ons dink en dit wat ons voel, in dit wat ons sê en in dit wat ons doen, weerspieël ons al hoe méér die wonder van Sy teenwoordigheid in ons en ons lewe.


Oomblik na oomblik leef ons vandag in die lig van Sy liefde en krag so eie aan ons.  Ons gedagtes word omskep in liggedagtes, en liefde word die grondtoon van alles wat ons doen en sê.  Hoe heerlik om die vensters van ons harte so wyd oop te maak tot seën van ons medemens, en wat ‘n voorreg om sóveel liefdesaadjies te kan plant in ander menseharte – saadjies wat, soos ons alreeds weet, slegs *vredeblommetjies* lewer, tot seën van ons land en sy mense.


Ek sien die lig van Christus skyn in my en *jou* hart en dit lei my van stralende oomblik tot oomblik!


Gebed:  Gods Lig lei *jou* en my van oomblik tot oomblik.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 19 September 2013

PSALM 23 (OV)




Psalm  23







1'n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.

2Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

3Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

4Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.



Die Goeie Herder is Christus wat in jou woon.




Die Goeie Herder is Christus wat in jou woon .........................

Aanvaar Sy krag en liefde en gebruik dit in jou lewe.  Die Herder is áltyd in jou aan die werk, en Sy belofte aan jou is nou die volgende:  “Ek gee hulle (ons) die ewige lewe, en hulle (ons) sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle (ons) uit My hand ruk nie.  My Vader wat hulle (ons) aan My gegee het, is groter as almal;  en niemand kan hulle (ons) uit die hand van my Vader ruk nie.  Ek en die Vader is een”  (Joh. 10:28-30)

Ja, liewe vriend of vriendin, jy is nooit alleen nie!  Die Goeie Herder is nie net altyd bý jou, besig om jou stap vir stap te lei nie.  Hy leef ook ín jou as die teenwoordigheid, die lig, die liefde en die krag van God.  Die Heer van jou hart is ‘n inwonende, rigtinggewende Self.  Niks sal jou ooit onbreek nie – gló dit, áánvaar dit, en wéét Hy sorg vir jou, vandag, more en tot in ewigheid.  By Hom is jy veilig!

Deur hierdie Heilige Gees wat in jou woon, het jy die krag om te aanvaar, te ontvang, te lewe, asem te haal, te werk en álles te wees wat jy graag wil wees.  Dit is ‘n opdrag wat jy van jou Vader ontvang het deur die lewe, die werk en lesse van Jesus Christus, Sy seun!  Gaan uit in lof en danksegging, want jy is een met die Goeie Herder!

Die Herder lei jou na groen weivelde en na waters waar rus en vredevolle stilte is.  Die Herder heel jou en lei jou op Sy spore van geregtigheid.  Hy verkwik jou siel met liefde, en is jou stok en jou staf deur die moeilikste omstandighede.

Ja, liewe vriend, bevestig:  “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie”, en wéét,  “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;   en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae”         (Ps. 23:6).



~ Mary Kupferle ~
Uit Daelikse Woord

Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie.





Begin deur saggies jouself te sê: "Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie" (Ps 23:1). Laat dit soos 'n sagte briesie wees wat jou vul met nuwe vrede, rus en vertroue."


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Laat hierdie woorde vir jou ‘n stille herinnering wees dat Christus binne-in u woon en nou besig is met Sy helende werk in jou.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Voel hoe hierdie woorde elke sel, senu, spier en orgaan van jou liggaam binnedring met ‘n boodskap van rus en verlossing.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Onthou dit, en jy sal geen gebrek hê aan die nodige lig en krag om die mikpunte wat jy vir jouself gestel het, te bereik nie.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Wees verseker dat jy geen gebek sal hê aan die nodige wysheid en insig om jou lewe gelukkig en suksesvol te maak nie.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Glo dit, en jy sal geen gebrek hê aan geloof en krag nie, of aan die nodige ondersteuning en bemoediging in jou huis, besigheid, of met familie en vriende nie.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie."  Vertrou hierdie woorde en jy sal nooit enige gebrek hê  aan die mooi dinge in die lewe nie, want met jou geestelike visie sal alles vir jou mooi wees, en die regte vriende sal op die regte tye in jou lewe kom en dit verryk.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Jy kan gerus wees daarin dat jy geen gebrek sal hê aan die bevryding van ou gewoontes wat vrees en twyfel omtrent jou eie vermoëns in jou laat ontstaan het nie.


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Voel gerus met die wete dat jy géén gebrek sal hê aan vryheid om jou lewe mooi en ordelik te laat verloop nie.  Jy sal ook geen gebrek hê aan enigiets goed en mooi nie. Elke oomblik sal die Herder se beloftes na jou toe kom, “Ek is die goeie herder” (Joh. 10:11).  “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê”  (Joh. 10:10 OV)


“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Hierdie  bevestiging maak jou hart en siel oop.  Christus word jou onfeilbare metgesel op jou pad van lig.  “Hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit”  (Joh. 10:3).  “Hy (loop) voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken”  (Joh. 10:4), is ook woorde van gerusstelling vir jou.  Jy sal al hoe meer bewus word van Sy helende krag (liggaamlik of geestelik) in jou lewe – jy sal wéét dat Hy in élke uitdaging aan jou sy is!

“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”  Laat hierdie woorde ‘n vastrapplek kry in jou gedagtes en jou hele gedagtepatroon oorheers.  Laat die inherente krag opgesluit in hierdie woorde so posvat in jou gedagtewêreld, dat hulle ‘n spontane reaksie by jou uitlok op alles wat jy gedurende die loop van elke dag mag ervaar.  Dit is woorde hierdie wat jou al hoe meer sal laat besef dat jy wáárlik ‘n kind van God is.


~ Mary Kupferle ~
Uit Daelikse Woord