Friday, 8 August 2014





TROOS


Die ewige  God is ‘n skuilplek;  sy arms is altyd onder jou.  -  Deut. 33:27


Dankie, dierbare Heer van my hart, vir U oneindige groot liefde wat altyd gereed is om my te beskerm, te vertroos en te lei.

Al gaan ek deur die diepste duisternis, U liefde is my stok en my staf.  Dit breek deur die donkerste wolk, hef my op, lei en rig my totdat ek weer in staat is om die lig te kan sien en kan voortgaan op my lewenspad.

En as ek troosteloos gaan sit langs die pad, té moeg en moedeloos om ‘n enkele tree verder te gee, is dit U wat laag afbuk en my hande teer vat, Heer.  En as ek net nie meer verder kan nie, tel U my op in u kragtige Vaderarms en dra U my, en nie voor ek in U krag, opgehef en vertroos in U liefde, weer in staat is om my voetspore langs dié van U in die sand te laat nie, sal U my neersit nie.

En as my hart in skerwe aan my voete lê, gebroke omdat ek iemand wat vir my baie na aan die hart is, verloor het, dan is dit U wat die stukkies optel en met die salf van U helende liefde die wonde heel en weer rus en vrede en moed bring waar alles so donker was.


Gebed:  Dankie Heer, vir U wonderwerkende liefde ook vir my.


~ Uit Daelikse Woord ~








HELING


Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel.  -  Jes. 58:8


Is jy siek en vol pyn?  Moenie bekommerd wees nie – word net stil en neem die hand van die Heer wat in jou woon en die lig sal vir jou deurbreek.  Nie soos die rooidag nie, maar soos ‘n stralende goue lig wat  jou hele wese helder verlig, en heling bring na gees, siel en liggaam.

Maak toe jou oë en sê vir jouself: “Ek is ‘n stralende energieke Ligwese in ‘n stralende gesonde liggaam.  En as my liggaam nog nie hierdie hemelse waarheid weerspieël nie, dan doen ek nou ‘n beroep op my eie inwonende Christus Gees om oor te neem.”

Diep in die hart van die atoom, begin die lig stadig maar seker al hoe helderder skyn.  Helder die Lig in my diepste wese, helder die Lig in elke sel en orgaan, en enigiets wat dreig om die lig te versper, smelt net weg en verdwyn in hierdie stralende verblindende lig!  My liggaam word omskep in ‘n gesonde tuiste vir die Ligwese wat ek is!  Ek sien dit!  En ek glo dit opreg met my hele wese!


Gebed:  Die Lig breek vir my deur en ek is gesond, ek glo dit met ‘n passie met my hele wese!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 19 July 2014





HART VOL LIEFDE


God is baie goed ... vir dié wat rein van hart is. - Ps 73:1


'n Hart vol liefde is 'n vrolike hart, 'n harmonieuse hart. 'n Hart vol liefde is 'n hart wat vrede gevind het, 'n hart in staat tot diepe vreugde en vervulling. 'n Hart vol liefde voed die liggaam, maak gesond en gee krag. 

In my gebede dink ek aan Gods onvoorwaardelike liefde vir heel Sy skepping - ook vir my. Ek maak my hart oop vir Sy liefde om dit te vul - tot oorlopens toe. Dit vloei in en deur my hele liggaam, en elke sel, orgaan en spier word daardeur nuut en skoon gemaak.

Ek maak die vensters van my hart wawyd oop, en hierdie hemelse liefde waarvan dit so vol is, vloei ook om my, om elkeen met wie ek in aanraking kom, te seën met God se ewige, kosbare en reine liefde.

Liefde bring vrede, en die vrede wat die liefde in my hart om my skep, is soos helende salf op elke rustelose siel. Gemoedere word kalmer, samewerking is moontlik, waar liefde heers. En vredeblommetjies kom in oorvloed op, omdat so baie mense geseën word met die liefde in my hart.


Gebed: My hart is vol liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 17 July 2014





HELING


Weet julle nie dat julle die tempel van God is nie en dat die Gees van God in julle woon nie?  -  1 Kor. 3:16


Dink net!  Hierdie liggaam waarin ek woon, is ‘n tempel van God, en Christus woon in al sy glorie binne-in hierdie tempel.

Onder die invloed van sy hemelse liefde, werk al my selle, organe, spiere, en my hele senuweestelsel, in volmaakte harmonie saam om my liggaam gesond en sterk te maak.

Gods lewenskrag pols in my hart en vloei in my are, en die lig wat dit in my liggaam versprei, suiwer, hernu, herbou en voed elke sel.  Al hoe helderder skyn dit in my en deur my, werp alles uit wat nie van  Sy lig is nie, totdat daar niks oorbly wat die glans van hierdie stralende lig kan verdof nie.

Dit is ‘n verkwikkende, lewegewende stroom van energie wat my sterk en gesond maak, met genoeg energie om te doen dit wat ek moet doen om hierdie aarde ‘n beter plek te maak vir alles en almal wat daarop woon.  Dit is sy lig, liefde en krag wat immer in en deur my werk en straal, wat hierdie liggaam omskep in ‘n stralende tempel van God.


Gebed:  Gods, lewenskrag pols in my hart en vloei in my are.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 10 July 2014





VOL  LEWE


Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.  -  Joh. 8:12


Christus in my is krag.  Christus in my is kennis.  Christus in my is lewe.  Ek wend my tot die opgestane Christus in my vir lewe, leiding en krag.

Die krag van Sy gees het ‘n invloed op my lewe en op die mense en gebeure in my wêreld.  Die vrede van Christus vul my gemoed.  Die liefde van Christus vul my hart.  Die lewe van Christus vul my liggaam met nuwe energie.  Ek is gesond, liefdevol, sterk en vry.

Ek kan suksesvol wees in enigiets wat ek aanpak as ek Hom toelaat om in en deur my te werk.  Te alle tye, onder alle omstandighede, kan ek op my eie inwonende Christus staatmaak.  Deur my gebede elke dag beklemtoon ek my geloof in Christus.

Die Gees van die opgestane Christus omvou my wêreld.  My lewe is vol en ryk.


Gebed:  Die opgestane Christus heers in my wêreld.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 5 July 2014





VERLORE  SEUN


Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer!  -  Luk. 15:24


Soos die verlore seun was ek – moeg en moedeloos en haas gebroke deur die stryd so groot.  Die aanslae het my op my knieë gehad, en as dit nie was vir U stok en U staf nie, sou ek seker gebroke langs die pad bly lê het.  Maar toe kom U stok en U staf tot my redding.  Deur die diepste duisternis heen het ek geen onheil gevrees nie, want U stok en U staf was net altyd daar vir my.

En toe kom ek by U huis, moeg en vuil en moedeloos, vol wonde, en daar staan U vir my en wag!

Here, het U al die tyd geweet ek is op pad?  Was U al die tyd aan my sy om my ongesiens by te staan en te beskerm?

Huiwerig staan ek voor die deur – so vuil en bevlek, en ek wonder – wat nou?  Maar toe kyk U na my, en U oë vertel my hoe diep en hemels U liefde is.  U arms is wyd oop om my te verwelkom, en met trane in my oë stap ek binne-in U omhelsing in, binne-in U huis waar ek nou in lengte van dae kan bly!


Gebed:  Heer, vergewe my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 1 July 2014





STAAN OP EN LOOP


Wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe.  -  Joh. 3:21


Staan op en loop, het Jesus vir die verlamde man gesê, en hy het!  Staan op en loop kom sy woorde nog net so helder en duidelik tot ons daar waar ons moeg en moedeloos langs die pad bly sit.

Die waarheid is – Hy sal nooit vir ons sê ons moet opstaan en loop as ons dit nie kan doen nie!  Hy is altyd daar vir ons – selfs bereid om ons te dra indien nodig.

Die waarheid is – in sy krag kán ons opstaan en loop.  Sy krag is ‘n krag van oorwinning wat ons oor elke struikelblok help, ongeag hoe groot die uitdaging, hoe siek of moeg of hartseer of teleurgestel of bekommerd of frustreerd of wat ons ookal mag wees.

En as ons dan opstaan en loop, is dit sy lig wat ons pad omskep in ‘n baan van lig.  Met die oë van ons siel sal ons daardie Lig sien, en ons sal daarin wandel van oorwinning tot oorwinning, met al die krag wat ons nodig het vrylik tot ons beskikking.  Met ‘n brein helder  verlig, met ‘n liefde wat alles vergewe, met ‘n krag wat tot alles in staat is binne-in ons, staan ons op en loop ons!


Gebed:  Vandag staan ek op en ek loop!


~ Uit Daelikse Woord ~