Sunday, 6 September 2015

Gebed






GEBED


‘n Mens moet gelowig bid en nie twyfel nie.  -  Jak. 1:6


Geloof wanneer ons bid, is die antwoord, ánders is jy soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word ... sê Jakobus verder.

Sóms, as ons gebid het, en álles in ons vermoë gedoen het om omstandighede te verbeter, maar dit lyk asof daar niks gebeur nie, begin ons wonder of ons gebed óóit beantwoord gaan word, en onmíddellik is ons die hulpelose brander in die see!

Dán het dit tyd geword om vás te staan in ons geloof.  Om te wéét, toe ons gebid het, hét die krag van God oorgeneem, ál kan ons nie sy werke sien nie.  Om só te glo, dat ons die geringste vrees of twyfel ónmiddellik kan vervang met ‘n líéd van dank, kán ons seker daarvan wees dat dinge sál verander – Gods werke kan nóóit faal nie.

Ons bid, en wag gedúldig op die vólmaakte werk van Sý wonder-werkende Lig, Liefde en Krag en élke keer wanneer ons dit síén, is ons geloof so ‘n bietjie sterker.


Gebed:  U werke, Heer, faal nóóit, en ek sê dankie, dankie dierbaarste Heer!



~ Uit Daelikse Woord ~



  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!





poppieoosthuizen  @  gmail.com




Friday, 4 September 2015

Vat my hand Heer






VAT  MY  HAND  HEER



U vat my aan die hand.  U lei my met U raad.  -  Ps. 73:23-24



Dánkie dierbaarste Heer, vir U lewe, en Ú teenwoordigheid in mý lewe.  U is die béste vriend wat ek óóít kan hê – my vertróúeling, my léíer, my bóésemvriend.

Soos ‘n ságte briesie wat oor my spoel, só voel ek U ónvoorwaardelike liefde vir mý.  Ek kyk na my geliefdes, en ‘n hémelse vreugde vul my siel want ek wéét Ú sien na hulle om, soos U ook na mý omsien.

Aan U gróótsheid bring ek my lof en eer – my héle lewe wy ek aan U, Héér van my hart.  Élke dag, élke uur leef ek vanuit  Ú liefde waarvan my hart só vol is, en waarvan ek in óórvloed met my medemens kan deel.  Ú Heer, is ín my, en ek is ‘n déél van U.

U is my Álfa en my Ómega – my begin en my einde.  U is álles vir my – my Verlósser en Míddelaar, deur wie ek Gods kóninkryk kan betree.

Kóm, vat my hand, Heer, en laat my vir geen óómblik vergeet hóé ná aan U ek wérklik is nie.



Gebed: Vat my hand, Heer, en blý by my!



~ Uit Daelikse Woord aangepas ~





  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!






poppieoosthuizen  @  gmail.com

Thursday, 3 September 2015

TROOS






TROOS


Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos.  -  Jes. 66:13


Die tipe vertroosting waarna ek smag, mag die verligting van fisiese of emosionele pyn wees, óf bemoediging en leiding om een of ander doelwit  wat ek voor oë het, aan te pak.

En nét soos ek my snoesig teen die koue in ‘n warm kombers toewikkel, so wikkel ek my toe in die líéfde van God – liefde wat vertróósting bring vir ‘n diep smart – liefde wat sê:  “Ek verstáán my kind!” en “Jy kán!”  ‘n Liefdevolle Vaderstem wat sê:  “Al kán jy my nié sien nie, is ek net daar digbý jou – jy kan op my stéún want ek sal jou nie vir ‘n óómblik alleen laat nie.”

Híérdie soort liefde, híérdie soort aanmoediging, sal ek áltyd vind as ek my wend tot my dierbare hemelse Vader wat bínne-in my woon.  Hý wat só goed verstaan wat my behoeftes is.  Rústig en stil by my Heer, word ek sággies toegevou in ‘n liefde wat níé met woorde beskryf kan word nie.

‘n Wárm gloed van liefde en vrede vloei vanuit my diepste wese tot by die pieke van my denke, en alle séér, alle twýfel en vrése, word verswelg in hierdie hémelse gloed.  Toegewikkel in Sý grootse liefde, *ís* ek vertroos!


Gebed:  Ú Heer, vertróós en lei my.  Dánkie, dánkie liefste Heer!



~ Uit Daelikse Woord aangepas ~



  :  Koningsdogters vir Jesus Page @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!







poppieoosthuizen  @  gmail.com


Ek is net 'n vonkie lig






Ek is net ‘n vonkie lig, maak my ‘n vuur Here!

Ek is net ‘n snaar, maak my ‘n viool.

Ek is net ‘n druppel Here, maak my ‘n fontein.

Ek is net ‘n molshoop, maak my ‘n berg.

Ek is net ‘n veertjie, maak my ‘n vlerk.

Ek is net ‘n bedelaar, Here, maar

U maak my ‘n Koningskind!




  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!





poppieoosthuizen  @  gmail.com

Wednesday, 2 September 2015

Geestelike Groei






Geestelike groei
(Jeug Dagstukkie)


Lees:  Hebreërs 5:11-14


Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het júlle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig.  -  Heb. 5:12


Christene moet  geestelik groei en sterker word.  As jy nié in jou geloof groei nie, is dit nodig om weer die grondwaarhede van die Bybel onder oë te neem.  Daar is 6 dinge wat onmísbaar is vir geestelike groei:


Gebed, God se Woord, geloof, getuienis, gehoorsaamheid en gemeenskap met ander Christene.


As jy geestelik wil groei moet jy elke dag met God praat en na Hom luister.   Bestudeer jou Bybel elke dag.  Gebruik ‘n Bybelstudiegids of ‘n Bybelse dagboek om jou te help.  Glo dat God jou liefhet, jou sonde vergewe en elke dag vir jou sorg.  Vertel vir jou vriende wat God vir jou beteken.  Jy hoef nie op hulle af te storm met die Bybel onder jou arm nie.  Plak ‘n Christelike plakker op jou tas of sit traktaatjies in die kleedkamer.  Doen wat die Bybel van jou vra sodat jou vriende aan jóú lewe kan sien dat jy anders is.  Doen Bybelstudie saam met jou Christenvriende, bid saam met hulle en gaan saam JKJA of ACSV toe.


Here, dankie dat ek geestelik kan groei en U elke dag liewer kan kry.  Dankie vir gebed, vir my Bybel, vir geloof, getuienis en Christenvriende.


As ek geestelik wil groei, moet ek bid, my Bybel
lees, getuig, gehoorsaam wees, glo en
Christenvriende hê.



~ Nina Smit ~




  :  Jesus se Dogterkind @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

poppieoosthuizen  @  gmail.com

Ouderdom 1






Ouderdom 1



Wanneer ‘n mens jonk en vol ideale is, is die lewe ‘n avontuur.  Dit voel asof niks jou kan stuit nie en jy tot alles in staat is.  Dit is eers wanneer ‘n ongeluk jou oorval of wanneer jy ouer word dat jy besef hoe broos, swak en verganklik jy is, en hoe nietig jou aardsewoning is.


Die lewe staan nie stil nie en veranderings vereis soms pynlike aanpassings.  Een van die moeilikste aanpassings om te maak, is om ‘n veranderde wêreld te aanvaar waarin jou kring van bekendes en geliefdes al hoe kleiner word.  Die vaste waardes waarmee jy groot geword het, het verdwyn.  Die lewe is nie meer so ordelik en geborge as vroeër nie.  Die rekenaar het ‘n nuwe taal en verskuifde gesigeinders geskep.  Jy voel soms magteloos, bedreig en onveilig. 


Maar ...



Jesus Christus in gister en vandag dieselfde
en tot in ewigheid.
(Hebreërs 13:8)



Solly Ozrovech  :  My Vreugde in God




  :  Bejaardes @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!

poppieoosthuizen  @  gmail.com

Gebed om Skuiling by God te vind






Gebed om skuiling by God te vind


(Aangepas uit ‘n gebed van Sarah Jane Wessels in Die Groot Gebedeboek)



Here,

U Woord sê vir ons dat kwesbares vir U kosbaar is.

Baie dankie dat ek ook nou by U kan pleit

soos die psalmdigter in Psalm 71:9:

“Moet my tog nie verwerp

nou dat ek oud geword het nie,

moet my tog nie alleen laat nou dat

my kragte ingegee het nie.”

My kop rus teen u bors en

ek hoor u hart vir my warm klop.

Ek voel u ewige arms styf om my sluit, en

ek hoor U belowe om my nooit, nooit alleen te los nie.

Gee aan my die verdraagsaamheid om

aan te pas by die lewe van vandag en

om vas te hou aan die waarhede wat nooit verander nie: 

geloof, hoop en liefde

- en bó alles - aan Ú.



Amen



Solly Ozrovech  :  My Vreugde in God



  :  Dierbre Jesus @ Facebook
Aan God die drie-enige, alleen die eer!





poppieoosthuizen  @  gmail.com