Wednesday, 12 September 2012





‘N  UITWEG


Die weg van God is volmaak.  -  2 Sam. 22:31  OV


Dit is wat ek vir myself sê en wat ek glo, wanneer  dit lyk asof daar geen uitweg is vir my probleme nie:  “Daar ís ‘n uitweg!”  

In plaas daarvan om na al die redes te dink, waarom iets onmoontlik lyk en moedeloos en verslane te voel, herinner ek my daaraan:  “Daar ís ‘n uitweg!”   En dan dáárna bepaal ek my tot dít wat ek in ‘n gees van moed en vertroue móét  doen.

In die gees kan ek blymoedig voortgaan, want ek weet dat God met my is;  dat Sy lig my lei;  dat Sy liefde my ondersteun en Sy krag my beskerm.  Sy teenwoordigheid omvou en versterk my!

Ek laat vaar alle bekommernis en twyfel in Sy troue Vaderhande en is vreesloos en vol vertroue.

Dit maak nie saak wat die behoefte of probleem is nie, daar is ‘n oplossing –  moontlik nie die een wat ekself in gedagte het nie, maar wel die regte oplossing in Gods plan vir ons volgens Sy wil, wat vir ons ten goede sal uitwerk, want ons kan net sien tot by die eerste draai in die pad, maar God ken ons hele lewenspad vorentoe.

Daar is ‘n uitweg in Gods liefde en lig!  Hand aan hand met God, is daar altyd ‘n uitweg!


Gebed:  Daar is ‘n uitweg!  Bly by my Heer!  By U is ek veilig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 11 September 2012





HELING


Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees, sê die Here. – Jer. 30:17


Heer, in gebed nader ek nou U troon van genade, en besef opnuut hoe na aan U ek werklik is.  My gedagtes en my woorde rig ek tot U, o God, en my liggaam reageer op die werke van U helende krag wat nou in en deur my straal.

In U Heer, lewe ek.  U lewe is my lewe – dit wat my laat lewe en asemhaal.  Diep in my wese raak ek die bron van U lewensenergie aan – U lig skyn in en deur elke sel en atoom van hierdie liggaam,  U liefde skep harmonie in die werkinge van hierdie liggaam, en U krag is die krag wat my keer op keer laat opstaan en loop, hernu na gees, siel en liggaam.

Elke dag sonder ek tyd af vir gebed – ek maak dit deel van my daaglikse lewenspatroon.  Hierdie gebed van my neem verskillende vorms aan – dit kan net ‘n gedagte wees wat my herinner aan U teenwoordigheid in my, dit kan in woorde gesê word, of net ‘n blye afwagting op ‘n seën wees.

Heer, my bede is vandag dat ek nie een oomblik mag vergeet van U liefde, lig en krag so vrylik tot my beskikking nie.  Help my Heer, om dit te gebruik.


Gebed:  U lewe Heer, is my krag en my sterkte!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 10 September 2012




Photo:  Courtesy of  Jenifer Bunnett
LIG


Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.  -  Joh. 8:12


Soos die blare van ‘n plant reik na die lig van die son, so reik ons na die lig van Christus wat diep in ons wese blom.  Soos die son die wêreld om ons verlig, so verlig Hy ons innerlike wêreld, en as ons Hom volg, en hierdie lig ons eie maak, sal ons nooit in die duisternis lewe nie, maar die lig hê wat lewe gee.  Wat ‘n heerlike belofte opgesluit in hierdie teks!

In tye van duisternis, in tye waarin groot eise aan ons gestel word, in tye van droefheid of smart, mag dit vir ‘n wyle voel asof alles om ons donker geword het, maar niks kan hierdie lig uitwis nie.  Dit skyn steeds helder in ons.  Soos die saadjie wat ontkiem en groei, sal dit deur die donkerste wolk breek, en ons vul met nuwe lewe en krag.  Dit verhelder ons verstand, seën ons met lig-gedagtes, en maak ons sterk en gesond.

In hierdie stralende Christus-lig leef ons, wandel ons en groei ons.  Dankie, Vader!


Gebed:  In U lig, Heer, leef ek en wandel ek.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 9 September 2012






DANKIE,  VADER


Wees altyd bly.  Bid gedurig.  Wees in alle omstandighede dankbaar.
1 Tess. 5:16-18


“Heer van my hart, ek is miskien nie daartoe in staat om my gedagtes en gevoelens in digterlike woorde van lof en dank uit te druk nie maar my hart is vol lof en waardering.  Ek weet dat my eenvoudige  “Dankie, Vader”,  U bereik, en dat U sal verstaan dat dit gevul is met my waardering vir die skoonheid van hierdie môre, en die mense wat my dag sal vul.  My  “Dankie, Vader”  vertel ook vir U van die waardering wat ek het vir die liggaam waarin ek lewe, vir al die wonderlike dinge wat dit vir my doen en my toelaat om te doen.

Terwyl ek  “Dankie, Vader” sê, wel daar in my hart ‘n gevoel op wat nie maklik is om te beskryf nie.  Ek onthou ou klein dingetjies waarvoor ek dankbaar is.  Ek onthou die viooltjies van verlede lente, ‘n kerskaartjie van ‘n vriend wat ek gedink het my al vergeet het, ‘n kind wat sy vriendskap aangebied het.

Dis maar ‘n paar van die gedagtes in my oorvol hart terwyl ek my na U wend in lof en waardering, Heer van my Hart.”


Gebed:  Dankie, Vader!


~ Uit Daelikse Woord ~


Saturday, 8 September 2012






Angus Buchan - 'n gebed vir ons land!!!

AS ONS NIE BID NIE GAAN NIEMAND ONS HELP NIE. NET GOD KAN SUID-AFRIKA, EN ONS HELP!
GEBEDSAKSIE (DIT SAL NET 10 SEKONDES NEEM)

Kom ons begin met 'n gebedsaksie vir ons land.
Ons doen dit soos volg:


*Wanneer jy hierdie bbm ontvang,

*Bid sommer net daar waar jy nou sit...

*Nadat jy gebid het, stuur jy hierdie bbm asseblief aan.


BID SAAM:


Ons Hemelse Vader, ons bid vir berou + bekering. Vader ons

bid vir vergifnis van ons sonde.

Ons bid dat U die mense se geestelike oe + ore sal

oopmaak.

Ons bid dat U die mense in Suid-Afrika genadig sal wees +

sal seen.

Ons DANK U vir reen wat reeds geval het + bid dat U

genoeg reen sal stuur na plekke wat smag daarna.

Ook dat U alle onskuldige Suid-Afrikaners sal beskerm teen 

al die geweld. En dat daar 'n positiewe verandering in Suid-

Afrika sal plaasvind..

Ons bid dit in die Naam van JESUS, ons Koning.







LAAT LOS LAAT GOD


Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. – Kol. 1:27


Weet u dat daar binne-in u ‘n krag skuil wat onoorkomelik is?  Niks kan hierdie krag oorwin of aan bande lê nie.  Dit is die krag van u eie inwonende Christus.

Nou, op hierdie oomblik, wag die krag van Christus om deur u gebruik te word.  U hoef nie te spartel en te spook om alles reg te laat uitwerk nie.  Die bron wat binne-in u is, stel u in staat om ‘n wenner te wees in die lewe.  Nader Hom net in gebed, gee die leisels van u lewe oor in Sy bekwame hande, glo dat Hy in beheer is van alles wat u aangaan, volg die leiding soos Hy dit aan u stap vir stap openbaar, laat los en laat Hom toe om oor te neem.

Probleme verdwyn in die niet as u Sy liefde, lig en krag deur en om u laat skyn en werk.  ‘n Heerlike gevoel van vryheid en blydskap sal u hart binnevloei – so asof ‘n gewig van u skouers afgerol het.

As u laat los en God laat oorneem, moet u net onthou dat die krag van Christus wat nou in u en deur u werk, van u ‘n wenner maak.


Gebed:  Ek laat los en laat God oorneem!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 6 September 2012





VRY


Van nou af laat Ek julle nuwe dinge hoor.  –  Jes.  48:6


Die wonde en die seer van gister is weg en die griewe van die verlede is verban.  My gedagtes is verhewe, my gevoelens is genees en net liefde heers in my hart.  Vandag is nuut en ek is nuut.  Ek is vry, vry, vry, gelukkig en vol vrede!

Ek kyk met liefde en waardering na die mense in my lewe.  Ek herberg geen kritiek of veroordeling nie.  Daar wel ‘n nuwe gees van liefde en vergifnis en begrip in my op en ek vergewe en vergeet die foute van die verlede.  Vandag is ‘n dag van harmonie en vrede, ‘n dag om te seën en tot seën te wees.

Gister se geloof in siekte, gebrek en ongelukkigheid vorm nie vandag deel van my gedagtes nie.  Vandag reageer ek op ‘n positiewe manier op die uitdagings van die lewe.  Ek verheug my in die besef dat ek nie aan enigiets negatief gebonde is nie.  Vandag is ‘n nuwe dag, ‘n nuwe begin.  Ek is ‘n nuwe ek!  Ek is bly om te lewe!


Gebed:  Dagsê nuwe dag!   Dagsê nuwe ek!   Ek is bly om te lewe!  Baie dankie Dierbare Here!


~ Uit Daelikse Woord ~