Saturday, 19 April 2014





MY  LIEFSTE  KIND


Ek het jou by jou naam geroep;  jy is Myne!  -  Jes 43:1


My liefste kind, as jy maar weet hóé waardeer ek net nie jou toewyding en samewerking nie!  Jy is Mýne, Ek het jou op jou náám geroep, en jy het gehoor en geluister, en nóóit sal jy en al jou Ligvriende besef wát julle in hierdie oorgangstyd vir My, en ja, ook vir ons wêreld beteken nie!

Ek is *ín* jou, en jy is *ín* My.  Al sláág jy nie altyd daarin om My te vind nie.  Ek sal jou nóóit ooit faal nie.  Al is jou geloof in Mý nóg só klein, My geloof in jóú wankel nóóit nie, want ... Ek kén jou, en Ek het jóú, so baie lief!!

Besef jy hóé kosbaar jy wérklik is??   Daar is níémand wat hier waar jy nou woon en werk dít kan gee wat jý het om te gee nie!  Jy is uniek en daar is nie nog iemand soos jy nie!!  Ek is besig om déúr jou te werk, ál herken jy nie áltyd My werke nie.  Ek is besig om jou te lei, ál verstaan jy nie altyd My weë nie.

Soms raak jy só besig dat jy nie My fluistering hoor nie, en tóg, as jy My toelaat, spreek Ek deur jóú stem  -  en werk Ek deur jóú hande.  My liefste kind, Ek is hier – áltyd net hier, digby jou!  Onthou, jy is Mýne, nóú en vir ewig!


Gebed:  Roep my, Dierbaarste Heer, ek wíl en sál altyd antwoord!


~ Uit Daelikse Woord ~






GOEIE VRYDAG


Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.  -  Fil. 4:13 (OV)


Jesus het voor die grootste vernedering ooit, daar in Getsemane vir God gevra of die beker nie maar by Hom kon verbygaan nie.  Die mens in Hom het gesidder!   Maar toe kom ‘n engel om Hom by te staan en uiteindelik kon Hy sê:  “Laat nogtans nie My wil nie maar U wil geskied.”

En deur die marteling, deur die vernedering en beledigings heen, het Hy sy man gestaan, stil en sonder om Homself hoegenaamd te verdedig.

Gekruisig is Hy – dit was die doodstraf vir die misdadigers van daardie tyd – en Hy kon nog sê:  “Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie! “

En daar gebeur die grootste wonderwerk van alle tye *tot nou toe!*   Hy was menslik gesproke dood – sy bloed is gestort op hierdie aarde!   Hy is in ‘n graf weggebêre, en daar staan Hy op!   Aan sy krag was daar geen einde nie – krag om stil te bly en te verduur, krag om te vergewe, krag om op te staan in dieselfde liggaam wat so dood was!   *Alles wat Ek doen, kan julle ook doen!*


Gebed:  Slegs in U krag Heer, kan ek – kom woon in my hart!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 9 March 2014





KONINKRYK VAN GOD


Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.  En hulle sal nie sê:  Kyk hier!  Of:  Kyk daar!  Nie;  want die koninkryk van God is binne-in julle.  -  Lukas 17:20,  21  (OV)


God is ons álmal se liefdevolle Hemelvader en hy het ons álmal éwe lief – of ons reeds lánk gelede ons hart aan hom toevertrou het en of ons vándag eers ons hart aan hom gegee het – hy het nie sómmige van sy kinders méér lief as ander nie.  Jý bly in Hom en Hý bly in jou.

God is net ‘n flúístering en gebed ver.   Wend jou nóú tot Hom in die gebed wétende dat Hy ántwoord op jou roep.  Hy luister na élkeen van ons se gebede.  Daar is géén twyfel, géén kommer, géén vrees in Sý koninkryk nie.

Luister net hóé verwelkom Hy jou in Sy koninkryk van liefde, aanvaarding en harmonie:  “Kom na My toe en lê al jou laste af.   Ek is die harmonie en die vrede wat jy soek.   Alles wat Ek het, is joune.   Ek het jou nie vergeet nie en Ek sal jou nooit verlaat nie.  Ek is altyd met jou – nou en tot in ewigheid.   Jy is My geliefde kind in wie Ek welbehae het.   Ek sien die goeie in jou.  Ek sie die volmaaktheid waarmee jy geskape is.   Glo in My;  Ek glo in jou.”

Ek gló, ek fluister, ek bid, en die déúr tot Gods koninkryk gaan voor my oop.  Dánkie Hemelse Vader!


Gebed:  Ek gló, en gaan Ú koninkryk binne.


~ Uit Daelikse Woord ~




LYDSAAMHEID


Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige. – Sag. 4:6


JESUS  het die krag van lydsaamheid volmaak uitgebeeld.  Hy het Hom nie verset teen die uitdaging van die lewe of die dood nie, en tog alles oorkom.   Altyd liefdevol, altyd vergewend, was Hy.

Hoe het Hy dit reggekry?  Deur Hom met volle vertroue te wend tot God, die een krag en die een Teenwoordigheid in Sy lewe.  Hy het ook baie goed geweet dat die uitdagings voor Hom, die omstandighede of die mense nie so belangrik was as die vermoë om Hom teen niks en niemand te verset nie.

As ons met ons hele hart en siel Sy voorbeeld volg, sal ons ook leer om alles wat ons aangaan in Gods bekwame hande te plaas – om te glo en te weet dat wat ookal mag gebeur, dit slegs tot ons hoogste heil sal wees, want God die Here die Almagtige, is aan die werk in ons, deur ons en om ons.

In Hom en in Sy krag, het ons die krag wat struikelblokke oorkom, die krag wat ons vry maak.  As ons die Christus-standaard van lydsaamheid ons eie maak, en op elke gebied in ons lewe toepas, is ons geestelike groei seker en gewis.


Gebed:  Soos Christus verset ek my nie.


~ Uit Daelikse Woord ~





LAAT  LOS  LAAT  GOD


Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.   Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is.  -  Rom 12:2


Ek raak van álle kommer en vrese ontslae, en vestig my aandag op my eie inwonende Heer, wat élke tree van die weg wat ek moet gaan, by my is.

Hy lei my van sukses tot sukses, op weë wat lei tot my hoogste heil.   In Sý krag is ek in staat om my rug te draai op énigiets wat nie na wense is nie.

Hy suiwer my brein en omskep my gedagtes in liggedagtes.  Intuïtief volg ek Sy leiding.   Hy ínspireer my en in Sý lig skiet nuwe idees my denke binne.

Vás vertrouend op die Heer van my hart, gaan ek voort na ‘n méér bevredigend werk, ‘n béter verhouding, súkses met my studies en eksamen, en dieper, béter menseverhoudings.  Met my oë gevestig op Hóm, volg net goedheid en guns my, ál die dae van my lewe.

My lewe is vól en ryk, as ek die dinge wat níé tot my heil is nie laat gaan, sodat Gods vólmaakte plan vir my kan ontvou.


Gebed:  Ek laat los en laat God oorneem!


~ Uit Daelikse Woord ~








VREESLOOS


Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.  -  2 Tim. 1:7


Soms mag dit gebeur dat ek my op ‘n vreemde plek bevind en onrustig begin voel.  Dit is gedurende sulke tye wanneer ek die psalmdigter se woorde onthou en dit my eie maak:  “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?  Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”  (Ps. 27:1).

Ek bly kalm want ek weet my Heer is áltyd by my, en ontspan in hierdie hémelse teenwoordigheid.   Ek laat nie my emosies toe om met my op loop te gaan nie, en doen wat ek moet doen sonder énige gedagtes van vrees of angs.

Vréésloos breek die plantjies deur die klipharde aardkors – vréésloos groei en gedy hulle, in harmonie met die bloudruk in hul kiemsel vasgelê, elkeen om te gee dit wat hulle hét om te gee.

Vreesloos groei ek óók geestelik, ín harmonie met Gods plan vir my – ín harmonie met Sy wil wat áltyd vir my beswil is.   Ek is nié lafhartig nie, maar met krág, líéfde en sélfbeheersing groei ek tot Sý volwaardige seun of dogter, sodat ek óók mý deel kan lewer in Sý grootse plan vir hierdie aarde.


Gebed:  Die Here is my líg en my Rédder.


~ Uit Daelikse Woord ~


>






HANDE


Bevestig die werk van ons hande oor ons.  -  Ps. 90:17 (OV)


Here, seën my hande.  My hande is daar om die hande wat vasgehou moet word, vas te hou, om die een wat gestreel moet word, te streel.   My hande kan teer wees en hulle kan sterk wees.  Hulle kan die swakke ondersteun en hulle kan kalmte en vrede bring.  My hande kan uitreik na hulle wat eensaam is sodat hulle kan voel dat hulle ‘n vriend het.

Here, seën my hande.  My oop hande kan deel, kan gee, kan seën.  Wanneer my hart vir my vertel van ‘n behoefte, kan my hande my hart help om daardie behoefte te vul.  My hande kan ondersteun, my hande kan die standvastigheid gee wat nodig is.

Here, seën my hande.  My hande is daar om te doen wat hulle ookal moet doen.  My hande kan vernuwe en herstel dit wat vernuwe en herstel moet word.

Here, seën my hande en gebruik hulle as instrumente in U liefdevolle diens.


Gebed:  Here, seën my hande.


~ Uit Daelikse Woord ~