Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy
weldade nie!
Ps. 103:2 (OV)
Lof! Watter
beter manier is daar om ‘n dag mee te begin as met lof – lof jeens God, lof
jeens mense, lof en dank vir al ons baie seëninge?
‘n Geloofsversterker, dit is wat lof is! Watter beter manier is daar om ons geloof te
versterk as om die geloof wat ons het, te loof en te prys, al is dit net so
groot soos ‘n mosterdsaad? Watter beter
manier is daar om ons geloof te laat groei, as om dankie te sê vir die feit dat
God vir ons gee nog voordat ons vra?
‘n Sielsverheffer, dit is wat lof is! Watter beter manier is daar om vrolik en bly
te raak, om blymoedig te kan voortgaan op Gods pad van lig, as om Hom te loof
en te dank vir die seker wete dat ons belangrik is vir Hom – dat ons sy
geliefde kinders is?
‘n Afsluiting vir die dag, dit is wat lof is. Daar is geen beter manier om ‘n dag mee af te
sluit as met ‘n noot van lof en dank nie, vir al die seëninge van nog ‘n mooi
dag saam met Hom.
Gebed: Loof die Here, o my siel!
~ Uit Daelikse Woord ~
No comments:
Post a Comment