Wednesday, 15 February 2012





WAARDIG


As ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.
1 Joh. 3:20  OV


Wanneer ons voel ander mense is soveel beter as ons, is ons besig om na onsself te kyk met die oë van die mens wat ons is.  Maar ons is baie meer as dit!  Ons is geestelike wesens op ‘n pad van lig, en aan ons skeppende vermoëns is daar geen perke nie, aan ons liefde vir andere is daar geen perke nie, en aan dit wat ons kan wees en kan gee uit die oorvloed in ons hart, is daar geen perke nie!

Ons mag miskien nie waardig voel nie, maar Christus in ons is lofwaardig.

Ons mag ongeliefd voel, maar aan die liefde van Christus in ons, is daar geen perke nie.

Ons mag voel dat ons oor geen talente of vermoëns beskik nie, maar Christus in ons, is uiters begaafd en in staat tot groter dinge.

Ons sal nie langer hierdie skepping van God, wat ons is, verkleineer en minag nie.  Ons sal onsself sien as ‘n geestelike wese op ‘n pad van lig, en in alles wat ons dink, doen en sê, sal ons hierdie waarheid duidelik sigbaar maak.


Gebed:  Ek is ‘n waardige kind van God!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday, 14 February 2012





LIEFDE



Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.  En die grootste hievan is die liefde!  
1 Kor. 13:8


Liefde bly – hoe groot is hierdie waarheid nie, maar dit het ‘n kanaal nodig om deur te werk.  Ek maak dus my hart en gemoed oop vir die liefde van Christus om vrylik in my, deur my en om my te vloei en te werk.  Wanneer ek dit doen, word nie net ék daardeur geseën nie.  My medemens, my land en my wêreld en alles daarop, word ook daardeur geseënd.

Vandag leef ek die liefde van die Heer van my hart ten volle uit.  Dis die soort liefde wat onvoorwaardelik vergewe, wat alle struikelblokke oorkom en harmonie en vrede skep so ver ek gaan.

Dit is die soort liefde wat deur my gedagtes, my dade en my woorde werk om dié wat moedeloos is, op te hef en met nuwe moed te vul, om dié wat gebroke van hart is, te vertroos.

Dis die soort liefde wat oor die klein menslike struwelinge, twis en tweedrag heen kyk, en die lig sien deurbreek in selfs die donkerste nag.  Dis die soort liefde wat beskerm en vrede bring.


Gebed:  Dankie Heer, vir U grootse liefde ook vir my.


~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday, 12 February 2012





VOL VERTROUE


Die Here sal jou beskerm.  – Spr. 3:26


Wie en wat is ek werklik?  Ek is ‘n geseënde kind van ‘n hemelse Vader.  Hy het my lief, sien na my om en sorg dat dit altyd goed gaan met my.

As Sy kind is ek nooit alleen nie.  Sy Heilige Gees woon in my, en is slegs een gebed ver.  Dit is dus nie vir my nodig om enige uitdaging alleen te oorkom nie – Hy weet van alles wat met my gebeur, en staan vas aan my sy.

Waar en wanneer ek voor een of ander vorm van weerstand of ‘n uitdaging te staan kom, bly ek vol vertroue en gebruik ek sonder om twee keer te dink die volgende bevestiging:  “Ek vertrou volkome op Hom wat in my woon, en in die werke wat Hy in en deur my doen.

Ek beskik oor die wysheid om die regte besluite te neem, en die nodige moed om my besluite deur te voer.  My positiewe gedagtes, my gebede en dade, hou my voete stewig op my pad van lig – ‘n pad waarop ek blymoedig voortgaan, my hoogste heil tegemoet.

Die Here beskerm my, lei my en rig my op al my weë.  Dit weet ek, glo ek en ek maak daarop staat.


Gebed:  Ek vertrou volkome op Hom wat in my woon.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday, 8 February 2012




BLYDSKAP

Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel. 
Ps. 126:2  OV

Vir al die skoonheid en wonder van ons wêreld, vir elke mooi nuwe dag, is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel!  So groot is ons vreugde dat dit elkeen wat ons pad mag kruis ophef.

Ons soek die goeie in alle situasies.  Dit mag soms vir ons onmoontlik wees om onmiddellik die blink kant te sien, maar ons weet dat dit een of ander  tyd sigbaar sal word.  Ons raak ontslae van alle spanning en vrese – ons ontspan in die wonder van Gods liefde en lig ook vir ons.

Soms mag ons moedeloos raak – die wolk bly donker en die lig wil net nie deurbreek nie.  Ons gedagtes is in so ‘n harwar dat dit selfs vir ons moeilik is om te ontspan.  Daar is egter nog een wonderlike gawe waaroor ons beskik.  Dit is ons vermoë om mooi herinneringe op te roep.  As ons begin dink aan die aangename ervarings in ons lewe of iets moois en bedagsaam wat iemand een of ander tyd vir ons gesê het, sal ons siel weer begin sing van blydskap, en weldra sal al die wolke verdwyn!

Gebed:  My siel sing binnekant my!

~ Uit Daelikse Woord ~  

Tuesday, 7 February 2012





VERWAGTING


Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.  – Ef. 6:18


Diep in gebed, in my binneste heiligdom, lê ek alles wat my kwel, elke kommer en sorg, in die hande van my eie inwonende Christus.  Op rakkies van lig plaas Hy my gebedsversoeke, en een vir een word elke las omskep in ‘n pakkie van lig – lig wat die las omskep in ‘n seën.

Dit glo ek, dit verwag ek, en ek maak my gereed vir wonderwerke om te geskied, in my en om my, en ook vir alles en almal vir wie ek bid.  Want waar daar lig is, daar is God  en waar God is, daar is lig, liefde en krag, in oormaat.

Ek vergeet ook nie om elke versoek wat ek aan Hom rig af te sluit met die woorde – “Dit Here, is wat ek graag wil hê.  Maar as U iets beter vir my in gedagte het, dan sê ek nou byvoorbaat dankie daarvoor.”  Wie weet beter as reeds Hy, wat vir my en my geliefdes se sieleheil die beste is.  Daarom laat ek alles in Sy bekwame hande.

Ek handel in die lig, ek wandel in die lig, en my pad van lig lê duidelik en helder voor my uit.


Gebed:  Vol verwagting volg ek Gods lig en leiding.


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 6 February 2012





BID VIR ANDERE


Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig. Joh 7:24


Ek mag so bekommerd wees oor die welstand en gesondheid van my geliefdes, dat ek skoon vergeet om hulle te seën met my positiewe gedagtes en gebede. Die omstandighede waarin hulle verkeer of hul ongesteldhede mag my gedagtes so in beslag neem, dat ek met kommer bid in plaas van met geloof.

Vandag besluit ek om, wanneer ek vir my geliefdes bid, te onthou om positiewe, opbouende, kragtige gebede vir hulle te bid. Ek sien hulle as wys, sterk en voorspoedig in die lig en liefde van God.

As daar onenigheid ontstaan het  tussen my en een van my geliefdes, of tussen hulle onderskeidelik, seën ek elkeen in die saak betrokke met my positiewe gedagtes en gebede. Ek oordeel nie op die oog af nie, ek oordeel regverdig. Ek dink, bid en doen dit wat tot die hoogste heil van elkeen van my geliefdes en ook vir my is.


Gebed: Geliefde, die lig van God skyn op jou, die liefde van God waak oor  jou!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 3 February 2012





EK STAAN WEER OP


Al het ek geval, ek staan weer op.  Al sit ek in die duisternis, die Here is ‘n lig vir my.  Miga 7:8


Daar is niks in die wêreld wat die mag het om ons neerslagtig en mismoedig te hou nie. Geen mens beskik oor die mag om ons onder te hou nie.

Ons kan vir ons gedagtes en ons gevoelens sê:  “Ek staan weer op”.

Ons kan opstaan omdat ons Gods eie Christusgees binne-in ons het.

Ons kan opstaan omdat Gods lied van lewe binne-in ons is.

Ons kan opstaan.

Ons gees styg bokant die wolke uit. Ons sweef op die vlerke van gebed en ons hart sing ‘n blye lied.


Gebed:  Ek staan weer op!


~ Uit Daelikse Woord ~