Thursday, 21 February 2013




DIE CHRISTUS WEG


“Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”   -   Joh.  14:6


Wanneer ons stil word in gebed, en ons diepste heiligdom binnegaan, sal ons die Here Jesus Christus daar vind.   Dit is waar Hy woon en vanwaar Hy regeer, en dit weet elkeen van ons.   En waar ons dan biddend voor Hom staan, neem Hy ons hand, en lei Hy ons Gods koninkryk binne.

Deur Hom vloei die lig, die liefde en krag vanuit hierdie Hemelse Koninkryk ons hart en siel binne.   Dit verkwik ons siel en lei ons op die spore van geregtigheid.   Ons vrees niks en niemand meer nie, want ons het ons stok en ons staf gevind.

Christus is die weg!   Wonderlike woorde van waarheid wat ons enige tyd kan gebruik om die deure tot groter seëninge voor ons oop te maak.  Sy Gees in ons sien baie verder as wat ons kan sien en Hy weet wat vir ons die heel beste is.   As ons Hom dus in beheer plaas, sal Hy ons lei tot ons hoogste heil – tot ‘n wonderlike nuwe dag.


Gebed:  Christus is jou en my weg.  Die enigste weg!


~ Uit Daelikse Woord ~


(Jammer ek sukkel vreeslik om te konnekteer aan internet en kry gladnie prentjies uitgestuur nie.  Ek hoop hierdie boodskappie gaan deur.)



Tuesday, 19 February 2013





BEGIN  WEER

Elke ding in hierdie wêreld het sy tyd.  -  Pred. 3:1

Beginpunte en eindpunte, oopgaande deure en toegaande deure, nuwe ervaringe en die bekende alledaagse roetine – al hierdie dinge is nodig en belangrik.   Elke dag, elke uur, elke oomblik is ‘n nuwe begin.

Ek kan weer begin.   Dankie Here, dat ek weer kan begin.  Dit maak nie saak wat gister gebeur het nie – dit lê in die verlede.   Pynlike herinneringe word weggevee, teleurstelling vervaag.   Op hierdie oomblik word alle dinge nuut gemaak – ook ék word nuut gemaak.

Ek kan weer begin.   Selfs al het die deur toegegaan op ‘n mooi, ryk en sinvolle ervaring, weet ek dat daar nog groter seëninge op my wag.   Daar gaan ‘n nuwe deur oop en ek het die wil en die visie om dit te herken en in te gaan.

Ek kan weer begin.   Ek gaan voort in Gods liefde en genade.   Ek is ‘n heel, volledige mens wat ‘n heel, volledige lewe ervaar.   Ek is gedurig aan die groei, aan die ontvou en aan die ontwikkel.   Ek sê oor en oor ja vir Gods volmaakte wil vir my.

Gebed:  Ek kán wéér begin!

~ Uit Daelikse Woord ~





Friday, 15 February 2013





INSPIRASIE

God is my redder;  Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. 
Jes.  12:2

Vas vertrouend op my Heer, plaas ek my lewe en alles wat my aangaan in Sy liefdevolle sorg.   Ek weet Hy sal my lei en rig op al my weë.   Geen enkele tree hoef ek sonder Hom aan my sy, te neem nie.   Geen uitdaging hoef ek sonder Sy krag en sterkte die hoof te bied nie.   Hy lei my tot die regte optrede op die regte tyd, vandag, môre en elke dag.

Ek vertrou op Hom en is nie meer bang nie, want ek weet daar is niks waaroor Hy nie heers nie, niks wat in in Sy krag nie reggestel kan word nie.   My geloof in Sy krag en mag gee my die krag om die dinge te doen wat ek moet doen.

Die eerste ding wat ek doen is om my tot Christus, Hy wat in my hart woon, te wend vir leiding en lig, en om dan te reageer op die leiding wat Hy my gee.   Kry ek dit nie terwyl ek bid nie, weet ek dat ek my nie daaroor hoef te bekommer nie, want die leiding, die ingewing van wat om te doen, sal op die regte tyd my te binne skiet.   God is my redder, Sy liefde is my inspirasie, en sonder die geringste vrees, gevul met geloof, begin ek elke mooi dag deur Hom aan my geskenk, met my hand styf vas in sy troue Vaderhand.

Gebed:  GOD  IS  MY  REDDER!

~ Uit Daelikse Woord ~









TREE  VIR  TREE

Daarom moet julle jul nie kwel … maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid.  -  Matt. 6:31, 33  OV

Ek neem net een treetjie op ‘n keer en geniet alles so mooi en skoon rondom my.   Ek leef net een oomblikkie op ‘n keer en voel dus nie gejaagd of onrustig nie.   Dinge verloop op ‘n ordelike manier en daar is oorgenoeg tyd vir alles wat ek moet doen of graag wil doen.

Ek maak absoluut staat op God en alle vrees en frustrasie verdwyn uit my lewe uit.   Ek voel seker en veilig want Sy liefdevolle, beskermende Heilige Gees in my gee aan my die sekuriteit wat ek nodig het.  Ek laat alle spanning uit my vloei en laat Sy oneindige liefde my hart binnevloei.

Gods sterkte is my sterkte, Gods krag is my krag en God is altyd daar om aan my die moed en die vertroue te gee wat ek nodig het.   Ek wend my tot Hom en leef in die lig van vandag se goedheid en al die môres wat voorlê kyk na hulleself.   Ek neem een tree op ‘n keer, ek leef een pragtige dag op ‘n keer en een gelukkige oomblik op ‘n keer.

Gebed:  Moedig en bly, neem ek een tree op ‘n keer.

~ Uit Daelikse Woord ~





Friday, 8 February 2013





JOU OOP HEMEL

Ek profeteer oor jou Goddelike DEURBRAKE in jou lewe ... in JESUS Naam. Die hemele is oop oor JOU. Die vloek is gebreek op die Kruis. Jy is vry en los daarvan. Dit kan nie meer op jou werk nie. Dis kragteloos. GENADE werk nou in jou en vir jou. Jy word GESEËN, nie op grond van jou eie goedheid nie, maar op grond van JESUS se GOEDHEID en VERDIENSTE. Jy is nie skaam om seëninge te ontvang nie. Nee, jy ONTVANG graag ... met opregte en kinderlik GELOOF in die Allerhoogste!

~ Pastoor Hansie Smit ~





JA  EN  NEE

Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig. 
Kol. 4:6

JA   en  NEE  is twee belangrike woorde, wat, as ons hulle reg gebruik, getuig van ons goeie smaak en vriendelikheid.

JA  is ‘n woord wat deure oopmaak.   Wanneer ons vir die lewe  JA  sê, betree ons ‘n wonder-lewe, want Hy maak die deure vir ons oop wat lei tot die wonder van ons menswees – tot die wonder van heel Gods skepping.   Ons begin sien met die oë van ons siel, en weet wanneer ons moet  JA  sê, en wanneer  NEE.

Vanuit die liefde van Hom wat in my woon, sê ek  JA, en die deure wat voor my oopgaan, bied my die geleentheid om andere te laat deel in hierdie wonder-liefde.  Ek sê  JA  vir sy Lig, en die deure wat voor my oopgaan bied my die geleentheid om lig te bring, en insig, waar en wanneer nodig.   Met soveel liefde en lig in my en om my, weet ek wanneer om  NEE te sê, en wanneer  JA, tot almal se hoogste heil.

Gebed:  Vanuit die wonder wat U is in my, is my  JA  en my NEE altyd reg.

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday, 7 February 2013

Epos adres vir die dagstukkies is as volg;

poppieoosthuizen@gmail.com 

Ek sal dit dan forward na my daeliksewoord eposgroepie, vanwaar dit na julle aangestuur sal word.