Tuesday, 24 January 2012





WOORDE

Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.
Ps. 141:3  (OV)

Stel vandag ‘n wag voor my mond, Heer.  Ek weier om enige gedagtes in woorde te omskep as hulle nie liefdevol, vriendelik en waar is nie.  Ek sal streng toesig hou oor my woorde, en slegs gedagtes oordra wat ‘n seën inhou vir my, vir almal om my en in my wêreld.  Bewus van die mag van die gesproke woord, hou ek die gesprekke wat ek met andere voer fyn dop.  Ek kleur elke woord wat ek sê met die liefde van Hom wat woon in my hart, gevleuelde woorde van liefde en lig wat almal om my opbeur en gelukkig maak.

In sy krag beskik ek oor die mag om elke onnadenkende, onvriendelike woord wat skielik by my opkom, te verwerp voordat ek hulle uitspreek.  Ek hoef nie op ‘n ander se onvriendelikheid te reageer nie.  Ek hoef nie vrees of twyfel uit te spreek nie.  Ek het geen rede om my woede te lug nie – binne-in my is die antwoord op al my behoeftes!

Dankie, Heer, vir die wonder van U teenwoordigheid in my denke en in my hart, wat my in staat stel om met my lig-woorde U vriendelike, goedige, opregte kind van die lig te wees.

Gebed:  Stel U vandag ‘n wag voor my mond, Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~

Monday, 23 January 2012





DANKIE, HEER!

Laat my elke môre U liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue.
Ps. 143:8

Goeiemôre, Heer!  Dankie vir U liefdevolle sorg en beskerming deur die nag, en vir die lig van hierdie nuwe dag!

Dankie Heer, vir U grenslose lewegewende Gees in my, wat my altyd herstel en vul met nuwe lewenslus.  Verfris en hernu, is ek gereed vir ‘n wonderlike dag in U wonderlike wêreld.

Dankie Heer, vir hierdie dag, tot oorlopens toe gevul met die belofte van aangename, waardevolle aktiwiteite en ervaringe.  Dankbaar ontvang ek vandag met al sy seëninge.

Steeds bewus van U teenwoordigheid, waardeer ek die orde, skoonheid en volmaaktheid van elke oomblik.  Die opwindende inspirasie van die oggend bly my by dwarsdeur die dag, en ek beskik oor die nodige belangstelling, krag en energie om elke taak suksesvol af te handel.

Dankie Heer, vir hierdie wonderskone môre wat my dwarsdeur hierdie dag gaan ophef en onderskraag.

Gebed:  Goeiemôre, Heer!

~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday, 22 January 2012




LEIDING

Praat, Here, U dienaar luister!  - 1 Sam. 3:9

Hier is ek, Here.  Ek glo – ek luister na wat U vir my wil sê.  In die stilte, diep in my binneste, neem ek U hand, en met my hoop op U gevestig, glo ek, nee, weet ek, alles is wel met my en my siel.

Hier is ek, Here. Stil en ontspanne maak ek my gedagtes oop  vir U en ek luister.  En terwyl ek luister, omskep U sag en teer my gedagtes in lig-gedagtes – lig-gedagtes wat lig-idees tot gevolg het – lig-idees wat ek moet navolg en uitvoer, en in U krag altyd daar vir my, kan ek!

Hier is ek, Here.  Stil en ontspanne maak ek my hart oop vir U liefde om dit tot oorlopens toe te vul.  Gepantser in U lig in my gedagtes en liefde in my hart, dra ek ligbring-liefde oor aan elkeen wat vandag my pad mag kruis.

Hier is ek Here, neem my hand.  Help my om stil te word voor U – om te luister na U, sodat ek nie een enkele tree afwyk van U pad van lig vir my nie, en altyd tot seën kan wees vir andere.

Gebed:  Hier is ek, Here – vat my hand!

~ Uit Daelikse Woord ~

Saturday, 21 January 2012




KIND VAN DIE LIG

Christus is in julle,  Hy is julle hoop op die heerlikheid.  – Kol. 1:27

Kind van die Lig, jy wat jou voete op hierdie geestelike pad van lig gesit het, weet jy hoe na aan My jy werklik is?  As jy maar net My lig kon sien wat elke dag so helder in jou, om jou en voor jou uit skyn – as jy maar net kon voel hoe Ek jou hande saggies in myne neem terwyl ons sy aan sy voortstap op hierdie pad van lig – as jy maar net My stem kon hoor wat vir jou vertel van die Vader se liefde so groot en so wonderbaar!

As jy maar kon besef wat Ek en jy saam kan vermag wanneer jy hierdie grootse mylpaal wat jy nou voor oë het, bereik het – die plek waar Ek en jy een word in Gods Lig, Liefde en Krag – sal jy verstaan waarom jy so kosbaar is vir My.  Moenie moedeloos raak as dit volgens jou begrip van tyd te lank neem nie – glo net, en hou aan met aanhou.  Ek sal jou dra oor elke struikelblok heen,  Ek sal jou bystaan deur elke donker nag.  Ek sal jou lig, jou liefde en jou krag wees, totdat jy die volwasse seun/dogter van God is – een met My, jou eie inwonende Christus-self.

Gebed:  Ek kom, Heer!  Hou net my hand styf vas!

~ Uit Daelikse Woord ~

Thursday, 19 January 2012




VRY

Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.  Hulle vlieg met arendsvlerke.  – Jes. 40:31

Hoe bang moet die ou voëltjie net nie voel wanneer sy ouers hom vir die eerste keer uit die nes uit stoot sodat hy moet leer vlieg nie!  Met die aanmoediging van sy ouers, wat by hom is, sprei hy sy vlerkies uit en begin hy vlieg.  In die begin maar lomp en onseker, maar hoe groot die vreugde wanneer hy skielik daarin slaag om in die lug in op te styg!

Net so kan ons ook sweef – vry en bly met ‘n geestelike vryheid wat deur niemand gebind of ingeperk kan word nie.  God is die liefdevolle Vader wat ons voorberei en aanmoedig om ons vlerke uit te sprei en te vlieg, sodat ons alles wat ons in Sy naam doen, kan geniet.

En tog, soms mag ons so vol vrese wees, dat ons net nie die vryheid wat ons in Christus het, kan benut nie.  Dan dink ons aan die vlug van die jong voëltjie, en ons hoor Sy stem diep in ons wese:  “Kom, sprei uit jou vlerke en styg uit tot nuwe hoogtes in My krag.”

Ons kan, ons wil en ons vlieg!  Dankie, Vader, vir ons vryheid in U!

Gebed:  Dankie Heer, vir my vryheid in U Krag!

~ Uit Daelikse Woord ~




LIEFDE

God is liefde;  wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 
1 Joh. 4:16

Hoe groot hierdie geskenk, hoe diep my dank!  Ek sal hierdie liefde my eie maak – ek sal in God bly, sodat Hy in my kan bly – sodat Hy my hart tot oorlopens toe kan vul met sy Liefde so groot, want dan sal ek nie ‘n klinkende metaal of galmende simbaal word nie.

Ek sal geduldig wees en vriendelik, ek sal nie afgunstig wees nie, nie grootpraterig nie, nie verwaand nie.  Ek sal nie onwelvoeglik handel nie, ek sal nie my eie belang soek nie, ek sal nie liggeraak wees nie, nie boekhou van die kwaad nie.

Ek sal nie meer soos ‘n kind dink of praat nie, want ek is nou geestelik volwasse, klaar met die dinge van ‘n kind.

Ja, ek sal liefde wees, soos Jesus Liefde was en is.  Hy wat in my woon, is die bron van die liefde wat ek gee – die liefde wat ek ontvang en waarin ek bly – en dit stel my in staat om alles te glo, alles te hoop, en alles te wees wat Hy in my is.

Gebed:  God is Liefde, en ek bly in Sy Liefde!

~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday, 18 January 2012




TROOS

Die ewige God is ‘n skuilplek, Sy arms is altyd onder jou.  
Deut.  33:27

Ek vind troos in die wete dat my Heer van liefde so na aan my is. Hy is altyd daar, gereed om enige kommer of las wat ek aan Hom wil oordra te verlig. In Sy grootse liefde vir my, in Sy nabyheid, voel ek nooit eensaam of alleen nie.

As ek my tot Hom wend in alles wat my aangaan, vind ek die vrede in my gemoed wat my help om seëvierend enige aanpassing of uitdaging te oorkom.

Hy woon binne-in my, en geen verdriet of berou is te groot om tussen Hom en Sy liefde vir my te kom staan nie. Hy is die veilige hawe waar ek altyd rus vind vir my moeë siel.

Die verdriet, die smart oor die groot verlies wat ek mag ervaar, neem geleidelik af. Aangename herinneringe oor die mooi tye wat ek ‘n geliefde saam deurgebring het is soos balsem vir my seer gemoed, en niks en niemand kan die skoonheid van hierdie mooi herinnering van my af wegneem nie. Soos kosbare juwele koester ek hulle diep in my hart, en ek vind rus in Sy ewige arms wat altyd onder my is.

Gebed: In U arms Heer, vind ek rus.

~Daelikse Woord~