Saturday, 16 March 2013





OPTIMISTIESE  REAKSIE

‘n Vrolike mens is ‘n gesonde mens.  -  Spr  17:22

Ons groet ander mense met die woorde: “Hoe gaan dit?”  Maar ons mag net sowel vir onsself die vraag afvra:  “Hoe gaan dit met my?”

Dít is my geleentheid om ‘n positiewe, gesonde benadering te bevestig deur my eie antwoord te baseer op die werklikheid instede van op die voorkoms van dinge, en deur my antwoord een te maak wat lewe, gesondheid en heelheid benadruk in plaas van om uit te wy oor pyne, kwale en probleme.  Hoe gaan dit met my as ‘n kind van God, ‘n geestelike wese?

Ek reageer hierop met sterk, positiewe gedagtes:  “Ek is sterk, gesond, lewenskragtig en vol energie.  Ek is gelukkig en entoesiasties oor die lewe.  My probleme begin gladnie meer so groot lyk as ‘n ruk tevore nie, want my Heer wag alreeds dat ek dit aan Hom moet oorhandig!”

Wanneer ek die dag, naweek of nuwe week  begin met hierdie positiewe gesindheid, het dit dieselfde optimistiese uitwerking op almal met wie my pad deur die dag kruis en met vreugde kan ek sê:  “Ek is ‘n stralende kind van ‘n ongelooflike Hemelvader!”

Gebed:  Ek is ‘n geestelike wese.

~ Uit Daelikse Woord ~





Friday, 15 March 2013





WANNEER JY OUD WORD

Lees  PREDIKER  12:1-8

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor ... die jare aanbreek waarvan jy sal sê:  “Ek het daar niks aan nie.”  PRED 12:1

Dit is ‘n pynigende gedagte om te dink dat jou jeug vir ewig verby is.  Die ouderdom bring gewoonlik ook matelose eensaamheid met hom saam:  medereisgenote val weg langs die pad.  Die omgewing waarin jy jou bevind, is dikwels nie meer dié waarin jy grootgeword of jou lewenstaak verrig het nie.  Jou kragte kwyn al hoe vinniger.  En die moeilikste om te aanvaar is dít:  “Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil;  maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie”  (Joh  21:18).

En tog:  vir die Christen-bejaarde is dit ‘n troos om te weet dat God ook ‘n God van die ouderdom is, dat daar by Hom oorvloedige vergoeding is vir die skade wat die jare aan ons lewe doen.  Waar Hy liggaamskragte wegneem, skenk Hy meer geestelike krag.  Krag van buite word vervang deur krag van binne.  Dan verstaan ons die Woord van die Here wat sê:  “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige”  (Sag  4:6)

Heilige Vader, dankie dat ek nie slegs verloor met die wentelende jare nie, maar dat ek ook oneindig baie wen omdat ek u kind is en gelowig op U kan vertrou, ook in die ouderdom.

Wie as ‘n vriend van God ouer word, vind dat die ryper jare allermins ‘n afdraende pad is – KOBUS ANTHONISSEN.

~ Uit Op vlerke van geloof deur Solly Ozrovech ~



Thursday, 14 March 2013





VASTE  GELOOF

En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.  -  Jak.  1:4

Soms wanneer dit voel asof my hele lewe om my in flarde lê, is al wat my staande hou my geloof.

My geloof is in God en in Sy almag, waarteen geen duisternis óóit staande kan bly nie.

My geloof is in God en Sy geregtigheid, wat sal toesien dat níks wat myne is van my af weggeneem kan en sal word nie.

My geloof is in God en Sy lewegewende krag wat énige ongesteldheid na liggaam of gees kán en sál genees.

My geloof is in God en Sy liefde wat altyd vir my sê  “Ek is hier”, hoé alleen en verlate ek ookal mag voel.

My vaste geloof laat my rus in Sy ewige arms wat áltyd onder my is om my te onderskraag en te beskerm.

Gebed:  Ek glo in God en in Sy Almag!

~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday, 13 March 2013





HARMONIE

Bo dit alle moet julle mekaar liefhê.  Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.  -  Kol. 3:14

Harmonie bring die goeie en die mooie na vore.  ‘n Soeke na harmonie bring Gods orde in moeilike en ongelukkige menseverhoudings of uitdagings na vore.

Met liefde in my hart, is ek in harmonie met alles en almal om my, en straal ek vrede en vreugde uit sover ek gaan.

Harmonie is altyd beskikbaar, en wanneer ek ‘n beroep daarop doen om onaangename situasie binne te vloei, sal dit.  Ek bevestig orde en harmonie vir alles en almal wat my lewe raak.

Ook in my eie lewe streef ek na harmonie en vrede.  Ek sonder gereeld tyd af om my diepste heiligdom binne te gaan in gebed, die plek waar ek gevul word met ál die liefde, lig en genade wat ek nodig mag hê gedurende elke dag van my lewe.  My gedagtes word omskep in lig-gedagtes, en ek weet dat dít wat met my gebeur, afhang van dit wat ek dink.

Harmonie en vrede heers in my gemoed!

Gebed:  Harmonie en vrede heers in my gemoed.

~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday, 12 March 2013





‘N ONTDEKKINGSTOG

By God is wysheid en krag ...  Hy gee lig in donker dieptes,  Hy maak donker plekke lig.  -  Job 12:13,22

Ongeag hoe dikwels ek ‘n bekende pad ry, is daar altyd iets nuuts om te ontdek.  Al ken ek ‘n geliefde hoe lank, is daar altyd iets nuuts wat ek kan leer omtrent die persoon.

Hemelse wondere omring my elke dag, en tog is daar nog so baie waarvan ek nie eens bewus is nie.  Soos byvoorbeeld ‘n klein akkertjie wat vandag van ‘n boom afval, waar dit onder die stof en grond verdwyn en dan begin ontkiem en groei tot ‘n reuse-akkerboom iewerss in die verre toekoms.

Ek kyk na myself en Gods hele skepping met die oë van ‘n avontuurlustige ontdekker.  Soms staan ek verbaas oor wát ek alles in myself ontdek, veral as ek geen perke plaas op dít waartoe ek in staat is nie.

Maar die belangrikste ontdekking wat ek óóit kan doen, is my eie geestelike waarde as kind van God -  ‘n skepping van lig, liefde en krag!

Gebed:  Vandag is ek op ‘n ontdekkingstog!

~ Uit Daelikse Woord ~









VRY

Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.  -  Deut.  5:6

Ek begin ‘n nuwe lewe deur my vry te maak van ou gedagte-patrone en leefwyses wat nie meer tot my heil is nie.  Vry en ongebonde volg ek my pad van lig, in harmonie met Gods goeie plan vir my.

As kind van ‘n Hemelvader is daar niks waarvoor ek bang is nie.  Stap vir stap volg ek Sy lig wat so helder op my pad skyn – en ek weet wat om waar en wanneer te doen en ek doen dit met vreugde in my hart.

Géén negatiwiteit van die verlede het enige houvas meer oor my nie.  God die Vader het my vry gemaak, en in die krag van Hom wat in my woon, is ek daartoe in staat om die bande wat my probeer bind, te verbreek.  Splinternuwe weë, nuwe deure gaan voor my oop, en my lewe begin weer opnuut.

Uit die plek van slawerny het Hy my bevry.  Van negatiewe herinneringe, gewoontes en gedagtes het Hý my verlos, en hier en nou is die beginpunt van ‘n nuwe vryheid, ‘n nuwe lewe vir my!

Gebed:  Ek is vry en begin opnuut!

~ Uit Daelikse Woord ~



Monday, 11 March 2013





ALTYD MET MY

Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?  -  Eks. 33:14

ALTYD  MET  MY!  Wat ‘n wonderlike versekering is dit nie!  Ek begroet die dag met ‘n glimlag want God is met my.  Hoe kan dit anders as om ‘n goeie, gelukkige dag te wees.

ALTYD  MET  MY!  Nie net in tye van nood is my Hemelvader met my nie, maar te alle tye!  Ja, terwyl ek besig is met aktiwiteite van die dag – met werk, inkopies doen, besoek aan my vriende of my daaglikse pligte – Hy is altyd met my!  Wat ‘n hemelse verskil maak dit net nie!

ALTYD  MET  MY!  Hóé dankbaar is ek net nie dat God altyd met my is nie, dat ek nóóit óóit alleen is nie, nóóit sonder ondersteuning en onderskraging is nie, nóóit sonder hulp en bemoediging is nie!

ALTYD  MET  MY!  Vandag, môre en elke dag is dit ek en U, o Heer!  Hóé heerlik is hierdie wete nie!

Gebed:  My Hemelvader is áltyd met my!

~ Uit Daelikse Woord ~