WANNEER JY OUD WORD
Lees PREDIKER 12:1-8
Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor ... die jare
aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar
niks aan nie.” PRED 12:1
Dit is ‘n pynigende gedagte om te dink dat jou jeug
vir ewig verby is. Die ouderdom bring
gewoonlik ook matelose eensaamheid met hom saam: medereisgenote val weg langs die pad. Die omgewing waarin jy jou bevind, is dikwels
nie meer dié waarin jy grootgeword of jou lewenstaak verrig het nie. Jou kragte kwyn al hoe vinniger. En die moeilikste om te aanvaar is dít: “Toe jy jonger was, het jy self jou klere
vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar
wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak
en jou bring waar jy nie wil wees nie”
(Joh 21:18).
En tog: vir die
Christen-bejaarde is dit ‘n troos om te weet dat God ook ‘n God van die
ouderdom is, dat daar by Hom oorvloedige vergoeding is vir die skade wat die
jare aan ons lewe doen. Waar Hy
liggaamskragte wegneem, skenk Hy meer geestelike krag. Krag van buite word vervang deur krag van
binne. Dan verstaan ons die Woord van
die Here wat sê: “Nie met mag en krag
sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” (Sag
4:6)
Heilige Vader, dankie dat ek nie slegs verloor met die
wentelende jare nie, maar dat ek ook oneindig baie wen omdat
ek u kind is en gelowig op U kan vertrou, ook in die ouderdom.
Wie as ‘n vriend van
God ouer word, vind dat die ryper jare allermins ‘n afdraende pad is – KOBUS ANTHONISSEN.
~ Uit Op vlerke van
geloof deur Solly Ozrovech ~
No comments:
Post a Comment