Wednesday, 18 September 2013

BLYDSKAP






Met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word.  -  Jes. 55:12

‘n Klein kindjie kyk met vreugde en blydskap na alles om hom, want hy sien in alles uitdagende avonture.  Elke ding is nuut en die moeite werd om te ondersoek.  Niks is te klein en onbelangrik om oorgesien te word nie.

Só kan ons óók na die wêreld om ons kyk – met oë vol verwagting.  Selfs in die nietigste takie kan ons vreugde vind as ons dit sien as deel van die ervaring van die lewe.

Blydskap is nie net ‘n gemoedstoestand nie.  Dit is ‘n manier van lewe.  As ons bewus word van die blydskap diep in ons hart – ‘n blydskap wat ons siel laat sing, borrel dit oor soos ‘n fontein en vul ons hele wese.  Hierdie innerlike vreugde is onaantasbaar want dit is gegrondves op God en Sy nimmereindigende liefde vir ons.

Ons is Sy kinders – dit weet ons, en ons leef in ‘n wonderlike mooi wêreld deur Hom geskep – is dit nie genoeg om ons stralend bly en vrolik te maak nie?

Gebed:  Ek is ‘n vrolike kind van God.

~ Uit Daelikse Woord ~

Tuesday, 17 September 2013

INNERLIKE VREDE





Gaan gerus!   Die Here is by julle op julle reis.  – Rigt. 18:6

Luister ................. kan jy die lied van die lewe hoor? 
Kyk ...................... sien jy Gods lig in jou en om jou?
Voel .................... jy Sy vrede en rus diep in jou wese?
Gaan in vrede, want waar jy ookal is, daar is God!

Sy stem word gedra deur die fluistering van die wind deur die bome, deur die strelende stem van ‘n geliefde, deur die rus en vrede wat jy ondervind in jou stil tye van gebed, diep in jou diepste heiligdom.  As jy ‘n behoefte het aan vrede en rus kan jy dit vind, want God is orals teenwoordig.   Ook daar waar jy is, is Hy gereed om jou in Sy liefde te omvou en met Sy vrede te vul.

God is orals teenwoordig.  Sy lewenskrag pols in jou en deur jou – in en deur alles wat bestaan – ‘n Krag baie groter en sterker as wat die mens al ooit kon skep.  ‘n Hemelse krag wat elke planeet en ster in ‘n ordelike patroon laat beweeg, en selfs die kleinste plantjie laat groei.

Ook vir jóú is Hy áltyd daar – Sy Gees is ín jou, en jy hoef nóóit alleen of eensaam te voel nie.  Strek jou hand uit, Hy sál dit styf vashou!

Gebed:  Vat my hand, Heer, bly by my!

~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday, 15 September 2013

U EN EK




Ek is by julle al die dae. – Matt. 28:20

Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld, het Jesus gesê toe Hy opgevaar het na die hemel.  Ál die dae!  Dus, Hy is vandag nog stééds so met ons soos 2000 jaar gelede met die mense in Palestina.  Hóé heerlik die wete!

Nóóit is ek alleen nie – U is met my, elke oomblik van élke van elke dag! 

U stap saam met my, U lag saam met my, U sing saam met my, en my lof en dank vir hierdie grootse wonder ken geen perke nie.

Hoe groot die gevaar wat ons nou mag bedreig ookal is, ek is nóóit alleen nie – U beskerm en behoed my en niks en niemand kan my te na kom nie.  U is in my, en ek is in U.  U is krag, dus is ek krag.  U is liefde, dus is ek liefde.  Dit wat ek is in U kan níks en niémand ooit skade aandoen nie.  Saam, is ons ‘n span wat onwrikbaar staan wat ookal op ons pad mag kom.

Gebed:  U is met my – in my – elke dag!

~ Uit Daelikse Woord ~

Saturday, 14 September 2013

DIE KRUIS TEEN DIE MUUR




Die swem instrukteur van n Amerikaanse universiteit kon een nag nie slaap nie. Hy besluit hy gaan swem. Om nie aandag te trek nie, skakel hy nie die ligte aan nie. Hy het die omgewing van die swembad soos sy palm van sy hand geken.Hy klim op die duikplank, strek sy arms na weerskante uit en maak gereed om te duik. Op daardie oomblik kom die maan agter n wolk uit en gooi sy liggaam se skaduwee teen die oorkanste muur. Die skaduwee lyk soos n kruis. Diep getref bly hy net so staan. Hy was nie n belydende Christen nie, maar daar op die duiktoring in die maanlig, in die stilte van die nag, dink hy aan Christus se kruis. Woorde van n lied wat hy in die Sondagskool geleer het, kom in sy gedagte op: "Hy het gesterf, dat ek kon leef ..." Vreemd aangedaan, prewel hy die woorde. Hy besluit om af te klim en langs die swembad te gaan sit en die nuwe gedagtes wat so vreemd, skielik by hom opkom te gaan oordink. Hy swaai sy bene oor die kant van die swembad om sy voete in die koel water te laat hang.Sy voete raak nie water nie. Dit is te donker om in die swembad te sien en hy klim stadig met die trappies af, een na die ander, tot op die bodem van die swembad. Hy het nie geweet die swembad opsigter het die water uitgepomp om die volgende dag skoon water te laat inloop nie.Wat as hy geduik het? Watter onuitspreeklike ingryping van genade wat hom weerhou het om te duik!Diep aangedaan, kniel hy op die koue vloer van die swembad en dank God vir se groot en onverdiende ontferming. In sy hart wel n verlange op om nader aan hierdie God te kom. Sy geloof neem n verdere stap. Die skaduwee van die kruis het hom van n gewisse dood gered, so red Christus se kruisdood hom van die ewige dood. Alleen, knielende in die donker op die swembad se vloer, maak hy sy hart oop en neem Christus Jesus aan as sy Saligmaker!

SIEN DIE CHRISTUS





Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.  -  Kol. 1:27

Christus is ín ons.  Binne-in ons diepste heiligdom sal ons Hom vind as ons stil word in gebed.  Hoe wonderlik as ons dit kon sien met ons menslike oë.

Daar is egter niks wat keer dat ons na andere om ons kyk met die oë van Christus nie.  Daar is niks mee verkeerd om diep in ons hart te sê: “Die Christus in my sien die Christus in jou” as ons graag iemand anders wil help of wil vergewe nie.

Ons kyk by die menslike verby en soek die Christus in die persoon met wie ons te doen het, en as Hy nog nie in hul harte ontwaak het nie, is hierdie benadering van ons soos olie wat drup op die skynbaar verroeste skarniere van die *deur* na húl diepste heiligdom.

“Ek sien die Christus in jou.”  Sy lig skyn helder voor jou uit om jou te lei en te rig op die pad wat lei tot jou héél hoogste heil.

As ek die Christus in andere sien, besef ek hoe waardevol hulle is, en dit is dan vir my só baie maklik om hulle met liefde en deernis te benader.

Gebed:  Ek sien die Christus in jou.

~ Uit Daelikse Woord ~

EK IS TOT ALLES IN STAAT




EK IS TOT ALLES IN STAAT

In die Here is julle lig.   Leef dan as mense van die lig.  -  Ef. 5:8

Miskien voel ek dat ek daartoe in staat is om meer te gee, meer te doen, in een of ander saak of situasie of werk waarin ek myself mag bevind.

Ek aanvaar hierdie gevoel as iets positiefs – ‘n innerlike drang om my volle potensiaal uit te leef.  Ek kan meer doen – meer wees.  Ek hoef my nie te skik na iets minder as ek weet dat ek tot meer in staat is nie.

Ek is ‘n kind van die lig op ‘n pad van lig, en elke dag bied my die geleentheid om ‘n beter lewe te voer as waartoe ek al ooit in die verlede in staat was.  Oomblik na oomblik, dag na dag, jaar na jaar, is ek besig om geestelik te groei, hoe oud of hoe jonk ek ookal mag wees.  Dis ‘n proses wat nooit ophou nie, en hoe verder ek vorder op my pad van lig, hoe groter word die moontlikhede wat ek kan bereik en hoe sterker staan ek in Sy krag, liefde en lig.

As kind van God is ek geskape, en die moontlikhede en potensiaal wat binne-in my vasgelê is, ken geen perke nie.

Gebed:  Ek is tot alles in staat.


~ Uit Daelikse Woord ~



Sê Dankie







Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.  -  2 Kor. 9:15

In die Onse Vader, en in Sy ander leerstellinge, het Jesus deurgaans verwys na God as Vader.  En deur Sy woorde en Sy dade, het Hy beklemtoon dat daar ook ‘n baie spesiale verwantskap tussen ons en God, ons hemelse Vader, is.

Soos ‘n liefdevolle ouer sien Hy na ons om, en dit wat Hy weet tot ons heil sal wees, bied Hy ons in oorvloed aan.  As ons net vir ‘n oomblik stilstaan en ons seëninge begin tel, sal ons verbaas wees oor wat God ons bied, en begin wonder hoe ons Hom ooit genoeg kan loof en eer.

Vir die kos wat ons eet, ons gesondheid en die dak oor ons kop, sê ons dankie.  Vir al die wonderlike vriende met  wie ons ons dae kan deel – vir familie, vriende en medewerkers – hoe kan ons óóit genoeg dankie sê?

En bowe-al alles, ons diepste dank en lof aan ons hemelse Vader vir die voorreg om Sy kinders genoem te word, en vir Sy Seun wat elke dag saam met ons al ons lief en ons leed deel – baie, baie dankie, Vader!

Gebed:  Dankie Vader, dat ook ek U kind genoem kan word.

~ Uit Daelikse Woord ~