Tuesday, 18 September 2012





LUISTER


Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep. 
1 Petr. 3:12


Hoe groot  die wonder en hoe diep ons dank dat daar altyd Iemand is wat luister na ons hulpgeroep.  Iemand wat ons optel en dra as ons self nie meer kan nie.  Diep in ons binneste heiligdom luister Hy na ons drome en ons hoop, en stil en sag vloei Sy antwoord ons hart binne:


“Jy het My aangeroep, my geliefde kind, en Ek het geluister.  My lig, liefde en krag is daar vir jou, en Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie.

As jy nie op jou eie staande kan bly voor die aanslae van die lewe nie, leun op My, en laat My toe om jou in My krag te onderskraag.

As jy die begrip van ‘n vriend nodig het – kyk, Ek is net hier by jou.  Ek luister – Ek verstaan.

Voel jy eensaam en verlate – Ek vou jou toe in My liefde.

Voel jy die las wat jy moet dra is te swaar, gee dit vir My en ontspan.

Geliefde kind, Ek is hier, en Ek luister.”



Gebed:  Die Here sorg vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~








KOM RUS


Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.  – Mark. 6:31


Diep in my diepste wese hoor ek ‘n stem wat saggies fluister:  “Los alles waarmee jy nou besig is, net hier waar jy nou is, en kom rus ‘n bietjie.  Sluit die rumoer en geharwar om jou uit, ontspan en kom na My toe hier waar ek vir jou wag in jou diepste heiligdom van krag – die rusplek van jou siel.

Wanneer ek hierdie stil plek diep in my wese binnegaan, voel dit vir my asof ek tuiskom.  Dis ‘n plek waar ek niks hoef te doen nie behalwe om te rus in Sy ewige arms van liefde – om te luister na Sy sagte stem wat sê: “Hier, my geliefde kind, is die waters waar rus is, wat Ek jou gee.”

En dan, hoe onverklaarbaar dit ookal mag klink, vloei alle kommer en sorge van my af weg.  ‘n Helende krag stroom in en deur my.  Elke sel en atoom van my liggaam word hernu, en met nuwe ywer gaan ek voort met my dagtaak.

Hoe heerlik die wete en hoe diep my dank, dat ek hierdie innerlike plek van rus kan betree waar en wanneer ek wil.


Gebed:  By U Heer, vind ek rus vir my siel!


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday, 17 September 2012





EK  GLO

Ek glo - alles gebeur met tyd - in - tyd. 

Ek glo - in beloftes wat saak maak. 

Ek glo - ek sal antwoorde vind wat in my hart lê. 

Ek glo - in wonderwerke, niks het nog by Jesus verander nie. 

Ek glo - in die son al skyn dit nie altyd vir my nie. 

Ek glo - dat God storms stil maak, al gaan dit woes in my lewe. 

Ek glo - in liefde wat als bedek. 

Ek glo - in God selfs as Hy stil is want dan is dit die tyd wat Hy my dra. 

D A A R O M!!

Glo ek - want ek weet die Heer is altyd in beheer.








KIND VAN DIE LIG


Christus is in julle,  Hy is julle hoop op die heerlikheid.  – Kol. 1:27


Kind van die Lig, jy wat jou voete op hierdie geestelike pad van lig gesit het, weet jy hoe na aan My jy werklik is?  As jy maar net My lig kon sien wat elke dag so helder in jou, om jou en voor jou uit skyn – as jy maar net kon voel hoe Ek jou hande saggies in myne neem terwyl ons sy aan sy voortstap op hierdie pad van lig – as jy maar net My stem kon hoor wat vir jou vertel van die Vader se liefde so groot en so wonderbaar!

As jy maar kon besef wat Ek en jy saam kan vermag wanneer jy hierdie grootse mylpaal wat jy nou voor oë het, bereik het – die plek waar Ek en jy een word in Gods Lig, Liefde en Krag – sal jy verstaan waarom jy so kosbaar is vir My.  Moenie moedeloos raak as dit volgens jou begrip van tyd te lank neem nie – glo net, en hou aan met aanhou.  Ek sal jou dra oor elke struikelblok heen,  Ek sal jou bystaan deur elke donker nag.  Ek sal jou lig, jou liefde en jou krag wees, totdat jy die volwasse seun/dogter van God is – een met My, jou eie inwonende Christus-self.


Gebed:  Ek kom, Heer!  Hou net my hand styf vas!


~ Uit Daelikse Woord ~






Saturday, 15 September 2012





BESKERMD


Die Here dink aan ons.  -  Ps  115:12


Wat ‘n mooi idee om ons dag mee te begin -  Die Here dink aan ons -  en as Hy aan ons dink, is ons mos beskermd.  Vandag gaan ek, sodra ek onveilig voel, sodra ek onseker of bang voel, vir myself sê:  My Heer dink aan my, en weet, wat ek eintlik sê is dit – My Heer is mét my!

Of ek êrens heen op pad is, of tuis bly - My Heer is mét my.  Hy vou my toe in Sy liefde.  Hoe heerlik om so veilig te voel in hierdie land van ons wat so onveilig is.  Hoe heerlik om te weet Hy is steeds aan my sy - My Heer dink aan my!

Ook vir my vriende, familie en geliefdes, ja, ook hulle wat vir my onbekend is en tog saam met my hierdie land bewoon – vir elkeen bid ek:  In Gods liefde is julle veilig!

Hoe diep my dank vir hierdie grootse liefde wat my Vader op my uitstort.  En vanaand wanneer ek my dag afsluit met die gedagte - My Heer dink aan my- Hy is met my,- raak ek sonder kommer aan die slaap, ontspanne in die wete dat ek veilig in Sy troue sorg is!


Gebed:  My Here dink aan my, Hy is met my!  Baie dankie dierbare Vader.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 14 September 2012





TROOS


Ek is dit wat julle troos. – Jes. 51:12  OV


Wat is meer vertroostend as die wete dat Ek net hier by jou is?  Voor jou grootste verlies of ontsteltenis, is Ek hier.  Voor jou grootste uitdaging, is Ek hier.  Ek vou jou toe in My liefde, hou jou staande in My krag, en lei jou voorwaarts in My lig.  En wanneer jy net nie meer kan nie, sal Ek jou optel en dra, tot jy weer op jou eie voete kan staan.

Vir geen oomblik is jy alleen nie – aanvaar dit en vind rus vir jou siel in hierdie grootse waarheid.  Ek is hier om verligting te bring wanneer jy in pyn verkeer, en om jou te kalmeer wanneer jy bang is.

Ek is hier om jou te lei deur die diepste duisternis – na waters waar rus is, lei Ek jou heen.  Ek verkwik jou siel, en lei jou in die spore van geregtigheid.

Ek is hier om toe te sien dat jy geestelik groei deur die uitdagings van die lewe heen.  En omdat Ek elke tree van die weg saam met jou stap, is daar niks wat jy nie in My krag kan oorkom nie.  Weet dit, glo dit, en jy sal ‘n wenner wees in My lig, liefde en krag, altyd daar vir jou!


Gebed:  Ek is ‘n kind van God, toegevou in Sy liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday, 13 September 2012





NUWE  DAG


Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel.
Ps. 126:2  OV


Hoe mooi is hierdie dag!


Ek is vrolik en bly.  Blydskap sing in my hart, en liefde kyk deur my oë.

Ek gee en ontvang geluk so ver ek gaan.

Ek is energiek en vol lewe, in die lewenskrag van Christus wat in my woon.

My blydskap en liefde is aansteeklik, en dit dra seëninge oor aan elkeen wat my pad mag kruis.

Met ‘n ligte hart gaan ek vandag voort op my pad van lig, en sien net die aangename en die mooie om my raak.

Ek ken die vreugde van ‘n hart wat vir andere omgee.  Ek het mense lief en doen alles in my vermoë om hulle lewens ook aangenamer te maak.

Hierdie blydskap is ‘n borrelende fontein in my diepste wese, en ek jubel en juig oor die wonder daarvan in my en om my.


Hoe mooi is hierdie dag, en hoe diep my dank vir die wonder hiervan wat ek met andere kan deel.


Gebed:  Hoe mooi is hierdie dag!


~ Uit Daelikse Woord ~