SONSKYN IN ONS LEWENS
Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van
die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig. -
Openb. 22:5
Hoe
hartlik verwelkom ons nie die sonskyn na ‘n storm nie! En tog is dit nie vir ons nodig om ooit
bedruk te word deur gure weer nie. Dit
maak nie saak of die lug blou of grys is nie, ons kan elke dag geniet want soos
die digter gesê het: “Die hart maak sy eie sonskyn.”
As
ons lewe en beweeg in die lig van ons Hemelse Vader in ons en om ons, groei en
bloei ons in die sonlig van ons Christus-self.
Daar
is sonskyn in ons lewens wanneer ons ‘n vriendelike glimlag uitdeel, wanneer
ons ‘n helpende hand aanbied of sommer net ‘n bemoedigende woord spreek. Daar is sonskyn in ons lewens wanneer ons
nadink oor die rykdom van seëninge wat ons geniet, en wanneer ons daardie
seëninge met ander deel omdat elke ander mens vir ons dierbaar is. Daar is sonskyn in ons lewens as ons elke dag
begin met ‘n bevestigende gebed en weet dat die lig van Christus ons pad verlig
en ons besluite en die werke van ons hande rig.
Gebed: Dankie
Heer, vir die sonskyn in my lewe.
No comments:
Post a Comment