Saturday, 18 May 2013





GEDULD


Lees -  Psalm 130


Die vrug van die Gees ... is ... geduld  (Gal 6:22).


Hierdie vierde eienskap van die vrug van die Gees is een waarmee die meeste van ons worstel, veral omdat ons dit nie kan verdra om te wag nie.  Juis wanneer ons ons voorneem om meer geduldig te wees, betrap ons onsself dat ons staan en rondtrippel in die lang tou in die poskantoor, of dat ons lus kry om die motor se toeter te blaas vir die man wat so stadig voor ons ry.   Ons raak selfs ongeduldig wanneer God nie gou genoeg na ons sin op ons gebede reageer nie.

*Wag op die Here,*  maan die die psalmdigter  (v 7).  Dié wat bereid is om op Hom te wag, ervaar die vrug van geduld in hulle lewens.  Ongelukkig kom geduld nie sommer vanself nie.  Dit moet geoefen word.  Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik beteken eintlik  “om iemand nog ‘n kans te gee”.   As jy die Heilige Gees in jou lewe het, moet jy bereid wees om ander mense nog ‘n kans te gee soos wat God jou elke keer nog ‘n kans gee.

Is jy bereid om dit te doen?


Gebed:  Heilige Gees, baie dankie vir u geduld met my.  Maak my geduldig sodat ek elke keer bereid sal wees om vir ander nog ‘n kans te gee.


Kom ons gee mekaar vandag nog ‘n kans!


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~









VRIENDELIKHEID


Lees – Filippense 4:4-9


Die vrug van die Gees ... is ... vriendelikheid  (Gal 6:22).


Daar is ‘n spreekwoord wat sê:  “Vriendelikheid is die aansteeklikste ding op aarde.”  Toets maar of dit waar is deur wanneer jy in die straat loop mense met ‘n vriendelike glimlag te groet.  Jy sal sien, vreemdelinge sal jou net so vriendelik teruggroet.  Boonop kos vriendelikheid niks en beteken dit so baie vir ander.

Vriendelikheid beteken ook om ander só te behandel soos jy self behandel wil word.  Dit is om te gee van jouself sonder om iets terug te verwag.  Oswald Saunders het gesê dat om vriendelik te wees, is om met die Here se gesindheid na ander te kyk.

Kan ander aan die vriendelikheid wat uit jou straal, sien dat die Heilige Gees in jou lewe teenwoordig is?


Gebed:  Heilige Gees, maak my vriendelik met al die mense om my, ook met dié wat ek nie ken nie.  Help my om met God se oë na hulle te kyk.


*Vandag gaan ek vriendelikheid kwistig uitdeel aan almal om my.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~








Thursday, 16 May 2013





BID VIR ANDER


Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.  -  Filip.  1:3


As ek bekommerd voel oor iemand anders, word  ek stil, sluit my oë en sien die lig van die Vader helder in en om daardie persoon skyn – ‘nlig wat liefde bring en wysheid.  Dis ‘n eenvoudige vorm van gebed hierdie wat rus bring in my gemoed, en alle vrese laat verdwyn.

Wanneer my geliefdes voor ‘n probleem te staan gekom het, bid ek vir hulle.  Die omstandighede waarin hulle verkeer mag dit vir hulle moeilik maak om op God te konsentreer.  Dit is dan wanneer my bevestiging dat hulle toegevou word in Gods liefde, vir hulle baie kan beteken.

Ek kyk by die voorkomste verby en sien die lig, die liefde en krag van God in hulle en om hulle aan die werk.   Geen siekte, geen verlies of krisis, kan staande bly voor die werkinge van die Drie-enige God en Vader nie.  Ek glo dit, en sê dankie vir die onbekende seëninge wat hulle te beurt gaan val as gevolg van dit wat hulle nou ervaar.

My gebede vir my geliefdes onderskraag hulle, en maak hulle oop vir Gods krag om in en deur hulle te werk en wondere te laat geskied.


Gebed:  In U lig Heer, sien ek my geliefdes.


~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday, 15 May 2013





LEIDING


Die Here sal jou altyddeur  lei.  -  Jes.  58:11


Al weet ek die besluit wat ek geneem het, is reg, is ek tog huiwerig om dit summier deur te voer.  Ek doen dit omdat ek weet God is in beheer van my lewe en alles wat my aangaan, en in my stil uur van gebed sal Hy my inspireer sodat ek presies die regte stappe neem in die uitvoering van my besluit.  Hy vra my aandag, en so gee ek dit vir Hom.

Met my aandag op Hom toegespits, maak ek Hom my eie – Hy maak my Sy eie, en lei my altyd tot my hoogste heil.  Ek pak niks sommer halsoorkop aan nie, maar bly kalm en rustig, want ek weet  Hy wat in beheer van my lewe is, sal my beskerm en behoed, inspireer en lei, in alles wat my aangaan.

Die rus en vrede, krag en insig, wat ek weerspieël in my handel en wandel elke dag, getuig van my eenheid met my Heer en die vertroue wat ek in Hom het as my leidsman en raadgewer.  Sy plan is stadig maar seker besig om in my lewe te ontvou, en ek is oop daarvoor.


Gebed:  Dankie, Vader, vir U lig so helder op my lewenspad.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday, 14 May 2013





VREUGDE


Lees -  1 Tessalonisense  5:14-18


Die vrug van die Gees ... is ... vreugde  (Gal  5:22).


Vreugde verwys hier na dié vreugde in die hart van elke Christen omdat hy of sy ‘n verloste kind van God is.   God het ons verlos uit ons sondebestaan, en ons is bly omdat Hy ons so liefhet en ons aan Hom behoort.   Ons is ook bly omdat ons weet dat God vir ons sorg en áltyd by ons is;  en omdat ons ná ons dood vir altyd by Hom sal wees.

Ons moet egter nie net bly wees wanneer dit goed gaan met ons nie.   Ons moet áltyd bly wees (1 Tess 5:16), óók wanneer ons swaar kry.  Aan hierdie vreugde ten spyte van swaarkry sal die wêreld kan sien dat ons die vrug van die Heilige Gees in ons lewe het.

Die vreugde van Galasiërs is ‘n vreugde wat van binne kom, wat niks met uiterlike omstandighede te make het nie.  Dit is dié vreugde wat Paulus en Silas lofliedere in die tronk laat sing het.  Dit is ‘n blywende vreugde omdat dit geanker is in Jesus wat altyd dieselfde is.

Kan jy sing wanneer jy swaar kry??


Gebed:  Here, vergewe my omdat ek eerder kla as sing wanneer dit sleg gaan met my.  Help my om van nou af altyd bly te wees in U.


*Die vreugde wat die Gees gee, kom van binne.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~





Friday, 10 May 2013





LIEFDE


Lees – Johannes  4:7-21


Die vrug van die Gees ... is liefde  (Gal  5:22).


Die liefde waarvan Paulus hier praat, is goddelike liefde, liefde “ten spyte van”.   Tot hierdie liefde is ons nooit uit onsself in staat nie omdat dit indruis teen ons sondige natuur.  Tog is hierdie liefde vir God só belangrik dat dit heel bo-aan die lys van die vrug van die Gees staan.  As ons nie liefde in ons lewens het nie, is ons niks  (1 Kor  13:2).

God verwag van ons om ons medemens lief te hê met dieselfde onselfsugtige liefde waarmee Hy ons liefhet.  Ons moet ander liefhê al maak hulle ons soms kwaad;  al benadeel hulle ons;  al verkondig hulle onwaarhede oor ons.  Hierdie liefde is sonder voorwaardes en sluit selfs ons vyande in.  Ons moet húlle ook liefhê en bid vir dié wat ons vervolg (Matt  5:44).

In watter mate is hierdie liefde as deel van die vrug van die Gees in jou lewe teenwoordig?


Gebed:  Hemelse Vader, baie dankie dat ek kan liefhê omdat U my eerste liefgehad het.  Help my om ander ten spyte van al hul tekortkominge lief te hê met die liefde wat U vir my het.


*My liefde vir God word getoets aan my liefde vir my naaste.*


My verhouding tot my naaste is in baie opsigte die vertoonvenster van hoe my verhouding met God is (uit:  Ek glo in die Heilige Gees. Bybelkor).


~ Uit Nina Smit se Dagboek vir die Vrou ~





Thursday, 9 May 2013





GESKENKE



Maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.  -  Joh 4:14



God het aan my die geskenk van die lewe gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs en loof die werkinge daarvan dwarsdeur my hele  wese. 
Dankie Heer, vir die geskenk van lewe!


God het aan my die geskenk van liefde gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs en deel die seëninge daarin opgesluit met my medemens.
Dankie Heer, vir die geskenk van liefde!


God het aan my die geskenk van geloof gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs en gebruik dit sodat dit al hoe sterker kan word.
Dankie Heer, vir die geskenk van geloof!


God het aan my die geskenk van blydskap gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs en my hart loop oor van blydskap – en almal word ook daardeur geseën.
Dankie Heer, vir die geskenk van blydskap!


God het aan my die geskenk van wysheid gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs sodat ek al Sy geestelike gawes  aan my met wysheid kan gebruik.
Dankie Heer, vir die geskenk van wysheid!



Dankie Hemelse Heer, vir  u geestelike gawes sonder einde.



Gebed:  Dankie Heer, vir *AL* U wonderlike geskenke!




~ Uit Daelikse Woord ~