GEDULD
Lees - Psalm 130
Die vrug van die Gees ... is ... geduld (Gal 6:22).
Hierdie vierde eienskap van die vrug van die Gees is
een waarmee die meeste van ons worstel, veral omdat ons dit nie kan verdra om
te wag nie. Juis wanneer ons ons
voorneem om meer geduldig te wees, betrap ons onsself dat ons staan en
rondtrippel in die lang tou in die poskantoor, of dat ons lus kry om die motor
se toeter te blaas vir die man wat so stadig voor ons ry. Ons raak selfs ongeduldig wanneer God nie
gou genoeg na ons sin op ons gebede reageer nie.
*Wag op die Here,* maan die die psalmdigter (v 7).
Dié wat bereid is om op Hom te wag, ervaar die vrug van geduld in hulle
lewens. Ongelukkig kom geduld nie sommer
vanself nie. Dit moet geoefen word. Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik
beteken eintlik “om iemand nog ‘n kans
te gee”. As jy die Heilige Gees in jou
lewe het, moet jy bereid wees om ander mense nog ‘n kans te gee soos wat God
jou elke keer nog ‘n kans gee.
Is jy bereid om dit te doen?
Gebed: Heilige Gees, baie dankie vir u geduld met
my. Maak my geduldig sodat ek elke keer bereid
sal wees om vir ander nog ‘n kans te gee.
Kom ons gee mekaar vandag nog ‘n
kans!
~ Uit Dagboek vir die Vrou deur
Nina Smit ~
No comments:
Post a Comment