GOD DIE HEILIGE
GEES
Lees -
Johannes 16:5-15
Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy
julle in die waarheid lei. Hy sal My
verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig (Joh
16:13-14).
Die Heilige Gees is die derde Persoon in die
Drie-een-heid. As die Vader God-bo-ons
en Jesus God-met-ons is, kan ons sê dat die Heilige Gees-in-ons is. Deur sy Gees woon God self in elke kind van
Hom.
Die Heilige Gees wys vir ons altyd na Jesus, lei ons
in die waarheid en verheerlik Christus.
Hy bring ons dus by God uit. Hy
bewerk geloof in ons harte en waarsku ons wanneer ons verkeerd doen. Hy leer ons bid, tree vir ons by God in en
leer ons hoe om te lewe. Dit is ook die
Heilige Gees wat aan ons die genadegawes uitdeel waarmee ons God in ons lewens
moet dien en eer, en wat vir ons die sekerheid in ons harte gee dat ons kinders
van God is. As ons Hom toelaat, sal die
Gees ons hele lewe beheer sodat ander vir Christus sal raaksien in wat ons sê
en doen.
Is die Heilige Gees só ‘n werklikheid in jóú lewe?
Gebed: Gees van God, dankie dat U in my woon, my
verseker dat ek God se kind is, my teen sonde waarsku, my leer bid en vir my
intree by God.
*Die Heilige Gees lei my in die waarheid.*
Die Gees in ons laat die donkerte in ons lig
word. Hy verander die starheid van ons
geloof in polsende lewe. Hy maak Jesus
Koning!
~ Uit Dagboek vir die Vrou deur
Nina Smit ~
No comments:
Post a Comment