Saturday, 6 July 2013

GENADE






En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. 
Joh.  1:16  (OV)



Daar is gesê:  “Die wind van Gods genade waai altyd.   Mens moet net die seile van die hart oopvou om die altyd vloeiende bries op te vang.”

Genade is ‘n vrye gawe van God.  In die stil dieptes van elke hart hoor ons sy stem:  “Weet jy nie dat jy ‘n kind van die Allerhoogste is nie?”   Maar in ons besige lewens hoor ons nie altyd hierdie sagte stem wat met ons praat nie.   Ons glo miskien selfs sat ons net nie die tyd het om vir ‘n paar minute stil te wees nie.

Vandag sonder ek tyd af om al die energie van my gedagtes na binne te keer.   As my verstand stil word, vou ek die seile van my hart ten volle oop om die altyd-vloeiende bries te vang.   Saggies, so vol deernis, seën Hy my met Sy lig, liefde en krag.  My siel begin sing en my hart loop oor van vreugde en dank.  Ek gaan voort in die wete dat die genade van God my gedurig lei, en dat ek steeds veilig in Sy beskerming is.


Gebed:  Ek open my hart vir die genade van God.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday, 5 July 2013

VRY






Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.  -  2 Kor. 3:17


Hoe mooi is hierdie teks nie!  Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid, word vir ons gesê.  En hierdie Gees van die Here – is dit nie in ons nie?  Ons eie inwonende Christus-self,  dit is die Gees van die Here in ons.

Maar, sê u miskien – ek is nie vry nie!  Kyk na al die verpligtinge wat ek elke dag moet nakom.

Kyk na my gebondenheid aan mense en dinge om my – waar is die vryheid dan?   Dit is waar, ons in nie vry nie, maar die vryheid waarvan hier gepraat word is nie ‘n fisiese vryheid nie – dis ‘n geestelike vryheid wat ons s’n is in Christus.  Slegs een stil gedagte ver, slegs een gebed ver, is hierdie hemelse vryheid.

Hoe kan ons God ooit genoeg loof en dank vir Sy Gees in ons wat ons so vry maak?  Al lyk alles om ons hoe uitdagend, niks kan hierdie vryheid van ons af wegneem nie.  Elke dag wandel ons vry en bly in die lig saam met Hom wat ons so vry maak!   Dankie, Hemelse Vader!


Gebed:  Ek is vry!  Loof God ek is vry!


~ Uit Daelikse Woord ~







Wednesday, 3 July 2013

LOF





Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! 
Ps.  103:2  (OV)


Lof!  Watter beter manier is daar om ‘n dag mee te begin as met lof – lof jeens God, lof jeens mense, lof en dank vir al ons baie seëninge?

‘n Geloofsversterker, dit is wat lof is!  Watter beter manier is daar om ons geloof te versterk as om die geloof wat ons het, te loof en te prys, al is dit net so groot soos ‘n mosterdsaad?   Watter beter manier is daar om ons geloof te laat groei, as om dankie te sê vir die feit dat God vir ons gee nog voordat ons vra?

‘n Sielsverheffer, dit is wat lof is!   Watter beter manier is daar om vrolik en bly te raak, om blymoedig te kan voortgaan op Gods pad van lig, as om Hom te loof en te dank vir die seker wete dat ons belangrik is vir Hom – dat ons sy geliefde kinders is?

‘n Afsluiting vir die dag, dit is wat lof is.  Daar is geen beter manier om ‘n dag mee af te sluit as met ‘n noot van lof en dank nie, vir al die seëninge van nog ‘n mooi dag saam met Hom.


Gebed:  Loof die Here, o my siel!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday, 1 July 2013

NOOIT TE LAAT NIE





NOOIT TE LAAT NIE


Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg.  -  Ps. 55:23


Dit is nooit te laat om weer te begin nie.  Dit is nooit te laat om heel van voor af te begin nie.  Vandag kan ‘n draaipunt wees, die begin van ‘n nuwe, gelukkige, vreugdevolle lewe.

Dit is nooit te laat om dít wat reggestel moet word, reg te stel nie.  Dit is nooit te laat om te vergoed, om te vergewe en vergeet nie.

Dit is nooit te laat en dit is nooit te vroeg nie.  Dit is nooit te laat om jou tot God te wend wie se nimmereindigende liefde alle wonde genees nie.  Dit is nooit te vroeg of te gou om alle laste af te gooi en die lewe in te gaan met ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees nie.

Ek het binne-in my die almagtige, alwetende, alomteenwoordig Heilige Gees van God.  Nou is die tyd om dit te erken en toe te laat dat Gods volmaakte werk gedaan word.  Nou is die tyd om Gods hulp te aanvaar, om myself oop te stel vir Sy lig, liefde en krag.

Dit is nóóít te laat nie!


Gebed:  Dankie dierbare Heer, dat dit ook vir my nooit te laat is nie.


~ Uit Daelikse Woord ~


Sunday, 23 June 2013





HERONTDEK


Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon.  -  Rom. 8:9 OV


Ons wil tog nooit so besig wees dat daar nie tyd vir ons is om stil te staan en alles wat so mooi is om ons te waardeer nie.  Die wonder van heel Gods skepping is oral om ons om te sien en te geniet, en aan Sy glorie wat daagliks aan ons openbaar word, is daar geen einde nie!

In elke klein miertjie wat ‘n gewig dra wat baie groter as hy is, in die arend wat skynbaar sonder enige inspanning heerlik sweef in die lug, herontdek ons die wonder van Gods wêreld!

In die goue oomblikke wat ons met ons geliefdes deel, herontdek ons die liefde van God in hul oë en in die dinge wat hulle sê wat ons samesyn so aangenaam maak.

En in die stil oomblikke saam met ons Heer, diep in ons diepste heiligdom, herontdek ons die wonder van Hom wat in ons woon.  In Sy liefde en lig, is elke dag vir ons ‘n besondere dag – ‘n dag ryk aan die wonder van Sy skepping, wat ons weer en weer ontdek in alles wat bestaan.


Gebed:  Elke dag, Heer, ontdek ek meer van U!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday, 22 June 2013





OMGEE- MENS


‘n Samaritaan ... het op hom afgekom.   Hy het ... sy wonde verbind.  Toe het hy hom op sy rydier gehelp en na ‘n herberg geneem. 
Luk. 10:33-34


‘n Sagte aanraking kan pyn verlig, of dit nou fisiese of emosionele pyn is, of ons dit nou glo of nie.   Die aanraking vertel dat ons omgee, en dit laat die een in pyn sommer beter voel.

Ons wil so graag almal omgee-mense wees, daarom bid ons vandag:  “Heer, laat U liefde in my hande andere ophef en seën wanneer ek hul saggies aanraak, of dit nou ‘n kind of volwassene is.  Maak my stem strelend en sag – ‘n stem wat my medemens help om te ontspan en rus te vind in U liefde in my hart, waarin ek hulle toevou.  En, Heer, seën my woorde – laat dit woorde wees gebore uit U lig-gedagtes in my denke – woorde wat begrip bring, en geloof, en andere ophef en seën.

Ek bid ook vandag vir alle omgee-mense oraloor – U ken hul Heer, U weet waar hul woon en werk.  Vou hulle toe in U liefde, en maak hulle sterk, sodat  andere U lig, U liefde en krag vind by elke omgee-mens wat na hul omsien.


Gebed:  Vandag is ook ek ‘n omgee-mens!


~ Uit Daelikse Woord ~








Thursday, 20 June 2013





DANKBAARHEID


Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange. 
Ps.  100:4


Hoe kan ek vandag genoeg dankie sê vir al die seëninge my toebedeel uit Gods hand?   Hoe kan ek vandag se gebed gebruik, en nie spesiaal voel nie, steeds geseën in Sy allesomvouende liefde?

Hoe meer ek dankie sê, hoe meer dinge sien ek raak om voor dankie te sê.   Ja, ek is so diep en innig dankbaar teenoor my Heer en my God!   Selfs vir dinge wat opduik en lyk asof dit nie my dank waardig is nie, sê ek dankie, want  ek weet my Hemelse Vader sien altyd na my om, en die goeie wat nou verborge is sal ook aan my openbaar word.

Ek kan nie dankbaar en negatief wees op dieselfde tyd nie.   Daarom begin ek elke dag met ‘n lied van danksegging in my hart.  Ek weet my Heer stap elke tree van die weg saam met my, en aan Sy seëninge is daar geen einde nie.

Ek is ‘n gelukkige mens, en ek weet dit.   Elke keer wanneer ek dankie sê, sien ek nog meer dinge om my raak om voor dankie te sê!   Voorwaar, God is goed vir my, en aan Sy seëninge op my lewenspad is daar geen einde nie!   Dankie, kosbare Hemelvader!


Gebed:  Ek is ‘n baie gelukkige mens!


~ Uit Daelikse Woord ~