BERG EN DAL
Bedaar en erken dat Ek God is. - Ps.
46:11
Heer,
ek was so ontsteld – so teleurgesteld en seergemaak – ek was sommer ver, ver
van hier, vasgevang in die diepste dal voor die grootste berg, en het nie meer
kans gesien om een tree verder te gee nie.
Met die steiltes só hoog en dieptes só diep, het ek sommer moedeloos en
verlore net daar gaan sit, te ontsteld en kwaad om eers op te kyk.
Maar
U was ál die tyd net daar bý my!
Geduldig, met ‘n liefde té groot vir ons kleine ou menseverstandjie, het
U sag en teer my hande in U hande geneem – het U liefde ongesiens my hart
binnegevloei, U lig my gedagtes, en ek
het stadig weer my hoof gelig. En wat
sou ek sien? Die lig skyn nog helder
oor berg en dal heen – ook oor my! Die
berg is nie meer so groot nie, die dal nie so donker en diep nie!
Stadig
staan ek weer op in U krag, en met ‘n liefde en vergifnis wat alle verstand te
bowe gaan, verdwyn die berg – sien ek die helder kabbelende stroompie wat
vrolik en bly die dal omskep in ‘n towertuin waar my wonde geheel word, en ek
weer die ligwese word wat ek is in U.
Gebed: U Heer,
is die wonder in my wat my omskep in ‘n ligwese.
No comments:
Post a Comment