Saturday 19 April 2014





MY  LIEFSTE  KIND


Ek het jou by jou naam geroep;  jy is Myne!  -  Jes 43:1


My liefste kind, as jy maar weet hóé waardeer ek net nie jou toewyding en samewerking nie!  Jy is Mýne, Ek het jou op jou náám geroep, en jy het gehoor en geluister, en nóóit sal jy en al jou Ligvriende besef wát julle in hierdie oorgangstyd vir My, en ja, ook vir ons wêreld beteken nie!

Ek is *ín* jou, en jy is *ín* My.  Al sláág jy nie altyd daarin om My te vind nie.  Ek sal jou nóóit ooit faal nie.  Al is jou geloof in Mý nóg só klein, My geloof in jóú wankel nóóit nie, want ... Ek kén jou, en Ek het jóú, so baie lief!!

Besef jy hóé kosbaar jy wérklik is??   Daar is níémand wat hier waar jy nou woon en werk dít kan gee wat jý het om te gee nie!  Jy is uniek en daar is nie nog iemand soos jy nie!!  Ek is besig om déúr jou te werk, ál herken jy nie áltyd My werke nie.  Ek is besig om jou te lei, ál verstaan jy nie altyd My weë nie.

Soms raak jy só besig dat jy nie My fluistering hoor nie, en tóg, as jy My toelaat, spreek Ek deur jóú stem  -  en werk Ek deur jóú hande.  My liefste kind, Ek is hier – áltyd net hier, digby jou!  Onthou, jy is Mýne, nóú en vir ewig!


Gebed:  Roep my, Dierbaarste Heer, ek wíl en sál altyd antwoord!


~ Uit Daelikse Woord ~






GOEIE VRYDAG


Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.  -  Fil. 4:13 (OV)


Jesus het voor die grootste vernedering ooit, daar in Getsemane vir God gevra of die beker nie maar by Hom kon verbygaan nie.  Die mens in Hom het gesidder!   Maar toe kom ‘n engel om Hom by te staan en uiteindelik kon Hy sê:  “Laat nogtans nie My wil nie maar U wil geskied.”

En deur die marteling, deur die vernedering en beledigings heen, het Hy sy man gestaan, stil en sonder om Homself hoegenaamd te verdedig.

Gekruisig is Hy – dit was die doodstraf vir die misdadigers van daardie tyd – en Hy kon nog sê:  “Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie! “

En daar gebeur die grootste wonderwerk van alle tye *tot nou toe!*   Hy was menslik gesproke dood – sy bloed is gestort op hierdie aarde!   Hy is in ‘n graf weggebêre, en daar staan Hy op!   Aan sy krag was daar geen einde nie – krag om stil te bly en te verduur, krag om te vergewe, krag om op te staan in dieselfde liggaam wat so dood was!   *Alles wat Ek doen, kan julle ook doen!*


Gebed:  Slegs in U krag Heer, kan ek – kom woon in my hart!


~ Uit Daelikse Woord ~