Tuesday 3 January 2017

GOD is 'n SKUILPLEK ღ











GOD  IS  ‘N  SKUILPLEK
Dagstukkie deur Nina Smit


Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ‘n toevlug, ‘n skuilplek in tye van nood. Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie. – Ps. 9:10-11

Dawid getuig dikwels dat God vir hom ‘n skuilplek in gevaartye is, ‘n wegkruipplek wanneer dinge vir hom te veel raak.  In Psalm 91:4 word God se bewaring vergelyk met ‘n voël wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm: “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek.”  Ook Jesaja ervaar dat God vir hom ‘n skuilplek is: “U is ‘n toevlug vir die armes, ‘n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood, ‘n skuilplek teen die stortbuie, ‘n skaduwee teen die hitte” (Jes. 25:4).

Mense is vandag steeds op soek na ‘n wegkruipplek waar hulle veilig sal wees teen die lewenstorms en die gevare van ons moderne samelewing. Indien jy nog altyd na so ‘n skuilplek verlang het; as jy graag in die jaar wat voorlê ‘n wegkruipplek wil hê as dinge te veel word, hoef jy nie verder te soek nie. God wil vir jou so ‘n veilige skuilplek wees. Jou skuilplek is dus nie ‘n plek as sodanig nie, maar ‘n Persoon. Met God by jou is jy veilig teen gevare en rampe. Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Ook al sou jy wel in ‘n noodlottige gevaarsituasie beland en met jou lewe boet, waarborg God steeds vir jou ‘n veilige aankoms in die hemelstad.

Vader, ek loof U vir die belofte dat U vir my ‘n veilige skuilplek sal wees; dat U my teen elke gevaar sal bewaar.  Amen.



Koningsdogters vir Jesus Bediening / Facebook