Monday 14 May 2018

Praat maar met die Vader

Die God van Baie Kanse 1

DIE GOD VAN BAIE KANSE (1)
deur Pastoor Piet Smit
.
Lev. 4:20 - “en dit sal hom vergewe word.”
.
ISRAEL
Ou Israel het God se wette gebreek om elke hoek en draai. Daar is seker nie ‘n wet soos deur Moses aan hulle gegee wat die volk nie op een of ander stadium oortree het nie.
So vroeg al as in Exod. 32 wou God die hele volk van Israel geheel en al uitdelg en met ‘n nuwe geslag deur Moses begin a.g.v. hulle afvalligheid om ‘n goue kalf te maak. Die Here sê vir Moses (vers 10): “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak.”
Maar dan begin Moses om by die Here vir die volk in te tree en te pleit vir hulle behoud (vers 11-13). Met die resultaat dat ons lees in vers 14: “Toe het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen.”
En so sou mens kon aanhou om te wys hoeveel kanse het God vir hulle gegee. Ja, die Here is ‘n God van baie kanse!
Die boek Levitikus is die boek waarin die wet formeel aan Israel gegee is. Dit begin met die verskillende offers wat Israel moes bring onder seker kondisies. Een van die soorte offers was ook die sondoffer. In daardie offer was ingebou die beginsel van baie kanse. In hoofstuk 14 word na 4 verteenwoordigende groepe uit die hele volk verwys indien hulle sou sondig voor die Here:
.
Vers 3 – Indien die gesalfde priester sou sondig
Vers 13 – Indien die hele vergadering van Israel sou sondig
Vers 22 – Indien ‘n owerste sou sondig
Vers 27 – Indien enige gewone individu uit die volk so sondig.
In die verband was daar dan die voorskrifte hoe die sondoffer in elke geval gebring moes word en telkens was die uitkoms (Lev. 4:20, 26, 31, 35): “en dit sal hom vergewe word.”
.
Is dit nie baie wonderlik nie! Om te dink: Reeds onder die wet van die Ou Testament leer ken ons die Here as die God van baie kanse vir wanneer ‘n mens teenoor Hom oortree. Sê nou net jy het net een kans gehad en dan was dit verby met jou … Dan was die hele volk van Israel binne ‘n jaar uitgedelg. Tot selfs Moses sou dit ook nie gemaak het nie. Dan meen ek was daar nou nie ‘n enkele mens oor op die aarde oor nie!
Nou na die kruis van Jesus het al daardie offers van die Ou Testament vervulling gekry in die offer van Golgota. In die Nuwe-Testamentiese bedeling was die bloed van Jesus my en jou sonde weg (as weergeborenes) elke keer wat ons oortree en ons na die Here gaan met berou vir sonde vergifnis! Ek voel om in ‘n lofdans voor die Here oor te gaan en “halleluja” en “hosanna” en “dankie Jesus” te skree tot vanaand toe … en dan sommer so aan te hou vir die res van my lewe!
.
Geplaas deur Koningsdogters- en Seuns vir JESUS / Facebook
.

HOOP

Saturday 5 May 2018

"EK KAN NIE BID NIE!"

"EK  KAN  NIE  BID  NIE!"
deur Milanie Vosloo
.
Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid.  Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie.  Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie.  -  Romeine 8:26
.
Daar's tye in ons lewe wat ons eenvoudig net nie kan bid nie. Dis asof daar 'n groot muur tussen ons en God is en ons wil uitroep: "Here, ek kan nie met U praat nie!  Woorde wil nie vorm uit my seer nie.  My gedagtes spring soos popcorn in 'n mikro rond. Miskien ... wíl ek nie bid nie? ... O Gees, bid asseblief vir my ..."
Die oomblik wanneer jy so jou afhanklikheid verklaar, kan jy weet: "Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het - dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowige intree" (Rom 8:27).  Hoor jy dit?  En besef jy dat die liefdevolle Gees van God jou hart volkome verstaan en dat Hy in súlke tye vir jou bid?  Jy hoef dus nóóít te wanhoop wanneer jy nie kan bid nie.  Jy kan in sulke tye maar net stil word in die teenwoordigheid van God, jou gedagtes vrylik laat vloei en toelaat dat die Gees jou gedagtes vir jou vorm.
.
Heilige Gees, ek kan nie bid nie.  Sal U dit asseblief vandag vir my doen?
.
God vereis nie die regte woorde, perfekte gebede en immer-gehoorsaamheid voordat Hy ons met sy teenwoordigheid bederf nie.  Hy vra net 'n nederige en opregte hart.
.
~ Uit Laat Sy Liefde Jou Lei : Cum Uitgewers ~
.
Geplaas deur:  Koningsdogters- en Seuns vir JESUS / Facebook
.