Monday 31 December 2012





BLYDSKAP

U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  -  Ps. 16:11

Heer, ek het altyd gedink ek weet wat dit beteken om opgeruimd en vrolik te wees, tot ek na myself met nuwe oë begin kyk het, en besef het hoe diep en oorvloedig die blydskap is wat daar net by U te vinde is – U Heer, leer my waarlik hoe om te lewe!

Met ‘n lied in my hart gaan ek die oujaar uit en 2013 vreesloos binne op my pad van lig, want ek weet, wat ookal op my wag, U is elke oomblik van elke dag net hier by my.  Hoe groot die seën van U vreugde wat vanuit my diepste wese opborrel en sigbaar word in my lewenslus en gesondheid – in my deernis en respek vir alle lewe.

U blydskap diep in my wese laat my siel sing van vreugde.  Dit kan gesien word in die vonkel in my oë, dit kan gehoor word in die vrolike lag wat vanuit my siel weerklink – ‘n blydskap so aansteeklik dat dit almal om my ophef en seën, en vir hulle ook ‘n nuwe betekenis aan hul lewens gee.  Die verhoudings tussen my en almal om my is mooi Heer, want dis U liefde wat ek uitstraal en wat vir myself soveel vreugde gee.

Gebed:  Baie, baie dankie, dierbare Here, dat U my SO bly maak!

~ Uit Daelikse Woord ~





Sunday 30 December 2012





‘N OOP HART

Dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid  - elke goeie pad.  -  Spr 2:9 OV

Om ‘n oop hart te hê, is om ‘n liefdevolle hart te hê – ‘n hart wat maklik gee.  Is my hart so ‘n oop hart?  Is dit vir my maklik om te gee?  As ek handel vanuit my diepste self, sal ek die minsame, vriendelike mens wees wat ek  in der waarheid is.

Deur my gebede en die toepassing van my geloof, begin ek ‘n liefdevolle oop hart ontwikkel.  As ek egter soms dinge begin bevraagteken en wonder – moet ek of moet ek nie, dan plaas ek myself in die plek van daardie persoon en vra myself af hoe ek graag behandel sou wou word as ek in sy skoene gestaan het.  Wat is hier nodig – wat is waardevol en van toepassing?  Hoe kan ek help?

In die stilte van gebed kom die antwoord.  Ek kan my liefde, my begrip en aanvaarding gee.  Ek hoef nie heen en weer te jaag om van enige diens te wees nie, maar my leefwyse kan die van my buurman raak.  Ek kan my talente, my vaardighede en kennis deel. Waar daar ‘n behoefte is, deel ek my tyd, my energie en enigiets wat ek mag hê wat die leemte kan vul, want God het in my ‘n liefdevolle oop hart geskep.

Gebed:  U het aan my ‘n liefdevolle oop hart gegee. Help my om dit te gebruik tot verheerliking van U kosbare naam en ten gunste van my naaste.

~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 29 December 2012





TRAPKLIPPE

U het my ruim vastrapplek gegee, my enkel het nie geswik nie.  -  Ps. 18:37

Wanneer ons op ‘n voetslaanpad is, kom ons miskien by ‘n stroompie wat gewoonlik droog is, maar wat begin loop het danksy onlangse goeie reëns in die omgewing.  Dan begin ons soek.  Ons soek na ‘n vlak plek waar die klippe bo die water uitsteek sodat ons op hulle kan trap en droog anderkant kan uitkom.

Die lewe is vol sulke trapklippe, deur God daar geplaas sodat ons hulle kan gebruik om op die regte pad te bly.  Ons kom dit agter wanneer ons aan ‘n groot projek werk en alles sommer seepglad, sonder enige probleem, verloop.  Of miskien het iets onbeplan gebeur wat ons ‘n nuwe rigting laat inslaan het – ‘n rigting wat ons lei van sukses tot sukses.

Waar die trapklippe ons ookal heen mag lei, oog omhoog en hand-aan-hand saamet ons ons dierbare Heer, volg ons hulle.  Ons weet elke klip is daar geplaas deur ons Leidsman en Stuurman – Hy wat ons steeds lei van oorwinning tot oorwinning in Sy Heilige Naam!  Van die een jaar uit tot binne in ‘n nuwe jaar.  Mag 2013 vir elkeen ‘n jaar wees belaai met trapklippe daar geplaas vir ons deur ons sorgsame Hemelvader!

Gebed:  Dankie, Heer, vir die trapklippe waarmee U my lei.

~ Uit Daelikse Woord ~

Friday 28 December 2012





♥ VRIENDELIKHEID ♥

Die liefde is lankmoedig en vriendelik.  -  1 Kor 13:4  OV

Wanneer daar ‘n glimlag op my lippe is, kan ek nie dink aan  onaangename dinge of ongeduldige woorde uitspreek nie.  Met ‘n glimlag op my lippe dra ek warmte en vriendskap oor aan andere.
Vandag glimlag ek! ♥

Met ‘n lied in my hart erken ek die inherente goedheid wat daar in die ganse skepping is.  Met ‘n lied in my hart bly ek die hele dag kalm en rustig en kan ek my blydskap met ander deel. 
My hart sing vandag die hele dag! ♥

Met vriendelikheid teenoor almal deel ek die seëninge uit wat ek vandag het om uit te deel.  Alles wat ek vandag doen, gaan goeie verhoudinge en harmonie om my bevorder.  Ek het begrip vir ander, is geduldig, in dink aan die behoeftes van ander en is gedurig op die uitkyk vir geleenthede om liefde en vriendelikheid te betoon.
Vandag is ek vriendelik en behulpsaam! ♥

Ek onderneem plegtig om vandag met ‘n glimlag op my lippe en ‘n lied in my hart, vriendelik te wees teenoor  ♥ elke persoon ♥ wat my pad mag kruis!  Selfs óók teenoor mense wat lelik optree teenoor my, want een of ander tyd gló ek, gaan die voorbeeld van my vriendelikheid, ook ‘n glimlag op hulle gesig en ‘n lied in hul hart bring! ♥

Gebed:  Vandag is ek vriendelik en lankmoedig Heer!







Thursday 27 December 2012





GODS GENADE

Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.  -  Hand. 6:8

Waar ek ookal mag gaan, en wat ek ookal mag doen, Gods genade is altyd daar om my op te hef en te onderskraag.  Ek is Sy geliefde kind, en in Sy liefde en genade speel Hy ‘n aktiewe rol in alles wat my aangaan – en in alles wat ek doen.

As ek hierdie grootse genade van my Heer my eie maak, is die regte leiding op die regte tyd daar, en in Sy krag kan ek die hoogste sport behaal in wat ek ookal mag nastreef.  As ek aan die ander kant dalk ‘n fout maak, is dit weereens Sy genade wat my leer hoe om die fout te omskep in ‘n seën, tot my hoogste heil.

Alles wat ek doen en alles wat ek ontvang, is die direkte resultaat van die werkinge van Gods genade in my lewe.  Hy voorsien aan my die sleutels tot Sy koninkryk van oorvloed, en ek is ryklik geseën.  Ek gebruik die sleutels om deure oop te sluit wat lei tot ‘n gelukkige, vol en ryk lewe.

Seëninge uit Gods koninkryk van lig, te veel om op te noem, word op my uitgestort as ek my verlaat op die werkinge van Gods genade in my lewe.

Gebed:  Gods genade is aktief op elke gebied van my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~






Wednesday 26 December 2012





LEIDING


Die Here sal jou altyddeur lei … Jy sal wees … soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.  – Jes. 58:11


Dankie Dierbare Here Jesus, dat U nooit moedeloos raak met my nie, al is ek somtyds so geneig is om te wil tou opgooi.  U laat my altyd verstaan dat daar ‘n weg is deur elke krisis – ‘n antwoord op elke liewe uitdaging in die lewe.

Hoe gráág wíl ek nie altyd na U luister nie, Liewe Heer van my hart!   Of die uitdaging nou groot is of nie so groot nie, U lig is altyd daar om my te lei.  U laat elke donker wolk wat oor my mag hang verdwyn, en ek sien en volg weer U lig wat só helder voor my skyn.

Van dag tot mooie dag lei U my en rig U my, Dierbaar Heer, en wat méér is, U openbaar elke mooie dag aan my die goue geleenthede wat op my wag om te gebruik en te benut.  Die wonder van U teenwoordigheid in my en om my, is vir my ‘n riem onder die hart, en my hele wese reageer daarop.  Voorwaarts en opwaarts op my pad van lig wandel ek, gelei, geliefde en geïnspireer deur U, my geliefde Hemelvader, so ver ek gaan.

U lei my áltyddeur, en ek sê vir U dankie, dankie dierbare Heer daarvoor.


Gebed:  U Heer, lei my en rig my altyddeur!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 21 December 2012





'n VROU IS EENDAG GEVRA WAT SY GEBRUIK OM HAAR HELE WESE SO PRAGTIG TE MAAK, WAAROP SY TOE ANTWOORD;
"VIR MY LIPPE GEBRUIK EK DIE WAARHEID.
VIR MY STEM VRIENDELIKHEID.
VIR MY OË BARMHARTIGHEID.

VIR MY HANDE VIR LIEFDADIG HEID.
VIR MY POSTUUR OPREGTHEID.
VIR MY HART GEBRUIK EK LIEFDE.
VIR MY ARMS OM MENSE
VASTEHOU EN TE TROOS WAT SEER HET.
VIR ENIGEEN WAT NIE VAN MY HOU NIE GEBRUIK EK GEBED.
ONTHOU 'n VROU IS 'n SPESIALE GESKENK VAN GOD! 






LIEFDE


Julle moet geloof in God hê.  -  Mark. 11.22


Ek glo in God en in Sy liefde in my en vir my, en besluit nou en hier om hierdie liefde waarvan my hart so vol is, ten volle uit te leef.

Hierdie besluit wat ek geneem het, is gegrond op my geloof, want geloof en liefde loop hand-aan-hand.  Hoe negatief en afbrekend die dinge wat met my ookal mag gebeur, die besluit wat ek geneem het om liefdevol te wees, staan vas.

Die bron van liefde, Jesus Christus, woon diep binne-in my hart.  My hart loop oor van liefde, en ek deel dit vryelik met my medemens.  Sou daar verskille kom tussen my en iemand anders – ‘n verskil wat dreig om ons van mekaar te vervreem, benader ek dit met liefde, en die dreigende onheil verdwyn soos mis voor die son.  Geloof en liefde saam is soos ‘n towerstaf wat net die goeie en die mooie in andere na vore laat kom.

My hele lewe kry nuwe betekenis as ek andere met liefde en deernis behandel, en hoe meer liefde ek so uitleef – en hoe meer ek gee, hoe meer ontvang ek, en hoe sterker word my geloof in die krag van Gods liefde en lig in my en om my.


Gebed:  Ek glo in God en in Sy nimmer-eindigende liefde vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~






Thursday 20 December 2012






BESKERMING


Elke belofte van God is betroubaar;  Hy beskerm die wat by Hom skuil.  -  Spr. 30:5


Elke nuwe dag wat aanbreek, onthou ek om my Heer te dank vir Sy nabyheid – ek sê vir hom dankie dat Hy vandag en elke dag my Metgesel is.  Soos ‘n skaapwagter oor sy kudde waak, so waak my Hemelse Vader oor my en my geliefdes.  Met entoesiasme en vreugde gaan ek hierdie pragtige nuwe dag tegemoet wat Hy my so genadiglik geskenk het.  Ek weet Hy lei my, onderskraag en beskerm my, elke tree van die paadjie wat ek moet stap.

Hoe mooi strek hierdie dag nie voor my uit nie.  As ek oppad is – ry my Heer saam met my.  En wanneer ek by my werk of enige ander plek is of ook selfs met die geríngste sleurwerkie besig is, inspireer Hy my met nuwe idees en vervul hy my hart met liefde en geduld teenoor my medewerkers.  Dit is Hy wat my siel laat sing binne-in my.  ‘n Vrolike lied wat gesien word in die vreugde wat my oë weerspieël en ‘n blye glimlag wat speel om my mondhoeke.

Die vriendelike manier waarop ek met my medemens kommunikeer, maak hulle ook weer vriendelik teenoor my, en ek voel veilig en beskermd dwarsdeur hierdie mooie dag!


Gebed:  Ek skuil by God.


~ Uit Daelikse Woord ~






HEMELSE  OMHELSING


Wie deur die Here bemin word, is veilig by Hom, skuil altyd by Hom en leef onder Sy beskerming.  -  Deut.  33:12


Daar kom tye wat ek net alleen wil wees.  Dit beteken nie dat ek nie omgee vir andere en die hulp wat hulle my probeer gee nie waardeer nie – ek gee om – maar diep in my hart weet ek dat die die regte antwoord slegs by die Liefdesbron binne-in my sal vind.

Dan kom daar ook tye wat ‘n vriendelike omhelsing vir my so baie beteken.  Dit verseker my daarvan dat daar nog liefde in omloop is – dit verseker my van die liefde van my Hemelheer waarin ek steeds so sag en teer toegevou word.  Waar ek ookal mag wees, Hy is áltyd daar om my in Sy oneindige liefde toe te vou en te onderskraag.

Sy teer omhelsing is my stok en my staf deur die lewe heen – dit vertroos my en help my deur elke uitdaging.  Omvou in Sy tere liefde is daar niks op aarde om te vrees nie, want ek is so veilig by die Een wat my skuiling bied teen al die aanslae van die lewe heen – die Een onder wie se beskerming ek leef, ál die dae van my lewe.


Gebed:  In Gods tere omhelsing vind ek altyd rus!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 19 December 2012





KINDERS


Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.  -  Matt. 19:14


Die kinders van die wêreld is die volwassenes van die toekoms, daarom is ons almal ten nouste betrokke by hulle.  Waar ons ookal vandag is, wat ons ookal doen, ons kan die kinders van ons wêreld in ons gebede seën.

Ons kan begin deur vir die kinders in ons eie familie te bid.  Laat ons dan die kinders in ons omgewing, in ons land en in die wêreld insluit.

Kinders het ‘n behoefte aan liefde.  Daar moet vir hulle gesorg word, hulle moet gevoed word, opgelei word, beskerm en gelei word.  In ons eie families, gemeenskappe en dele van die wêreld, sien ons wel om na die kinders.

Deur die krag van ons gebede, kan ons alle kinders dwarsoor die wêreld seën.  Ons opregte omgee-liefde en besorgdheid laat ons gebede nog wyer uitkring, tot seën van elke verlore, eensame, gemolesteerde bang kind wat in ‘n hopie sit, orals dwarsoor die wêreld.

Deur ons kinders te seën in ons gebede, seën ons ook ons wêreld en die toekoms van die wêreld. En Jesus seën weer ons omgee-harte en lewens in antwoord daarop!


Gebed:  Seën die kinders van die wêreld, Heer, seën en wees ook vir ons en ons wêreld genadig.


Praat namens die kinders wat nie self ‘n sê het nie!





Monday 17 December 2012





LAAT LOS LAAT GOD

Ek versterk jou, Ek help jou. – Jes. 41:10

Wanneer ek ontsteld of hartseer voel, en gedagtes oorheers my gemoed, is dit tyd om stil te word en my diepste heiligdom binne te gaan, die plek waar my Heer altyd op my wag.

En daar, in die stilte van my siel sê Hy vir my:  “Moenie hartseer en ontsteld wees nie my kind, Ek is by jou!  Ek versterk en vertroos jou.  Ek hou jou vas teen my bors en vee jou trane af.”

Wie kan dan nog ongelukkig wees met die aanhoor van sulke kragtige trooswoorde?  Van alle ontsteltenis raak ek ontslae want ek weet my dierbare Heer is in bevel van my lewe.  Hy neem alle sombere gedagtes weg en  loop elke tree van die weg saam met my.  Niks is bestand teen Sy krag, liefde en lig nie.

My Heer is my metgesel, my leidsman, my ware bron van inspirasie en ek kyk op na Sy helder lig wat vertroostend oor my skyn.

Gebed:  Ek laat los en laat God oorneem!

Sunday 16 December 2012






KIND VAN DIE LIG

Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  -  Joh.  14:6

Dierbare Kind van die Lig, staan op in die Krag van jou Ware Self wat Ek is in die krip van jóú hart.  Staan op en maak My lig ook jou lig, en die Lig wat van jou afkomstig is, sal enige blom en struik totaal oortref.  Helderder as die son sal dit wees!  En soos die plante reageer op die lig van die son, so sal álmal wat jy vandag mag teëkom, reageer op die lig wat so helder skyn vanuit jou hart – My tuiste!

Elke dag bid jy saam met jou Ligvriendekring vir Lig vanuit die denke van Hom om ook jou denke helder te verlig.  Geliefdes in die Lig,  Ek hoor julle bede – Ek sien hoe die Lig in die denke van elkeen van julle wat so saam bid, al hoe helderder skyn.  Kyk soos Ek kyk, en jy sal self sien dit wat Ek sien – jy sal sien hoe jou brein al hoe helderder verlig word, jy sal sien hoe hierdie Lig in en deur heel jou wese skyn, en hoe geen duisternis kan staande bly voor die Lig wat jy is nie!

Dierbare Kind van die Lig, staan op in die Krag van jou Ware Self!

Gebed:  Vandag staan ek op!

~ Uit Daelikse Woord ~







DEERNIS

As een lid ly, ly al die lede saam;  en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.  -  1 Kor. 12:26

As ek my daarop toelê om my innerlike Christusself ten volle uit te leef, sal  ‘n diepe menslikheid en deernis sigbaar wees in alles wat ek doen en wat ek sê.  Met volle oorgawe, kan ek my tyd en energie gebruik om andere om my te help, en hoe meer ek gee, hoe meer sal ek hê om te gee, want die voorraad waaruit ek liefde en deernis, lig en krag put, kan nooit uitgeput raak nie.

Ek ken Hom in die oggend en ek ken Hom in die aand – ek praat met Hom deur die dag, en niks en niemand kan die rus en kalmte van my siel versteur nie.  Sterk staan ek in Sy liefde en lig, sterk is die ligbring-liefde wat ek met soveel deernis en begrip aan andere gee wat ly.

Soms is woorde nie nodig nie, maar my liefdevolle gedagtes en gevoelens, kan aangevoel word en ‘n verskil maak.

Ek doen dit wat ek weet ek moet doen, soos gelei in Gods lig, en ek bid dat ek altyd net die regte woorde moet gebruik, die regte gesindheid moet openbaar, tot seën van my medemens.

Gebed:  Geseënd is elkeen wat my pad mag kruis.

~ Uit Daelikse Woord ~








GENADE

Deur die genade van God is ek wat ek is.   Sy genade aan my was nie tevergeefs nie.  -  1 Kor. 15:10

Hoe pragtig is hierdie teks nie vandag nie!   Wat is ek?   Ek is ‘n kind van God, ‘n kind van die lig, vry van enige kommer en sorge, vry van inperkende omstandighede, heerlik, stralend vry om te wees dit wat ek in der waarheid is!

Dan sê die teks nog verder, “Sy genade aan my was nie tevergeefs nie.”  Dit beteken dat ek in Sy genade en liefde ‘n wenner is in die lewe.  Geen struikelblok is te groot vir my om in Sy krag te oorkom nie. geen teleurstelling te groot om te verwerk nie, geen negatiewe gewoonte of band so sterk dat ek dit nie kan breek nie.

Ek is deel van alles wat mooi en goed is in my en om my, en hierdie waarheid leef ek uit in alles wat ek is en wat ek doen.

Die genade, oftewel liefde van God, help my om die verlede agter te laat, en nie eenkeer met verlange of spyt terug te kyk nie.  Elke dag is soos ‘n skoon bladsy waarop ek en my Heer nuwe hoofstukke voeg by die verhaal wat omvou met my as oorwinnaar.

Gebed:  Deur die genade van God is ek wat ek is.

~ Uit Daelikse Woord ~





BID VIR ANDER

Die Voorspraak, die Heilige Gees … sal … julle alles  leer.  -  Joh. 14:26

Bekommerd oor ‘n geliefde wat na my mening die pad heeltemal byster geraak het?  Ek onthou – die Voorspraak, die Heilige Gees, sal ons alles leer, en hierdie Gees is in hulle, soos Hy ook in my is.

Daarom bid ek vir hulle, en ek weet, Hy wat vir my rig en lei, sal ook vir hulle rig en lei.  Hy wat my wonde heel wanneer my hart in duisend stukkies lê, sal ook hulle wonde heel.  Hy wat my krag gee wanneer my krag totaal uitgeput is, sal ook vir hulle krag gee.  Hy wat my gesond maak en hou, sal ook vir hulle gesond maak, en op die regte tyd, op die regte manier, sal hulle weer die lig vind, en saam met my stap op Sy helderverligte pad.

Dankie Hemelse Vader, dat U altyd ‘n Voorspraak is vir my en my geliefdes en vir elkeen vir wie ek mag bid.  Vas vertrouend op U lig op hul pad, U liefde wat hulle omvou en U krag wat ook hul krag is, laat ek hulle nou sonder enige sorge veilig in U troue Vaderhande.  Beter as ek, weet U wat vir hulle die heel beste is, en ek sê dankie dierbare Heer!

Gebed:  In U hande, Heer, laat ek elkeen vir wie ek bid.

~ Uit Daelikse Woord ~








SONSKYN IN ONS LEWENS

Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig.  -  Openb. 22:5

Hoe hartlik verwelkom ons nie die sonskyn na ‘n storm nie!  En tog is dit nie vir ons nodig om ooit bedruk te word deur gure weer nie.  Dit maak nie saak of die lug blou of grys is nie, ons kan elke dag geniet want soos die digter gesê het: “Die hart maak sy eie sonskyn.”

As ons lewe en beweeg in die lig van ons Hemelse Vader in ons en om ons, groei en bloei ons in die sonlig van ons Christus-self.

Daar is sonskyn in ons lewens wanneer ons ‘n vriendelike glimlag uitdeel, wanneer ons ‘n helpende hand aanbied of sommer net ‘n bemoedigende woord spreek.  Daar is sonskyn in ons lewens wanneer ons nadink oor die rykdom van seëninge wat ons geniet, en wanneer ons daardie seëninge met ander deel omdat elke ander mens vir ons dierbaar is.  Daar is sonskyn in ons lewens as ons elke dag begin met ‘n bevestigende gebed en weet dat die lig van Christus ons pad verlig en ons besluite en die werke van ons hande rig.

Gebed:  Dankie Heer, vir die sonskyn in my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~





Thursday 13 December 2012






INNERLIKE  VREDE


Ek het jou nog altyd liefgehad.  -  Jer.  31:3


Hoe heerlik die wete dat God my liefhet, ‘n ewigdurende liefde sonder einde.  Hoe diep die rus en vrede wat my siel binnevloei as ek hierdie liefde my eie maak.  Oor en oor herhaal ek die woorde:

God het my lief.   So dikwels herhaal ek dit, dat die diepe betekenis  daarvan begin deurdring in my gedagtes, en die vrede en diepe rus wat hierdie woorde teweegbring in my hart en in my siel, kan nie deur enige persoon of ondervinding aan my gegee word nie.

God het my lief.   My lewe is vol en bedrywig, maar die vrede in my hart is soos ‘n kussing tussen my en al die stampe en stote wat ek in die loop van die dag mag ervaar.

God het my lief.   Ek is Sy geliefde kind, ‘n deel van hierdie wêreld wat Hy geskep het, deel van die orde wat heers oor heel Sy skepping.  Hy, die een krag en die een mag in die heelal, sien ook om na my, Sy mensekind, omdat Hy my liefhet.

God het my lief.   Hoe meer ek hierdie waarheid my eie maak, hoe dieper word my dank, en hoe groter die vrede in my gemoed.  Vir ‘n liefde só groots en só onvoorwaardelik – dankie, baie dankie, Dierbare Hemelvader!


Gebed:  God het my lief!


~ Uit Daelikse Woord ~









BLYDSKAP


So ‘n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee.  – Pred. 5:19


Hoe heerlik om so vol blydskap te wees dat ‘n mens skaars dink oor wat in jou lewe gebeur.  En wanneer is ‘n mens dan só vol blydskap?  Slegs wanneer hy leef vanuit die liefde van die Heer van sy of haar hart.  Slegs wanneer hy of sy Christus ken as die oppergesag in héél sy of haar lewe.

“Heer, U is die vreugde wat my opbeur wanneer ek soms af voel.  U is die krag wat my aanspoor om blymoedig voort te gaan wanneer ek bekommerd is oor die uitdaging wat voor my lê.

In die stilte van my diepste heiligdom binne-in my plaas ek U elke dag in beheer van my lewe en alles wat my en my geliefdes aangaan, en met ‘n vreugde diep en suiwer, sien ek die wonder van Gods lewenskrag in en deur alles en almal om my pols, en ek sê dankie dat ek deel kan wees van Sy grootse skepping.

Heer, dit is U dag hierdie.  Vandag sal ek U dien.  Ek sal U krag, U liefde en lig uitleef teenoor alles en almal wat my pad mag kruis.  Ek sal vandag sing en vrolik wees op my pad van lig.  Ek sal vandag met liefde gee en gelukkig wees!”


Gebed:  Vandag gee ek met liefde en is, o, so bly!


~ Uit Daeliksewoord ~








Wednesday 12 December 2012






OOK DIT SAL VERBYGAAN


Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.  -  Jes. 40:31


Daar word vertel dat ‘n koning eenkeer vir sy wyse manne gesê het om net een sin vir hom te gee wat onder alle omstandighede van toepassing is.  Hulle antwoord was: “Ook dit sal verbygaan.”

En dit is ook ‘n gedagte wat my weer moed gee wanneer ek voel dat alles wat nou met my gebeur darem net te erg word.  Al lyk dit asof daar nie ‘n manier is waarop ek ‘n oplossing gaan vind nie, word ek net stil, wend my na binne, en laat alles in die bekwame, liefdevolle hande van Hom wat daar woon.  Rus en vrede vul my gemoed, en ek weet – ook dit sal verbygaan.

Alles is tydelik van aard, en wat ookal gebeur, dit sal verbygaan en ek sal anderkant uitkom, sterker en wyser.  Dit wat ek nou as ‘n uitdaging sien, is in werklikheid net nog ‘n eksamen wat ek moet aflê – nog ‘n les wat ek moet leer op die hoofweg van die siel.  En wanneer dit afgelê is, sal ook dit verbygaan, en ek sal geestelik soveel sterker wees.


Gebed:  Ook dit sal verbygaan.


~ Uit Daelikse Woord ~







LEER MY HEER


U liefde klop warm in my hart, Heer,

U lig skyn helder in my gedagtes,

U krag straal en werk in my en deur my.

Leer my Heer,

Hoe om U liefde in my hart

die vrede in my gemoed te maak.

Hoe om U lig in my gedagtes,

die lig in my gedagtes te maak.

Hoe om U stralende lewenskrag

die stukrag in my lewe te maak.

Hoe om U lig, U liefde en U krag

my eie te maak –

Tot my eie en ander se heil.

Leer  U my dit Heer.