Wednesday 16 November 2016

Want aan *U* behoort die Koninkryk








LAAT DIT AAN GOD OOR








LAAT  DIT  AAN  GOD  OOR


Lees Spreuke 16:1-9


 “Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.” – Spr. 16:3


Vandag gee die Spreukeskrywer vir jou ‘n onfeilbare suksesresep in ‘n neutedop:  Net wanneer jy bereid is om dié dinge wat jy doen volkome aan die Here oor te laat, het jy ‘n waarborg dat jou voornemens sal geluk.


Dit is goed en reg om drome te droom en planne te maak, mits jy terselfdertyd gewillig is om die totaal van alles wat jy graag wil doen in God se hande oor te gee. En wanneer dinge dan anders verloop as wat jy beplan het, moet jy stééds tevrede wees met God se plan vir jou lewe – al verskil dit hémelsbreed van die planne wat jy beraam het.


Alhoewel nie een van ons ons omstandighede kan kies nie, kan ons wel kies hoe ons op ons omstandighede gaan reageer. As jy dus vanjaar bid vir jou kind se huwelik en dit beland tog op die rotse;  as jy bid vir jou man se werksomstandighede en hy verloor tog sy werk;  as jy bid vir gesondheid en jy beland tog in die hospitaal ... Onthou dat dié  gebeure deel van God se plan vir jou is.


En God laat op die ou end alles goed uitwerk vir sy kinders – ook al lyk dit op die oomblik vir jou asof al jou drome skipbreuk gely het.  God sal negatiewe dinge soos krisisse, siekte en swaarkry vir jou in pluspunte verander.  Vertrou Hom net elke dag onvoorwaardelik.


Here, vergewe my dat ek so maklik tou opgooi wanneer my planne misluk.  Leer my opnuut om alles wat ek doen, aan U oor te laat. Dankie dat ek op U kan vertrou om alles uiteindelik vir my ten goede te laat uitwerk.  Amen



Nina Smit  :  Die Groot Dagboek vir die Vrou na God se Hart



Koningsdogters vir Jesus Bediening / Facebook