Friday 30 November 2012





IS DIT DONKER OM JOU HET JY MOED VERLOOR



Is dit donker om jou, het jy moed verloor

Het die swaard van seerkry jou hart deurboor

Het  die gee en die vat van die lewe jou moeg gemaak

Het die winterkoue in jou hart kom bly


Het  jy vergeet  hoe dit voel om te glimlag

Het  jy vergeet daar's tog 'n lig in elke nag

Tel op jou oë, op na bo


(Tel op jou kop, kom staan nou op!)



[Koor]

Daar's 'n plek in die son vir jou in hierdie wêreld

Daar's 'n doel en 'n rede hoekom jy nou hier is

Gaan haal jou drome en maak dit joune

As jy daarin glo, en in jouself kan glo

Tel op jou kop en kyk die lewe in die oë


Jy weet, as jy afval kan jy weer opklim

En as jy onder is kan jy weer oor begin

Elke storm wat jy oorleef maak jou sterker

En alles wat kon gewees het is verby


(Moenie terugkyk nie, moenie omkyk nie!)


Diep in jouself is iemand wat kan aanhou

En Iemand wat jou vertroos en jou sal vashou

Draai  jou nat oë uit by jou ruite

Sien die warm van die son se strale buite


Tel op jou oë, op na bo


Tel op jou kop en kyk die lewe in die oë



~ Marinda Myers ~





‘N SAGTE HART

Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. – Matt. 11:29

As ek voel dat spanning in my opbou oor die dinge wat met my en om my gebeur, kyk ek weer na die woorde van Jesus: “Neem My juk op julle en leer van My …”

Gee my ‘n sagmoedige hart, Heer, en nederig, want ek wil só graag rus kry vir my gemoed.  Ek wil ontspanne in U lig en liefde, die dinge doen wat U wil hê ek moet doen.  Ek wil dit reg en goed doen, Heer, want:

Met U lig in my gedagtes, is my gedagtes suiwer en helder, en met hierdie lig-gedagtes wat my lei en rig, sal my werk U heerlikheid in my en om my weerspieël.

Met U liefde in my hart, is ek sagmoedig en nederig, en die deernis waarmee ek my medemens benader en dien en help, skep harmonie en vrede so ver ek gaan.  En U weet hoe nodig ons hierdie vrede en harmonie het in hierdie land van ons het.

Met U krag in my lewe, is ek tot alles in staat, en kan ek U wonderdade deur my laat geskied.

Gebed:  Gee my Heer, ‘n sagmoedige hart.

~ Uit Daelikse Woord ~


Thursday 29 November 2012





BESKERMD

Die Here is naby.  Moet oor niks besorg wees nie.  -  Filip. 4:5,6

Die Here is naby ons, ons moet oor niks besorg wees nie – hóé nodig het ons nie híérdie boodskap vandag en elke dag van ons lewe nie!  Hy is só naby – Hy is binne-in ons, en as gevaar ons bedreig, keer Hy dit weg nog vóór ons selfs bewus was daarvan.  Hy sorg vir ons, waak oor ons, en bly ons Pantser van Lig waardeur niks en niemand met kwade bedoelings ons kan bereik nie.  Of ek nou werk of slaap, stap of op pad is, ek bly rustig en kalm, want ek weet Wie waak oor my!

Dankie, Vader, vir die hemelse voorreg om só veilig te kan voel en wees in U beskermende Liefde, Lig en Krag.  Saam met U wandel ek, ry ek, werk ek, en ek weet – U is die Een wat saam met my stap, saam met my ry, my eie persoonlike Wonderwag!  En ek vra U, Heer, waak ook so oor my geliefdes.  Waak oor die mense van hierdie mooi land van ons, en bring lig in die duisternis, bring insig in die denke van hulle wat aan die stuur is, en omskep ons land in die mooi, veilige land wat dit kán wees in U.

Gebed:  Die Here is naby, ek is oor niks besorg nie.  Dankie, Vader!

~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday 28 November 2012





VRIENDELIKHEID

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik.  – 1 Kor. 13:4

Ons gedagtes teenoor die mense in ons huis, werk, omgewing en wêreld, is vriendelik en mooi, en vir ons en vir hulle tot ‘n seën.  Ons soek en vind dit wat goed en mooi is in ons medemens en in ons wêreld, want ons weet God heers oor alles en almal heen, en ons opheffende gedagtes maak die deure tot Sy seëninge wyd oop.

Ons vriendelike gedagtes laat ons ook vriendelike woorde gebruik, woorde wat harmonie en welwillendheid skep waar ons ons ookal mag bevind.  ‘n Vriendelike woord kan vir ‘n ongelukkige persoon kleur gee aan ‘n andersins vaal dag.

Woorde wat getuig van ons liefde en belangstelling, bring heling mee vir die een wat hulle gebruik sowel as vir die een wat luister.

Kom laat ons vandag met nuwe oë kyk na ons wêreld en die mense van ons wêreld.  As ons alles en almal opdra in gebed, sal ons gedagtes teenoor andere mooi en goed wees, en ons woorde sal seëninge oordra.  Rus en vrede sal heers in ons gemoed want ons weerkaats die liefde van Jesus uit en ander mense sal Hom in ons sien.  Wat ‘n wonderlike geleentheid vir jou en vir my om iets groots te doen vir ons medemens wat niks kos nie!

Gebed:  My gedagtes en woorde is liefdevol en vriendelik.

~ Uit Daelikse Woord ~


Sunday 25 November 2012





GELOOF

Om te glo, is om seker  te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.  -  Hebr. 11:1

Ek glo.  Met my hele hart en siel glo ek in God, en in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun, my Verlosser en Saligmaker.  Omdat ek so vas staan in my geloof, kan ek enigiets wat voor my lê met vaste tred benader.  Ek glo dat ek oor al die krag beskik wat ek mag nodig hê deur selfs die hewigste aanslae teen my.  Ek weet dat wysheid en insig altyd tot my beskikking is omdat Christus self binne-in my woon.

Geloof gee my die vermoë om altyd die blink kant van dinge te sien – om altyd entoesiasties te bly. Ek weet my Heer is altyd aan my sy – Hy is my vennoot in álles wat ek aanpak.  Ek is dus nooit alleen wanneer ek een of ander besluit moet neem rakende my lewe of belange nie.

Ek sien die krag van Christus ook aan die werk in hulle vir wie ek bid, en glo in hulle eie moontlikhede om ‘n sukses van hul lewe te maak.  Ek moedig hulle aan deur hulle te vertel dat ek in hulle glo, en maak so ook hul eie geloof sterker.

Gebed:  Ek glo en my lewe is ‘n seën!

~ Uit Daelikse Woord ~





BESKERMING DEUR GEBED

Bid gedurig. – 1 Tess. 5:17

Ons berei ons altyd voor vir enigiets wat ons ookal moet doen.  Wanneer dit koud is, trek ons warm klere aan vir beskerming.  Ons vertrek altyd betyds sodat ons genoeg tyd het om veilig skool toe, werk toe, kerk toe, winkel toe, te ry.  Met studies en navorsing berei ons ons voor vir enige soort toets wat ons moet skryf.

Die heel belangrikste voorbereiding wat ons egter kan tref vir enige dag, tyd of plek in ons lewe, is gebed, want dit herinner ons daaraan dat God altyd met ons is, en altyd in ons en om ons aan die werk is.  Gebed versterk ons geloof en beïnvloed ons gedagtes in so ‘n mate dat alles wat ons doen of sê ons diepe geloof en blydskap in ons Heer weerspieël.

Wanneer ons dink aan die krag van die Heilige Gees aan die werk in ons en ons geliefdes is ons eintlik besig om te bid.  As ek nét die goeie en die mooie in iemand anders of in een of ander situasie sien, is ons besig om te bid.  Met hierdie een-minuut gebede wat ons deur die dag bid, skakel ons in op die lig, liefde en krag van God wat steeds in ons en om ons skyn en werk, en ons is beskermd en veilig.

Gebed:  Die krag van God beskerm ons en ons geliefdes.

~ Uit Daelikse Woord ~



Thursday 22 November 2012




VERGEWE

Vergeef ons ons oortredings soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree.  -  Matt. 6:12

Sê ek miskien, “Ek kan nie vergewe of vergeet nie …”?  Dan sê ek maar net dat ek nie gewillig is om te vergewe of vergeet nie.  As gevolg van my klein menslike siening is ek onwillig om te vergewe ….

Maar ek kan darem iets daaraan doen – ek kan my gedagtes ophef en Christus en Sy liefde in my ken.  Deur Hom wat gesterf het vir al my sondes aan die kruis, is ek tot énigiets in staat!  Ek kan vinnig en volkome vergewe.  Ek kan bó menslike beperkinge uitstyg en met Sy oë na die omstandighede kyk.  Ek kán ‘n liefdevolle, vergewende en begrypende mens wees.  Ek kán enige neiging om hipersensitief, vol wrewel en onvergewend te wees, oorkom in Sy liefde.

My hart is gevul met liefde, en ek stort dit op alles en almal om my uit.  Ek is tot álles in staat deur Christus wat in my woon.  Ek rus in die vrede wat Sy liefde my bied, en dis vir my maklik om enigiemand wat my te na kom, onmiddellik te vergewe.  Ek word geseën en is tot seën van my medemens.

Gebed:  Deur Christus in my vergewe ek maklik en volkome!

~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday 21 November 2012





BEANTWOORDE GEBEDE

Met vreugde sal hulle uittrek en met vrede gelei word. – Jes. 55:12 OV

Ons houding van vertroue en geloof nadat ons gebid het, is só belangrik!  Ons vra, ons glo, ons sê dankie, en volkome ontspanne wag ons dan op ons Hemelse Vader se volmaakte antwoord.  Hierdie biddende houding van ons gee báie krag aan ons gebede.

Ons bly oop en ontvanklik en word gelei tot die regte optrede.  Vrede heers in ons gemoed omdat ons wéét dat die krag van Sy Heilige Gees in ons en om ons aan die werk is tot ons hoogste heil.  Op die mees lonende wyse word ons gebede beantwoord, en opgewonde sien ons uit na die antwoorde om vorm aan te neem in ons lewe.

Gebed is en bly ons uiters waardevolste tyd van kommunikasie met die Heer van ons hart, ‘n tyd waarin ons nie net vra nie, maar óók élke keer opnuut gevul word met Sy seënende lig, liefde en krag.  In hierdie krag en liefde is dit vir ons maklik om, nadat ons gebid het, volkome te ontspan sodat Hy ons in vrede kan lei.  God antwoord élke gebed op Sy eie tyd (ons moet altyd onthou dat ons tyd nie Sy tyd is nie) en op Sy heel beste manier, wat vir ons uiteindelik ten goede sal meewerk.

Gebed:  Dankie Heer, vir U antwoorde op my gebede en vir die wete dat U luister na elkeen van hulle.

~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday 20 November 2012





GELIEFDE

Die grootste hiervan is die liefde!  - 1 Kor. 13:13

Wanneer  vriende en geliefdes ons hulp nodig het, vertroos ons hulle met  ons innige liefde en deernis.   Ons herinner hulle daaraan dat die krag van God steeds aan die werk is in hulle en om hulle al sien hulle dit soms nie, en dat Hy hulle sal bystaan in wát hulle ookal mag ondervind, want geen toestand of daad kán énigsins afbreek doen aan Sy allesomvouende liefde nie.

Ons wéét dat ons geliefdes en vriende volgens hul eie begrip van God en Sy liefde leef, en bly dus liefdevol teenoor hulle – al kry ons ook géén reaksie van hulle kant  af nie.  In ons gedagtes en ons gebede stort ons sonder ophou Gods eindelose liefde op hulle uit van oomblik tot oomblik.

Ons opregte belangstelling en reaksie in en op enigiets positiefs wat hulle ookal mag sê, moedig hulle aan om die regte houding teenoor die lewe in te slaan.  Ons praat woorde wat kom nie van ons nie, maar vanuit die Christus wat in ons woon – woorde wat slégs aanspoor en bemoedig en nooit ooit  afbreek nie.  Ons wéét diep in ons harte dat hierdie liefde wat ons so onvoorwaardelik vir hulle gee, vir hulle sal troos en met nuwe moed sal vervul om weer daardie eerste treetjies in nuwe geloof en vertroue te gee.

Gebed:  Liefling, God het jou onvoorwaardelik lief!  Hy het jou só lief, jy is sy eie geliefde kind!  Hy wil nét die goeie vir jou hê!

~ Uit Daelikse Woord ~





Monday 19 November 2012






SOOS DIE LELIE

Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal vloei soos die lelie.
Hos. 14:6 OV

Binne-in die bol van ‘n plant, net soos in ‘n saad, is die patroon en ál die elemente wat nodig is om ‘n volmaakte plant te lewer, vasgelê.  Nét so het God ook in die mens Sy patroon vasgelê, wat dit vir hulle moontlik maak om vol, ryk lewens te voer, as hul daartoe geneë is en Hom ken.

Soos ‘n lelie ontvou Gods volmaakte patroon ook in my.  Vanuit my heerlike, stralende Christus-gees maak ek almal sover ek gaan gelukkig met my woorde en my dade.  Soos die heerlike geure van die lelie, is harmonie en vrede die aroma waarin ek lewe en beweeg.

Wanneer die bol ophou blom, gaan die lelie ook nie dood nie.  Dit rus vir een seisoen, om weer in volle glorie te onluik op die regte tyd.  So ook rus ek elke nag, om in die oggend verfris en met nuwe ywer ‘n nuwe dag te betree.  Met elke nuwe idee, elke nuwe insig en veranderde houding, beklemtoon ek die opstandingskrag van die lewe wat Christus my genadiglik mee geseën het.

Gebed:  Dankie, Heer, vir U opwekkende lewe in my.

~ Uit Daelikse Woord ~

Sunday 18 November 2012





TROOS

Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou. – Deut. 33:27

God het my lief, en met teerheid en sorg vou Hy my toe in Sy vaderarms.  Nooit is ek alleen nie – ek lewe, beweeg en bestaan in Sy kosbare liefde, lig en krag.

Met volle vertroue en oorgawe plaas ek al my vrese en bekommernisse in Sy troue sorg en bewaring.  Ook mense en omstandighede wat my met kommer en wanhoop mag vul, oorhandig ek óók aan Sy troue sorg.  Ek gló dat Sy wil sal geskied.

Ook vir hulle wat my ná-aan die hart lê, sien ek omvou in Sy grote liefde, en ek wéét dat Hy hul steeds lei op weë wat vir hulle reg en goed is, weë wat lei tot hul hoogste heil.

Ek ís ‘n kind van God, geskape na Sy beeld en gelykenis.  Stap vir stap lei Hy my, leer Hy my en stadig maar seker, treetjie vir treetjie beweeg ek ál hoe nader aan Sy heilige troon.

My skuilplek is bý God, en ek rus in die koestering van Sy ewige arms.

Gebed:  Die liefde van God omvou my en ek is veilig!

~ Uit Daelikse Woord ~

Friday 16 November 2012





WEES LIEF VIR DIE HERE

Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.  -  Rom. 13:10

Jesus het gesê:  “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met  jou hele siel en met jou hele verstand.  Dit is die eerste en groot gebod.  En die tweede wat hiermee gelykstaan:  Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”

Ek het die Here lief deur Hom te erken as die enigste krag in my lewe, as die bron van al my heil.  Ek het die Here lief deur Sy teenwoordigheid in my te soek en deur ‘n kanaal te wees waardeur Sy lig, liefde en krag vloei.  Ek het die Here lief deur Sy ewigdurende liefde te aanvaar en deur dit gedurig uit te straal na almal rondom my.

Ek het my naaste lief deur hom te aanvaar, deur hom te seën, deur hom te waardeer, deur hom lof toe te swaai, deur die goeie in hom raak te sien, en deur te probeer met my hele hart om hom te verstaan.

Ek het die Here my God lief met my hele hart en ek het my naaste lief soos myself.

Gebed:  Ek het die Here my God lief met my hele hart en ek het my naaste lief soos myself.

~ Uit Daelikse Woord ~






REGVERDIGHEID

God is my redder;  Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. 
Jes. 12:2

God is in beheer van my lewe, en alles wat my aangaan, word steeds deur Hom reggestel en in harmonie gebring.

Ek vertrou op Sy regverdigheid altyd aan die werk, en steur my nie aan die harde woorde of onvriendelike dade van ander mense nie.  As iemand nie regverdig of eerlik teenoor my is nie, raak ek nie depressief of bekommerd nie.  Ek glo in Gods wet van regverdigheid, en weet dat alles volmaak uitwerk onder hierdie wet.

Ek is self eerlik en opreg in al my onderhandelinge, en ek verwag dieselfde van ander mense.  Met my hele hart glo ek dat alles vir my ten goede meewerk;  dit wat my toekom, sal niemand van my kan weerhou nie.  Die regverdigheid van God is aan die werk in my lewe, en ek is gelukkig, vry en ongebonde, want waar Hy aan die werk is, werk alles ten goede mee – vir my en vir my medemens.

Gebed:  Ek glo in Gods regverdigheid aan die werk in my lewe.

~ Uit Daelikse Woord ~








Thursday 15 November 2012





LIEFDE


Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.  1 Joh. 4:19


God het ons lief.  Daar is geen voorwaardes wat ons moet nakom om Sy liefde vir ons te verdien nie.  Ons is Sy kinders.  Sy liefde is altyd tot ons beskikking deur Christus wat in ons hart woon.  As dit nodig is dat ons vandag opnuut aan hierdie waarheid herinner moet word, sal ons net stil word, en ons wend tot die Heer van ons hart.  Hy sal ons welkom heet en tóévou in Sy suiwer liefde.

‘n Stroom van liefde sal ons hart binnevloei en tot oorlopens toe vul.  Die foute van die verlede sal vergewe en vergeet word, en met ‘n hart waar die liefde self woon, sal ons blymoedig kan voortgaan op ons pad van lig.

Waar daar liefde is, is vreugde en vrede en voorspoed, en vol entoesiasme maak ons ons gereed vir al die seëninge wat God op ons gaan uitstort uit Sy Vaderhart vol nimmer-eindigende liefde.


Gebed:  Ek is ‘n kind van God, oorvloediglik geseënd.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 14 November 2012







VOLKOME VRYHEID


Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees.  Gal. 5:1


Ons afhanklikheid van iemand anders vir geluk en vervulling, kan lei tot gevoelens van onwaardigheid en hulpeloosheid.  Enigiets van buite onsself, wat ons beskou as noodsaaklik vir ‘n gelukkige lewe, kan ons aan bande lê – ons geestelik gestremd maak – en die ware geluk van die lewe self by ons laat verbygaan.

Hierdie soort van afhanklikheid kan die gevolg wees van misplaaste geloof dat iets wat ons van buite bekom, ons sal help om van ons kommer en spanning ontslae te raak.  Hierdie soort geloof is van alle waarheid ontbloot, en enigeen wat hieraan gebonde is moet net besef dat daar slegs een Bron van geluk en vrede is, naamlik Christus Jesus.

Verlang ons na groter vryheid?  Dan moet ons nou van rigting verander en ons wend tot die Heer van ons hart, ons inwonende Christus, want slegs in Hom en deur Hom sal ons ware vryheid vind, en nie meer van mense en dinge van buite afhanklik wees vir ons eie geluk en vrede nie.


Gebed:  In Christus is ek heel en vry!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 13 November 2012






SPIEËLBEELD


Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem.  Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.  Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds toe. – 2 Kor. 3:18


Hoe sien jy jouself, kind van God, kind van die lig?

Wonder jy soms of jy werklik nodig is?  Jy is!  Twyfel jy dalk of jou lewe enige doel het en of jy ooit iets beteken vir iemand?  Laat omstandighede of wat ander mense van jou sê dit in twyfel trek?

Wanneer jy besef dat jy ‘n geestelike wese, ‘n kind van God is, kan jy onmóóntlik nié voel dat jy onbelangrik is nie!   Jy is ‘n unieke en só ‘n besondere  skepping van God!  Jy mag dit soms vergeet, maar dit is ‘n feit.  Dink aan jouself as ‘n kind liefdevol en teer geskape deur Gods liefdevolle Vaderhande  en verhef  jou gedagtes oor jouself.  Dink oor die wonderlike kragte en moontlikhede wat God oor jou uitgestort het en raak ontslae van jou self-vernedering.  Want God sou nooit enige van Sy kinders geskape het as minderwaardige kwaliteit nie.  Hy het elkeen van ons só baie lief en is só trots op ons Sy handewerk!

Jy het só baie om te gee, en met God se hulp kan jy sóvéél opbouende dinge tot hierdie lewe bydra!!


Gebed:  Ek is ‘n geestelike wese – ‘n kind van God en die lig!


~ Uit Daelikse Woord ~









EK IS GEREED

Sit eers jou werk buite aan die gang en bewerk jou lande;  daarna kan jy huis bou.  Spr. 24:27

Ek wil so graag altyd gereed wees vir enigiets wat ookal met my gebeur, maar hoe kan ek daarin slaag?

Hiervoor is daar net een antwoord – ek moet elke dag tyd maak om my Heer te nader in gebed – om vir ‘n tydjie alleen met Hom te wees in my diepste heiligdom.  Dis ‘n tyd hierdie wat my ophef – ‘n tyd waarin Sy lig my gedagtes verlig en ophef, Sy liefde my hart vul en Sy krag my vul met nuwe moed en ywer.  In Sy heilige teenwoordigheid verdwyn al my kommer en sorge.

En dan luister ek.  Ek luister na wat my Heer vir my wil sê.  Die wyse raad wat Hy my gee, is meer ‘n gevoel wat by my opkom as soveel woorde.  Ek weet skielik wat ek moet doen, en in Sy krag sien ek kans om dit te doen.

Die waarde van hierdie geseënde tyd wat ek so saam met Hom wat in my woon deurbring, kan nie in woorde beskryf word nie.  Ek weet net dat my geloof daarna soveel sterker is, my liefde en deernis soveel dieper, en ek sien kans vir enige uitdaging!


Gebed:  My stil tye maak my gereed vir elke uitdaging in my lewe.  Met my hand in U Vaderhand, het ek NIKS om te vrees nie!


~ Uit Daelikse Woord ~





Saturday 10 November 2012






NUWE BEGIN


Die lamp van jou liggaam is die oog.  As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.  -  Matt. 6:22  OV


Het  gister my dalk minder gebied as waarvoor ek gehoop het?  Dit maak nie saak nie, want ek is gladnie gebonde aan die verlede nie.  Elke nuwe dag is ‘n skoon blad vir my om op te skryf.  Ek laat los dus die verlede en begin vandag opnuut.

Ek maak tyd om stil te word – om my diepste heiligdom binne te gaan en rus te vind in die liefde en teenwoordigheid van Hom wat daar woon.  In hierdie stil oomblikke saam met my Heer, word my gedagtes hernu, en ek is oop en ontvanklik vir seëninge van Bo.

Elke keer wanneer ek Hom opsoek in gebed hernu Hy my.  Hy deel die dag met my en ek geniet alles wat ek doen want ons doen dit tesame.  Die seën van Sy liefde waarvan my hart so vol is, deel ek vrylik met my medemens.

Aan die einde van die dag sê ek uit die diepte van my hart dankie vir Sy hemelse samesyn, en gaan rus ek met die wete dat môre nog ‘n heerlike dag saam met Hom gaan wees.


Gebed:  Ek hou my oog gerig op God, en alles in my en om my is goed.


~ Uit Daelikse Woord ~





Friday 9 November 2012







TROOS


Wees sterk en laat jou hart sterk wees!  Ja, wag op die Here!   
Ps. 27:14  (OV)


Toe Jesus na Sy opstanding aan Sy dissipels verskyn het, het Hy gesê,  “Onthou:   Ek is by julle al die dae.”

Die krag van die opgestane Christus is op hierdie oomblik ook binne-in my.  Hierdie wonderwerkende krag van Christus in my is lig, lewe, blydskap en vrede.  Hy is altyd gereed om enige ongemak te heel, om verdriet te troos en eensaamheid te laat verdwyn.

Die liefde van Christus vul my hart.  Dit vloei in my, deur my en om my, en omskep enige duisternis in lig wat my weg verhelder.  Sonder enige vrees gaan ek stadig maar seker vooruit op my pad van lig.

Raak ek onseker en bang, soek en vind ek my troos by Hom wat in my woon.  Hy gee my krag en vertroos my.  Ek wag op die Here van my hart, en vrede vul my gemoed.

Op enige plek, te enige tyd wanneer ek hulp mag nodig hê, doen ek ‘n beroep op die Christus van my hart.  Hy omskep my twyfel in sekerheid en alle duisternis verdwyn in die niet voor Sy helder lig.


Gebed:  Ek wag op U Here!  U alleen vertroos my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 6 November 2012







Liewe Vader...


Waar begin mens...

Hoe sê 'n mens ooit dankie...

Dankie dat U elke tree

van elke dag by ons is...

Soms wonder ons hoekom

dinge moet gebeur...

So baie vrae, seer harte...

Here U weet wat U plan

vir ons lewe is...

Help ons om nie ons plan

vir ons lewe uit te leef nie...

Maar wel dit wat U vir

ons beplan het...

Ons weet dat as ons

na U verlang...

Kan ons net opkyk en

sien U is altyd daar...

U weet van elke ding

in ons lewe...

Soms weet ons nie

eers daarvan nie...

U is liefde...

Dankie vir al die

liefde en omgee...

Beskerming en vertroosting...

As ons te moeg is...

Te hartseer is

om weer op te staan...

Gee U vir ons rede

om weer voluit te leef...

Want U het net die

beste vir ons beplan...

U Seun het aan die kruis gesterf...

Dit sal vir altyd meer

as genoeg wees...

Ek bid dat U elkeen

wat hierdie lees styf

sal vashou in U hande...

Want hulle verdien

net die beste!


Amen


~ Sandra R Greyling ~