Friday 29 August 2014

HELING

Daar was krag van die Here om hulle te genees.  -  Luk. 5:17  OV

Christus is die koning van my hart.  Deur Sy krag in my, is ek in staat om gesond te wees na liggaam, siel en gees.

Sy lewenskrag pols deur my are, dit verkwik my siel en bring nuwe lewe aan elke sel, atoom en orgaan van my liggaam.  Dit stel hulle in staat om hul funksies goed en reg uit te voer, in harmonie met die res van my liggaam.

Met rus en vrede in my gemoed, ontspan ek in die wete dat God nou aan die werk is in my hele liggaam.  Dít wat nie in harmonie met Sy lig en liefde is nie, herstel Hy nou, en ek is oor niks meer bekommerd of bang nie.  Ek vertrou Hom met my hele wese.

Die krag van Sy lewe in my vul my met nuwe lewensblyheid.  Ek glo nie ek kan meer vrede vir my gemoed ondervind nie, meer geloof demonstreer of ‘n beter lewe voer nie, as om vas te glo dat die helende krag en lewe van Christus altyd in my en deur my werk en straal, om my te heel en te vul met nuwe energie en lewenskrag.

Gebed:  Ek lewe en bestaan in die lewenskrag van Christus.

~ Uit Daelikse Woord ~

Wednesday 20 August 2014

HELPENDE  HAND

Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.  -  Fil. 1:27

Hoe kan ek tot seën van ander om my wees, en terselfdertyd ook self daarby baat?  Ek bied ‘n helpende hand aan vriende en geliefdes, ja, almal wat my hulp nodig het.

Gee, en vir julle sal gegee word, is die boodskap van my Heer.  Ek luister na Hom – ek gee, en die vreugde en vrede wat Hy aan my gee, maak my lewe waarlik die moeite werd.

As ek iemand op my lewenspad teëkom wat platgeslaan is deur die uitdagings van die lewe – steek ek my helpende hand uit om hom op te hef en die nodige moed te gee om weer aan te gaan.

Wanneer daar iemand is wat verward is, siek of troosteloos – dan is my helpende hand daar om hom op te hef, te seën en te lei.

Gebruik my hande, dierbare Heer, om my medemens te help.  Lei my en gebruik my daar waar U my kan gebruik en maak my hart gewillig om U wil te doen, totdat my lewenswandel ook in ooreenstemming met die evangelie van U, my Heer en Meester is.

Gebed:  Ek steek ‘n helpende hand uit na my medemens.

~ Uit Daelikse Woord ~

Monday 18 August 2014

MOED

Vertrou op die Here!  Wees sterk en hou goeie moed!  -  Ps 27:14

Aan ons vermoëns in Christus is daar geen perke nie, en dit sluit moed ook in.  Wanneer alles glad en ordelik verloop in ons lewe, voel dit vir ons dat dit nie nodig is om ons moed te bewys nie.  Ons geloof en bydrae tot die ordelike verloop van ons lewe en belange, weerspieël egter ons moed.  Moed is ‘n gawe van God aan al Sy kinders, nie net aan ‘n paar uitverkore en liggaamlik sterkes nie.

Moed is om vas te staan in die waarheid dat Christus in ons woon.  Moed kom vanuit ons diepste heiligdom binne-in ons waar Jesus woon en is altyd tot ons beskikking as ons deur moeilike omstandighede gaan en daarvoor vra.

Moed gee ons die krag om die liefdevolle, rustige mense te wees wat God ons geskep het om te wees.  Om ware kinders van die lig te wees wat ongeag uiterlike omstandighede, blymoedig voortgaan op ons pad van lig.

Moed maak dit vir ons moontlik om nee te sê vir negatiewe gedagtes, en ja vir die waarheid wat ons vry maak.  Ware moed is in ons, gereed om deur ons gebruik te word.

Gebed:  Ware moed is ook binne-in my.

~ Uit Daelikse Woord ~

Thursday 14 August 2014

SAGMOEDIG

Die vrug van die Gees is ...... sagmoedigheid.  -  Gal. 5:22 (OV)

Met ontsag staan ek voor die krag van Gods skepping, maar dis Sy sagmoedigheid, Sy teerheid, wat my die meeste raak.

Gods wil vir my is altyd tot my hoogste heil, maar nooit sal Hy dit op my afdwing nie.  Geduldig wag Hy dat ek stil moet word, en luister.

Hierdie teerheid van God vorm die fondament van my lewe.  As die uitdagings en eise wat die lewe aan my stel dreig om my te oorweldig en ek selfs soms vergeet dat ek ‘n kind van die lig is, dan is dit Sy liefde en teerheid wat my stok en my staf is – wat my ophef en vul met nuwe moed en krag.

Omdat my Heer so sag en teer is teenoor my, is ek ook sag en teer teenoor myself en teenoor my medemens.  Ek veroordeel hulle nie en maak hulle nie seer met my onbedagsame woorde nie.  Inteendeel – dit wat ek doen en sê, en my hele lewenswyse, prikkel hulle om ook dit wat my lewe so mooi en vol maak, te soek en te vind.  Deur sagmoedigheid en teerheid kom ons in harmonie met Gods grootse plan vir ons, en dra ons by tot die herstel van Sy Plan hier op aarde.

Gebed:  Dierbaarste Heer, maak my sagmoedig en teer.

~ Uit Daelikse Woord ~

Monday 11 August 2014

Troos

Die ewige  God is ‘n skuilplek;  sy arms is altyd onder jou.  -  Deut. 33:27

Dankie, dierbare Heer van my hart, vir U oneindige groot liefde wat altyd gereed is om my te beskerm, te vertroos en te lei.

Al gaan ek deur die diepste duisternis, U liefde is my stok en my staf.  Dit breek deur die donkerste wolk, hef my op, lei en rig my totdat ek weer in staat is om die lig te kan sien en kan voortgaan op my lewenspad.

En as ek troosteloos gaan sit langs die pad, té moeg en moedeloos om ‘n enkele tree verder te gee, is dit U wat laag afbuk en my hande teer vat, Heer.  En as ek net nie meer verder kan nie, tel U my op in u kragtige Vaderarms en dra U my, en nie voor ek in U krag, opgehef en vertroos in U liefde, weer in staat is om my voetspore langs dié van U in die sand te laat nie, sal U my neersit nie.

En as my hart in skerwe aan my voete lê, gebroke omdat ek iemand wat vir my baie na aan die hart is, verloor het, dan is dit U wat die stukkies optel en met die salf van U helende liefde die wonde heel en weer rus en vrede en moed bring waar alles so donker was.

Gebed:  Dankie Heer, vir U wonderwerkende liefde ook vir my.

~ Uit Daelikse Woord ~

Sunday 10 August 2014

HELING

Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel.  -  Jes. 58:8

Is jy siek en vol pyn?  Moenie bekommerd wees nie – word net stil en neem die hand van die Heer wat in jou woon en die lig sal vir jou deurbreek.  Nie soos die rooidag nie, maar soos ‘n stralende goue lig wat  jou hele wese helder verlig, en heling bring na gees, siel en liggaam.

Maak toe jou oë en sê vir jouself: “Ek is ‘n stralende energieke Ligwese in ‘n stralende gesonde liggaam.  En as my liggaam nog nie hierdie hemelse waarheid weerspieël nie, dan doen ek nou ‘n beroep op my eie inwonende Christus Gees om oor te neem.”

Diep in die hart van die atoom, begin die lig stadig maar seker al hoe helderder skyn.  Helder die Lig in my diepste wese, helder die Lig in elke sel en orgaan, en enigiets wat dreig om die lig te versper, smelt net weg en verdwyn in hierdie stralende verblindende lig!  My liggaam word omskep in ‘n gesonde tuiste vir die Ligwese wat ek is!  Ek sien dit!  En ek glo dit opreg met my hele wese!

Gebed:  Die Lig breek vir my deur en ek is gesond, ek glo dit met ‘n passie met my hele wese!

~ Uit Daelikse Woord ~

Saturday 9 August 2014

DIE KROON VAN U SKEPPING

U het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot
gevorm.  Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik
gemaak het.  U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!
                                                                              
                                                                                                          -  Psalm 139:13-14

Here

U het my besonder wonderlik gemaak.
Hoe meer ek van biologie leer,
hoe intenser besef ek hoe ongelooflik U my
aanmekaargeweef het; 
hoe beter ek die werking van my organe,
my brein en my senuweestelsel verstaan,
hoe meer ek daaraan dink
dat  U my gesien en geken het vóórdat ek gebore is
en dat al my dae tóé reeds in u Boek opgeskryf was,
hoe kleiner krimp ek voor u grootheid.
Maar, Here, U het ook my diepste wese daargestel: 
dit is Ú wat my drome en verlangens
in my ingesleutel het
en wat van my die mens maak wat ek is,
wat my in staat stel om te lag en te huil,
om skoonheid raak te sien en lief te hê.
U het ‘n stukkie van Uself in my geplant
omdat U my na u beeld gemaak het. 
Vorm my, Here,
deursoek my hart en verstand
en maak my elke dag ‘n klein bietjie méér soos U –
totdat die mense wat na my kyk
vir U sal kan raaksien.

Amen

~ Outeur Nina Smit - uit Vreugde in die More ~

Friday 8 August 2014

MOED

Wees dus sterk en hou goeie moed.  -  Ps. 31:25

Hoe sterk moet ons hart net nie wees nie, veral in hierdie krisistye waardeur die wêreld nou gaan.  Maar met ‘n sterk hart weet ons hoe om vas te staan in die midde van alle ongunstige omstandighede.  Ons weet hoe om onwrikbaar te staan in die krag van Christus wat magtiger as enige van die uitdagings in die wêreld om ons is.  Hy weet, Hy sien, Hy hoor al ons gebede en neem oor.  Hy is trots op ons, en ook dankbaar dat Hy so in en deur ons sy werke kan doen.

En om te dink – niks en niemand kan hierdie Wonder-krag van ons af wegneem nie!  Diep in ons siel is dit deel van ons wese, en hierdie wonder begin al hoe meer deel word van ons daaglikse handel en wandel.  Ons sal lelike dinge hoor en sien, ons sal hoor van invalle en aanvalle, maar dit wat ons hoor sal totaal oorweldig word deur dit wat ons sien en weet.  En wat sien en weet ons?  Ons sien die lig en ons weet God is nog in beheer van sy wêreld.  Veilig en beskut in die sagte gloed van die goue lig vanuit ons diepste wese, gaan ons vol moed voort deur Hom wat ons die krag gee!

Gebed:  Ek is sterk en vol moed!

~ Uit Daelikse Woord ~

TROOS