Sunday 23 June 2013





HERONTDEK


Julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon.  -  Rom. 8:9 OV


Ons wil tog nooit so besig wees dat daar nie tyd vir ons is om stil te staan en alles wat so mooi is om ons te waardeer nie.  Die wonder van heel Gods skepping is oral om ons om te sien en te geniet, en aan Sy glorie wat daagliks aan ons openbaar word, is daar geen einde nie!

In elke klein miertjie wat ‘n gewig dra wat baie groter as hy is, in die arend wat skynbaar sonder enige inspanning heerlik sweef in die lug, herontdek ons die wonder van Gods wêreld!

In die goue oomblikke wat ons met ons geliefdes deel, herontdek ons die liefde van God in hul oë en in die dinge wat hulle sê wat ons samesyn so aangenaam maak.

En in die stil oomblikke saam met ons Heer, diep in ons diepste heiligdom, herontdek ons die wonder van Hom wat in ons woon.  In Sy liefde en lig, is elke dag vir ons ‘n besondere dag – ‘n dag ryk aan die wonder van Sy skepping, wat ons weer en weer ontdek in alles wat bestaan.


Gebed:  Elke dag, Heer, ontdek ek meer van U!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 22 June 2013





OMGEE- MENS


‘n Samaritaan ... het op hom afgekom.   Hy het ... sy wonde verbind.  Toe het hy hom op sy rydier gehelp en na ‘n herberg geneem. 
Luk. 10:33-34


‘n Sagte aanraking kan pyn verlig, of dit nou fisiese of emosionele pyn is, of ons dit nou glo of nie.   Die aanraking vertel dat ons omgee, en dit laat die een in pyn sommer beter voel.

Ons wil so graag almal omgee-mense wees, daarom bid ons vandag:  “Heer, laat U liefde in my hande andere ophef en seën wanneer ek hul saggies aanraak, of dit nou ‘n kind of volwassene is.  Maak my stem strelend en sag – ‘n stem wat my medemens help om te ontspan en rus te vind in U liefde in my hart, waarin ek hulle toevou.  En, Heer, seën my woorde – laat dit woorde wees gebore uit U lig-gedagtes in my denke – woorde wat begrip bring, en geloof, en andere ophef en seën.

Ek bid ook vandag vir alle omgee-mense oraloor – U ken hul Heer, U weet waar hul woon en werk.  Vou hulle toe in U liefde, en maak hulle sterk, sodat  andere U lig, U liefde en krag vind by elke omgee-mens wat na hul omsien.


Gebed:  Vandag is ook ek ‘n omgee-mens!


~ Uit Daelikse Woord ~








Thursday 20 June 2013





DANKBAARHEID


Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange. 
Ps.  100:4


Hoe kan ek vandag genoeg dankie sê vir al die seëninge my toebedeel uit Gods hand?   Hoe kan ek vandag se gebed gebruik, en nie spesiaal voel nie, steeds geseën in Sy allesomvouende liefde?

Hoe meer ek dankie sê, hoe meer dinge sien ek raak om voor dankie te sê.   Ja, ek is so diep en innig dankbaar teenoor my Heer en my God!   Selfs vir dinge wat opduik en lyk asof dit nie my dank waardig is nie, sê ek dankie, want  ek weet my Hemelse Vader sien altyd na my om, en die goeie wat nou verborge is sal ook aan my openbaar word.

Ek kan nie dankbaar en negatief wees op dieselfde tyd nie.   Daarom begin ek elke dag met ‘n lied van danksegging in my hart.  Ek weet my Heer stap elke tree van die weg saam met my, en aan Sy seëninge is daar geen einde nie.

Ek is ‘n gelukkige mens, en ek weet dit.   Elke keer wanneer ek dankie sê, sien ek nog meer dinge om my raak om voor dankie te sê!   Voorwaar, God is goed vir my, en aan Sy seëninge op my lewenspad is daar geen einde nie!   Dankie, kosbare Hemelvader!


Gebed:  Ek is ‘n baie gelukkige mens!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 19 June 2013





GELIEFDE,  EK  IS


Toe sê God vir Moses:  “Ek is wat Ek is.”  -  Eks.  3:14


GELIEFDE,  Ek is hier!  


Ek is die lewenskrag wat in en deur jou pols, en jou van die nodige energie en krag voorsien om te doen wat jy moet doen, sodat  jy ‘n vol en ryk lewe kan geniet.

Ek is die liefde in jou hart wat jy deur jou woorde en jou dade deel met jou familie en vriende – woorde en dade wat hulle en vir jou, ophef en seën.

Ek is die lig wat in en deur jou skyn, wat jou gedagtes omskep in lig-gedagtes en jou in staat stel om wyse besluite te neem.

Ek is die inspirasie wat jou siel laat sing wanneer andere vir jou sê daar is geen hoop nie.  Met My melodie wat in jou weerklink, verseker Ek jou daar is hoop, want Ek is met jou elke tree van die weg wat jy moet gaan.

Ek is die bron van alles wat goed en mooi is in jou lewe – die bron van alles wat is, wat was en wat sal wees, en My seëninge op jou pad ken geen perke nie.


Gebed:  Dankie, Vader, vir die seën van U lig, liefde en krag.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 18 June 2013





LIG


God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.  -  1 Joh. 1:5


Is dit vir my moeilik om werklik gelukkig te wees en my lewe te geniet?  Dan mag dit wees dat ek iets of iemand toelaat om ‘n skaduwee oor my sonskynlewe te gooi, soos ‘n wolk wat hang oor my bron van geluk en welstand.

Die feit dat ek nie werklik weet wat die oorsaak van die skaduwee is nie, is nie eintlik van belang nie.  Wat wel van belang is, is dat ek met die hulp van God eenkant kan gaan staan, sodat ek in Sy lig die skadukolle kan sien vir wat hulle werklik is – ervarings en die houdings van andere, wat in werklikheid geen beheer oor my het nie.  Ek sien die waarheid omtrent die skadubeelde wat my aan bande gelê het, en waar ek dit sien, sien ek nou die lig van God helder skyn, en die wolk van duisternis wat oor my gehang het, verdwyn.

God is lig, en Sy lig skyn helder in my en om my – ‘n heerlike vrymakende lig wat my siel laat sing en my lewe vol en ryk maak.  Almal wat ek teëkom, word deurstraal en omvou in hierdie helder lig, en geen duisternis kan stand hou in my, om my en in my land en my wêreld nie – want Gods lig dryf alle donkerheid in ons lewens uit.


Gebed:  God is lig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 7 June 2013





‘N  GEBED  VAN  ONS  HART  AAN  SYNE


Met strooi in die hare en oë wat blink knip
lê hy in doeke toegedraai in die krip.
Wat weet Hy, wat sien Hy –
mense wat smag, soos ek en jy?


Met stof aan sy voete, beitel in die hand,
bou Hy huise in die Beloofde Land.
Wat draai in sy kop, waaraan dink Hy –
dat Hy ‘n gesin gaan verlaat ter wille van jou en van my?


‘n Klip is sy kussing, die Man wat bly swerf,
Hy genees en Hy help, leer van Gods plan teen verderf,
Hy is en bly God, verwerp deur die mens,
wat beter moes weet as om Hom te verwens.


Met kruis op die skouer, doringkroon in die hoof,
geslaan en geskop en van vryheid beroof,
bespot en gegesel en byna verskeur ...
O God, ek wonder:  Het Hy sy geboorte betreur?


Vroeg een oggend, lank voor die son nog skyn,
het Hy die kleed afgegooi en stil verdwyn;
Hy het opgestaan om ons hart te raak
en dan in ons lewe sy woning te maak.


Oorvloedige Gees, lewe uit die dood,
verbreek aardse grense, want Hy is só groot,
U glimlag vir ons;  laat ons die lewe geniet
met die seën wat u dood op Golgota ons bied.


Amen


~ Stormie Omartian ~









LUISTER  ÉN  PRAAT


Lees  -  Filippense 4:1-9


Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend  (Fil  4:6).


‘n Gesprek sal baie vervelig wees as net een persoon die hele tyd praat.  Kommunikasie is dus luister én praat.  Een van die redes waarom ons sukkel om met God te praat is dat ons die hele tyd alleen aan die woord is en nog nie geleer het om na God te luister nie.

Maak gerus jou begeertes deur gebed en smeking aan God bekend, maar luister dan na wat Hy in sy Woord vir jóú wil sê.  Wanneer jy Bybel lees, praat God met jóú.  Bid met jou oop Bybel, praat met God, vra die Heilige Gees om die Woord vir jou oop te maak, luister daarna, en antwoord God dan op sy Woord.  Só raak gebed ‘n opwindende gesprek met ‘n lewende God.

Wanneer jy só bid, sal die vrede wat God gee ook in jou lewe tuiskom.


Gebed:  Hemelse Vader, dankie dat ek vandag kon leer dat ek nie net moet vra nie, maar ook na U moet luister.  Dankie vir u Gees wat u Woord vir my oopmaak.


*  Gebed is luister én praat. *


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~









VRA,  EN  JY  SAL  KRY


Lees  -  Matteus  7:7-12


Vra, en vir julle sal gegee word;  soek, en julle sal kry;  klop, en vir julle sal oopgemaak word  (Matt  7:7).


Vir ons vroue is dit mos tog te heerlik om te gesels – al sê ons mans ons skinder net!   Maar is dit nie snaaks dat juis die grootste geselsers soms na woorde soek wanneer hulle wil bid nie?   Daar kan verskillende redes hiervoor wees ...

Miskien beplan ons nie ons gebede goed nie;  miskien maak ons nie genoeg tyd om werklik stil te raak voor God nie, of miskien het ons in die gewoonte verval om elke dag dieselfde gebed op te sê.   Stel ‘n gebedslys op van alles waarvoor jy wil bid.   Vergeet van alles wat jy nog moet doen en konsentreer op God alleen, dán sal jy onthou wat jy vir Hom wil sê.   Maak ‘n punt daarvan om oor verskillende sake met God te praat.

God belowe dat Hy vir jou sal gee wat jy vra;  dat jy Hom sal vind as jy Hom in die gebed soek, en dat Hy altyd daar is as jy aanklop.


Gebed:  Hemelse Vader, wanneer ek by my vriende is, is daar so baie om oor te gesels, maar as ek met U besig is, raak my woorde op.   Leer U my om te bid.


*Ek gaan van vandag af vir my ‘n gebedslys opstel.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~





Wednesday 5 June 2013





DIE  GOD  TOT  WIE  JY  BID


Lees  -  Job 26:5-14


Dit is maar die begin van Sy dade, ons hoor net die gefluister van Sy woorde.   Maar die volle krag van Sy dade, wie kan dit verstaan?   (Job  26:14).


Voordat ‘n mens bid, is dit goed om na te dink met Wie jy in gesprek gaan tree.   God is Drie-enig.  Hy is die Skepper van die berge en die see, van die wolke en die lenteblomme.  Hy is heilig;  níks is vir Hom onmoontlik nie.  Hy maak ‘n grens tussen lig en donker;  deur sy krag bring Hy die see tot rus, en met die wind waai Hy die lug skoon.  En al dié dinge, skryf Job, is nog maar net die gefluister van sy woorde.

Saam met Miga kan ons vandag sê:  “Wie is ‘n God soos U?”  (7:18).   Dié God tot wie ons bid, is groot en heilig.  Tog ken Hy ons by ons naam en het Hy ons só lief.  Raak stil voor jy begin bid en loof God vir sy grootheid en goedheid.


Gebed:  O Heer my God, as ek in eerbied wonder, en al u werke elke dag aanskou:  die son en maan, die aarde, sterre, wolke, hoe U dit elke dag so onderhou ...   Dan moet ek juig, my Redder en my God!  Hoe groot is U, hoe groot is U!  Want deur die hele skepping klink dit saam:  Hoe heerlik, Heer, u grote Naam!  (Jeugsangbundel, Lied 8).


*Dié God tot wie ek bid, is onvergelyklik groot.*


As ons bid, werk God.


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~









GEBED IS ‘N VOORREG


Lees  -  JES  30:18-21


Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm ...  Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor  (Jes 30:18-19).

Sê nou maar net ‘n mens kon net een maal per jaar tot God bid.   Hoe goed sou jy nie jou gesprek met Hom beplan het nie.   Vir hoeveel dinge sou jy nie dankie sê nie.   Hoe geesdriftig sou jy Hom nie loof nie.

Miskien is dit omdat dit vir ons so maklik is om te bid dat ons vergeet watter ongelooflike groot voorreg gebed is.  Ons kan vier en twintig uur per dag na God gaan met ál ons probleme en versoeke.   En Hy is élke keer bereid om ons gebede te *verhoor sodra Hy dit hoor*.   Méér nog, Hy is gretig om ons genadig te wees.   Die 1933-vertaling sê dat God met ongeduld daarop wag om ons genadig te wees.

Wat ‘n wonderlike voorreg is dit nie om só ‘n God te ken, lief te hê en met Hom in gesprek te tree nie!   Voordat jy weer bid, dink na oor watter prys God moes betaal om hierdie gesprek met Hom moontlik te kon maak.


Gebed:  Hemelse Vader, baie dankie dat u Seun gesterf het vir my sonde sodat ek vry na U kan gaan.   Gee dat ek altyd sal besef watter groot voorreg en verantwoordelikheid dit is om te kan bid.


*God wag ongeduldig om my genadig te wees.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~