Wednesday 5 June 2013





DIE  GOD  TOT  WIE  JY  BID


Lees  -  Job 26:5-14


Dit is maar die begin van Sy dade, ons hoor net die gefluister van Sy woorde.   Maar die volle krag van Sy dade, wie kan dit verstaan?   (Job  26:14).


Voordat ‘n mens bid, is dit goed om na te dink met Wie jy in gesprek gaan tree.   God is Drie-enig.  Hy is die Skepper van die berge en die see, van die wolke en die lenteblomme.  Hy is heilig;  níks is vir Hom onmoontlik nie.  Hy maak ‘n grens tussen lig en donker;  deur sy krag bring Hy die see tot rus, en met die wind waai Hy die lug skoon.  En al dié dinge, skryf Job, is nog maar net die gefluister van sy woorde.

Saam met Miga kan ons vandag sê:  “Wie is ‘n God soos U?”  (7:18).   Dié God tot wie ons bid, is groot en heilig.  Tog ken Hy ons by ons naam en het Hy ons só lief.  Raak stil voor jy begin bid en loof God vir sy grootheid en goedheid.


Gebed:  O Heer my God, as ek in eerbied wonder, en al u werke elke dag aanskou:  die son en maan, die aarde, sterre, wolke, hoe U dit elke dag so onderhou ...   Dan moet ek juig, my Redder en my God!  Hoe groot is U, hoe groot is U!  Want deur die hele skepping klink dit saam:  Hoe heerlik, Heer, u grote Naam!  (Jeugsangbundel, Lied 8).


*Dié God tot wie ek bid, is onvergelyklik groot.*


As ons bid, werk God.


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~





No comments: