Thursday 30 May 2013





GOD  DIE  HEILIGE  GEES


Lees  -  Johannes  16:5-15


Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die waarheid lei.  Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig  (Joh  16:13-14).


Die Heilige Gees is die derde Persoon in die Drie-een-heid.   As die Vader God-bo-ons en Jesus God-met-ons is, kan ons sê dat die Heilige Gees-in-ons is.   Deur sy Gees woon God self in elke kind van Hom.

Die Heilige Gees wys vir ons altyd na Jesus, lei ons in die waarheid en verheerlik Christus.  Hy bring ons dus by God uit.  Hy bewerk geloof in ons harte en waarsku ons wanneer ons verkeerd doen.   Hy leer ons bid, tree vir ons by God in en leer ons hoe om te lewe.   Dit is ook die Heilige Gees wat aan ons die genadegawes uitdeel waarmee ons God in ons lewens moet dien en eer, en wat vir ons die sekerheid in ons harte gee dat ons kinders van God is.   As ons Hom toelaat, sal die Gees ons hele lewe beheer sodat ander vir Christus sal raaksien in wat ons sê en doen.

Is die Heilige Gees só ‘n werklikheid in jóú lewe?


Gebed:  Gees van God, dankie dat U in my woon, my verseker dat ek God se kind is, my teen sonde waarsku, my leer bid en vir my intree by God.


*Die Heilige Gees lei my in die waarheid.*


Die Gees in ons laat die donkerte in ons lig word.   Hy verander die starheid van ons geloof in polsende lewe.   Hy maak Jesus Koning!


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~




Wednesday 29 May 2013





GOD  DIE  VADER


Lees  -  Psalm  148


Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep ... sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel  (Ps 148:5, 13).


God die Vader is die Skepper van die hemel en die aarde.   Die berge, die bome, die blomme, die see, die mense en diere is sy handewerk.   Hy onderhou sy skepping dag na dag.   God is ook ons hemelse Vader wat vir ons liefhet en elke dag vir ons sorg;  wat sy Seun prysgegee het sodat ons sonde vergewe kan word.

Alhoewel niemand God nog ooit gesien het nie, kan ons Hom leer ken uit sy skepping, uit die Skrif waarin Hy met ons praat, maar veral in Jesus wat die Vader aan ons kom bekend stel het.

Die belangrikste eienskap van ‘n vader is sy liefde.   En God ís inderdaad liefde (1 Joh  4:8).   Ons mag Hom ons Vader noem omdat Jesus ons Saligmaker is.   En as Vader sorg Hy dat alles wat met ons gebeur tot ons beswil is.   As God se kind kan jy seker weet dat jy in die sorg en beskerming van ‘n liefdevolle Vader is.


Gebed:   Hemelse Vader, ek loof U omdat ek U my Vader mag noem.   Dankie vir alles wat U so mooi gemaak het – dat U elke dag vir my sorg en my liefhet.


*God, die Skepper van die hemel en die aarde, is my Vader!*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~









GOD  DIE  HEILIGE  GEES


Lees  -  Johannes  16:5-15


Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die waarheid lei.  Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig  (Joh  16:13-14).


Die Heilige Gees is die derde Persoon in die Drie-een-heid.   As die Vader God-bo-ons en Jesus God-met-ons is, kan ons sê dat die Heilige Gees-in-ons is.   Deur sy Gees woon God self in elke kind van Hom.

Die Heilige Gees wys vir ons altyd na Jesus, lei ons in die waarheid en verheerlik Christus.  Hy bring ons dus by God uit.  Hy bewerk geloof in ons harte en waarsku ons wanneer ons verkeerd doen.   Hy leer ons bid, tree vir ons by God in en leer ons hoe om te lewe.   Dit is ook die Heilige Gees wat aan ons die genadegawes uitdeel waarmee ons God in ons lewens moet dien en eer, en wat vir ons die sekerheid in ons harte gee dat ons kinders van God is.   As ons Hom toelaat, sal die Gees ons hele lewe beheer sodat ander vir Christus sal raaksien in wat ons sê en doen.

Is die Heilige Gees só ‘n werklikheid in jóú lewe?


Gebed:  Gees van God, dankie dat U in my woon, my verseker dat ek God se kind is, my teen sonde waarsku, my leer bid en vir my intree by God.


*Die Heilige Gees lei my in die waarheid.*


Die Gees in ons laat die donkerte in ons lig word.   Hy verander die starheid van ons geloof in polsende lewe.   Hy maak Jesus Koning!


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~









GOD  DIE  SEUN


Lees  -  Filippense  2:5-11


Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word  (Fil 2:6-7).


Jesus  is Immanuel, God-met-ons.   Hy is die Messias, die enigste Seun van God, wat vrywillig die hemel verlaat het en vir ons sonde aan die kruis gesterf het.

Jesus  is waarlik God.   Aan die kruis het Hy die volle toorn van God teen die sonde gedra en met sy dood die prys vir daardie sonde eens en vir altyd betaal.  Hy het uit die dood opgestaan en opgevaar na die hemel sodat ons – omdat ons in Hom glo – vir ewig sal lewe in die hemel saam met Hom.

Jesus  is egter ook waarlik mens,  Daarom kan ons met al ons sonde en probleme na Hom gaan en weet dat Hy werklik verstaan en vergewe.


Gebed:  Here Jesus, baie dankie dat U gewillig was om die hemel prys te gee ter wille van my.  Dankie dat U vir my sonde betaal het, dat U opgestaan het uit die dood sodat ek vir altyd kan lewe.


*Jesus het die hemel prysgegee uit liefde vir my!*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur  Nina Smit ~




Monday 27 May 2013





DIE LEER VAN DIE DRIE-EENHEID


Lees  -  Matteus  28:16-21


Gaan dan na al die nasies toe ... en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees  (Matt  28:19).


Deur sy Woord openbaar God Homself aan ons as één God maar drie Persone:  die Vader, die Seun en die Heilige Gees.   Die Vader is God, Jesus is God én die Heilige Gees is God, maar die Vader is nie die Seun nie en die Seun is nie die Gees nie.   Alhoewel al drie God is, het elkeen sy eie spesifieke taak.  “Die drie Persone is dus nie maar net drie kante van die één God nie, maar drie lewende, handelende, willende en duidelik onderskeie Persone waain die één Goddelike Wese Homself ontplooi”  (Ek glo in die Heilige Gees.  -  Bybelkor).

Dis miskien makliker om te verstaan as ‘n mens daaraan dink dat  jyself ook een enkele mens is, maar met verskillende funksies en take naamlik:   vrou vir jou man, ma vir jou kinders en kind van jou ouers.   Geen voorbeeld kan egter die wonder van die Drie-eenheid behoorlik verduidelik nie.  Dis is ‘n Goddelike geheimenis wat ons kinderlik gelowig moet aanvaar.


Gebed:  Here, dankie dat U self vir my duidelik gemaak het dat U één God maar drie Persone is.


*God is drie onderskeie Persone.*



~ Uit Dagboek vir die Vrou – deur Nina Smit ~



Sunday 26 May 2013





BESKERMD


Here, U alleen laat my veilig woon.  -  Ps  4:8


God het Noag aangespoor om ‘n ark te bou om hom te beskerm teen die vloed, nog lánk voor die eerste reën begin val het.  Net soos Noag is God nog steeds daar vandag om ons betyds te lei en te beskerm teen die stortvloed van uitdagings en gevare wat ons vreedsame bestaan mag bedreig.  Ons ark is ons diepste heiligdom – die plek van gebed – die plek waar ons inskakel op die koninkryk van God deur Christus wat in ons woon.

Ons glo en bevestig dat ons nou hier, en waar ons ookal mag gaan, altyd veilig en beskermd is in die lig en liefde van ons Heer.  Hy sorg vir ons, sien na ons om, en gee selfs Sy engele bevel om ons te behoed en te bewaar op al ons weë.

Tuis of by die werk, op die snelweë of in die lug, sê ons steeds dankie vir ons Hemelse Vader se beskerming.  Ons seën ons reis, ons seën die voertuig waarmee ons op reis gaan, en sorg dat die gedagtes wat ons dink slegs lig-gedagtes is – gedagtes gevestig op die lig en liefde van ons Heer en Meester.


Gebed:  In die liefde van God is ek altyd veilig.


~ Uit Daelikse Woord ~







Saturday 25 May 2013





GELOOF


Jesus sê toe vir die offisier:  “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.”  En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.  -  Matt. 8:13


Daar is mense en omstandighede wat ek volkome vertrou, want hulle is deel van my daaglikse lewe.  Maar wanneer dit by God kom, word my vertroue onwrikbare geloof in die wonder van Sy werke wat selfs die skynbaar onmoontlike moontlik maak.

Kyk maar hoe baie Jesus gepraat het van die krag en belangrikheid van geloof.  Vir sy volgelinge het Hy gesê as hulle glo, sal hulle selfs berge kan versit.  En ons weet Sy dissipels het ook wondere verrig, omdat hulle geloof so sterk was.

En nou?  Wat van ons?  Waarom sal ons nie ook ons geloof inspan in ons lewe nie – geloof wat brûe bou wat ons help om by die uitdagings verby te beweeg na seëninge van lig, liefde en krag van Bo.  Seëninge wat genesing bring en leiding, wat ons beskerm en ons harte vul met liefde, wat vrede bring in ons en om ons – heerlike seëninge van Bo – te veel om op te noem!  Dankie, Vader!


Gebed:  Ek glo en is geseënd!



~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 20 May 2013





VERHOUDINGS


Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  -  Markus  12:31


Ons verlang almal na liefdevolle, vervullende verhoudings met ons naaste.  Dit is die liefde van God in ons harte wat betekenis gee aan die bande tussen ouers, kinders, huweliksmaats, vriende en medewerkers.

Dit hand van óns af of ons gelukkig of ongelukkig gaan wees in ons verhouding met iemand anders.  Geen mens kan voldoen aan al die eise van ‘n ander nie, maar as ons ons verhouding in ‘n positiewe gees benader, bly dit opbouend van aard en dra dit ook by tot ons geestelike groei.

Die belangrikste aspek in enige liefdevolle verhouding, is om altyd te onthou dat ons, élkeen van ons, ‘n unieke skepping van God is, en dat ons onsself as sodanig moet liehê.  Dit is tog immers wat Jesus gesê het, naamlik:  “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”  As ons regkry om onsself lief te hê, is dit vir ons makliker om oop kanale te wees vir Gods liefde om deur ons na andere te vloei.  Deur ons liefde vir mekaar, bring ons ook hulde aan die Christus in ons harte.  Deur ons menseverhoudinge gee en ontvang ons liefde, leer en ontvou ons.


Gebed:  Uit die volheid van my hart, gee en ontvang ek liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~





Saturday 18 May 2013





GEDULD


Lees -  Psalm 130


Die vrug van die Gees ... is ... geduld  (Gal 6:22).


Hierdie vierde eienskap van die vrug van die Gees is een waarmee die meeste van ons worstel, veral omdat ons dit nie kan verdra om te wag nie.  Juis wanneer ons ons voorneem om meer geduldig te wees, betrap ons onsself dat ons staan en rondtrippel in die lang tou in die poskantoor, of dat ons lus kry om die motor se toeter te blaas vir die man wat so stadig voor ons ry.   Ons raak selfs ongeduldig wanneer God nie gou genoeg na ons sin op ons gebede reageer nie.

*Wag op die Here,*  maan die die psalmdigter  (v 7).  Dié wat bereid is om op Hom te wag, ervaar die vrug van geduld in hulle lewens.  Ongelukkig kom geduld nie sommer vanself nie.  Dit moet geoefen word.  Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik beteken eintlik  “om iemand nog ‘n kans te gee”.   As jy die Heilige Gees in jou lewe het, moet jy bereid wees om ander mense nog ‘n kans te gee soos wat God jou elke keer nog ‘n kans gee.

Is jy bereid om dit te doen?


Gebed:  Heilige Gees, baie dankie vir u geduld met my.  Maak my geduldig sodat ek elke keer bereid sal wees om vir ander nog ‘n kans te gee.


Kom ons gee mekaar vandag nog ‘n kans!


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~









VRIENDELIKHEID


Lees – Filippense 4:4-9


Die vrug van die Gees ... is ... vriendelikheid  (Gal 6:22).


Daar is ‘n spreekwoord wat sê:  “Vriendelikheid is die aansteeklikste ding op aarde.”  Toets maar of dit waar is deur wanneer jy in die straat loop mense met ‘n vriendelike glimlag te groet.  Jy sal sien, vreemdelinge sal jou net so vriendelik teruggroet.  Boonop kos vriendelikheid niks en beteken dit so baie vir ander.

Vriendelikheid beteken ook om ander só te behandel soos jy self behandel wil word.  Dit is om te gee van jouself sonder om iets terug te verwag.  Oswald Saunders het gesê dat om vriendelik te wees, is om met die Here se gesindheid na ander te kyk.

Kan ander aan die vriendelikheid wat uit jou straal, sien dat die Heilige Gees in jou lewe teenwoordig is?


Gebed:  Heilige Gees, maak my vriendelik met al die mense om my, ook met dié wat ek nie ken nie.  Help my om met God se oë na hulle te kyk.


*Vandag gaan ek vriendelikheid kwistig uitdeel aan almal om my.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~








Thursday 16 May 2013





BID VIR ANDER


Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.  -  Filip.  1:3


As ek bekommerd voel oor iemand anders, word  ek stil, sluit my oë en sien die lig van die Vader helder in en om daardie persoon skyn – ‘nlig wat liefde bring en wysheid.  Dis ‘n eenvoudige vorm van gebed hierdie wat rus bring in my gemoed, en alle vrese laat verdwyn.

Wanneer my geliefdes voor ‘n probleem te staan gekom het, bid ek vir hulle.  Die omstandighede waarin hulle verkeer mag dit vir hulle moeilik maak om op God te konsentreer.  Dit is dan wanneer my bevestiging dat hulle toegevou word in Gods liefde, vir hulle baie kan beteken.

Ek kyk by die voorkomste verby en sien die lig, die liefde en krag van God in hulle en om hulle aan die werk.   Geen siekte, geen verlies of krisis, kan staande bly voor die werkinge van die Drie-enige God en Vader nie.  Ek glo dit, en sê dankie vir die onbekende seëninge wat hulle te beurt gaan val as gevolg van dit wat hulle nou ervaar.

My gebede vir my geliefdes onderskraag hulle, en maak hulle oop vir Gods krag om in en deur hulle te werk en wondere te laat geskied.


Gebed:  In U lig Heer, sien ek my geliefdes.


~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday 15 May 2013





LEIDING


Die Here sal jou altyddeur  lei.  -  Jes.  58:11


Al weet ek die besluit wat ek geneem het, is reg, is ek tog huiwerig om dit summier deur te voer.  Ek doen dit omdat ek weet God is in beheer van my lewe en alles wat my aangaan, en in my stil uur van gebed sal Hy my inspireer sodat ek presies die regte stappe neem in die uitvoering van my besluit.  Hy vra my aandag, en so gee ek dit vir Hom.

Met my aandag op Hom toegespits, maak ek Hom my eie – Hy maak my Sy eie, en lei my altyd tot my hoogste heil.  Ek pak niks sommer halsoorkop aan nie, maar bly kalm en rustig, want ek weet  Hy wat in beheer van my lewe is, sal my beskerm en behoed, inspireer en lei, in alles wat my aangaan.

Die rus en vrede, krag en insig, wat ek weerspieël in my handel en wandel elke dag, getuig van my eenheid met my Heer en die vertroue wat ek in Hom het as my leidsman en raadgewer.  Sy plan is stadig maar seker besig om in my lewe te ontvou, en ek is oop daarvoor.


Gebed:  Dankie, Vader, vir U lig so helder op my lewenspad.


~ Uit Daelikse Woord ~





Tuesday 14 May 2013





VREUGDE


Lees -  1 Tessalonisense  5:14-18


Die vrug van die Gees ... is ... vreugde  (Gal  5:22).


Vreugde verwys hier na dié vreugde in die hart van elke Christen omdat hy of sy ‘n verloste kind van God is.   God het ons verlos uit ons sondebestaan, en ons is bly omdat Hy ons so liefhet en ons aan Hom behoort.   Ons is ook bly omdat ons weet dat God vir ons sorg en áltyd by ons is;  en omdat ons ná ons dood vir altyd by Hom sal wees.

Ons moet egter nie net bly wees wanneer dit goed gaan met ons nie.   Ons moet áltyd bly wees (1 Tess 5:16), óók wanneer ons swaar kry.  Aan hierdie vreugde ten spyte van swaarkry sal die wêreld kan sien dat ons die vrug van die Heilige Gees in ons lewe het.

Die vreugde van Galasiërs is ‘n vreugde wat van binne kom, wat niks met uiterlike omstandighede te make het nie.  Dit is dié vreugde wat Paulus en Silas lofliedere in die tronk laat sing het.  Dit is ‘n blywende vreugde omdat dit geanker is in Jesus wat altyd dieselfde is.

Kan jy sing wanneer jy swaar kry??


Gebed:  Here, vergewe my omdat ek eerder kla as sing wanneer dit sleg gaan met my.  Help my om van nou af altyd bly te wees in U.


*Die vreugde wat die Gees gee, kom van binne.*


~ Uit Dagboek vir die Vrou deur Nina Smit ~





Friday 10 May 2013





LIEFDE


Lees – Johannes  4:7-21


Die vrug van die Gees ... is liefde  (Gal  5:22).


Die liefde waarvan Paulus hier praat, is goddelike liefde, liefde “ten spyte van”.   Tot hierdie liefde is ons nooit uit onsself in staat nie omdat dit indruis teen ons sondige natuur.  Tog is hierdie liefde vir God só belangrik dat dit heel bo-aan die lys van die vrug van die Gees staan.  As ons nie liefde in ons lewens het nie, is ons niks  (1 Kor  13:2).

God verwag van ons om ons medemens lief te hê met dieselfde onselfsugtige liefde waarmee Hy ons liefhet.  Ons moet ander liefhê al maak hulle ons soms kwaad;  al benadeel hulle ons;  al verkondig hulle onwaarhede oor ons.  Hierdie liefde is sonder voorwaardes en sluit selfs ons vyande in.  Ons moet húlle ook liefhê en bid vir dié wat ons vervolg (Matt  5:44).

In watter mate is hierdie liefde as deel van die vrug van die Gees in jou lewe teenwoordig?


Gebed:  Hemelse Vader, baie dankie dat ek kan liefhê omdat U my eerste liefgehad het.  Help my om ander ten spyte van al hul tekortkominge lief te hê met die liefde wat U vir my het.


*My liefde vir God word getoets aan my liefde vir my naaste.*


My verhouding tot my naaste is in baie opsigte die vertoonvenster van hoe my verhouding met God is (uit:  Ek glo in die Heilige Gees. Bybelkor).


~ Uit Nina Smit se Dagboek vir die Vrou ~





Thursday 9 May 2013





GESKENKE



Maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.  -  Joh 4:14



God het aan my die geskenk van die lewe gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs en loof die werkinge daarvan dwarsdeur my hele  wese. 
Dankie Heer, vir die geskenk van lewe!


God het aan my die geskenk van liefde gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs en deel die seëninge daarin opgesluit met my medemens.
Dankie Heer, vir die geskenk van liefde!


God het aan my die geskenk van geloof gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs en gebruik dit sodat dit al hoe sterker kan word.
Dankie Heer, vir die geskenk van geloof!


God het aan my die geskenk van blydskap gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs en my hart loop oor van blydskap – en almal word ook daardeur geseën.
Dankie Heer, vir die geskenk van blydskap!


God het aan my die geskenk van wysheid gegee .......... ♥
Ek neem dit in ontvangs sodat ek al Sy geestelike gawes  aan my met wysheid kan gebruik.
Dankie Heer, vir die geskenk van wysheid!



Dankie Hemelse Heer, vir  u geestelike gawes sonder einde.



Gebed:  Dankie Heer, vir *AL* U wonderlike geskenke!




~ Uit Daelikse Woord ~