Wednesday 8 May 2013





JÝ  IS  GOD  SE  KIND


Lees  Rom 8:12-16


Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.  

Rom 8:14


Die kernwaarhede van die evangelie is:  Vaderskap en kindskap; verlossing en geloofsekerheid;  erfgenaamskap.

God het die mens só liefgehad dat Hy Christus na die wêreld gestuur het om ons met Hom te versoen en ons weer te maak wat God bedoel het ons sal wees.  Jy het soveel waarde in die oë van God dat Hy jou uitnooi om Hom “Vader” te noem.  Daarom mag jy nóóit neerhalend oor jouself dink of praat nie.  Die Gees lei jou om in dankbaarheid te jubel oor die waarheid dat Christus jou verlos het uit jou sonde en jou sy kind gemaak het.  Hy roep jou op om jou sondige verlede te vergeet en jou kindskap te aanvaar.

Om jouself kind van God te noem en dan steeds sondes wat vergewe is op te diep, is ‘n verloëning van God se liefde en genade.  Deur sy Heilige Gees lei God jou tot die aanvaarding van sy vergifnis deur Christus se soenverdienste en help Hy jou om ‘n lewe van oorwinning te lei.

Jý is God se kind en erfgenaam!  Wat ‘n onbeskryflike wonder van Goddelike genade!


Gebed:  Vader, ons is u kinders.  U Heilige Gees bevestig dat ons u erfgename is.  Dankie vir die onbeskryflike genade dat ons U “Vader” mag noem.


*Wees tevrede om sy kind te wees en laat die Vader daagliks aan jou lig, krag, oefening, probleme, vrese, vreugde, vrede en beproewing uitdeel soos Hy dit goed vind – I PENINGTON.*


~ Uit Op Vlerke van Geloof deur Solly Ozrovech ~






No comments: