Monday 6 May 2013





‘N  TEMPEL  VAN  DIE  HEILIGE  GEES


Lees – 1 Korintiërs 3:16-17


Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?  (1 Kor 3:16)


Die Bybel leer ons dat die tempel in Jerusalem vir God se volk ‘n heilige plek was, dié plek waar hulle die Verbondsgod aanbid het, en waar Hy sy wil aan hulle bekend gemaak het.

Vandag se teksvers sê vir ons dat élke kind van God ‘n tempel is.   Jy óók!   En omdat ons tempels van God is en sy Heilige Gees in ons woon, moet ons heilig lewe.  Dit beteken dat ons só moet optree, praat en lewe dat ons vriende, en ook vreemde mense, kan sien dat ons opsygesit is vir God.

Net soos ‘n mens nie God se gebooie kan gehoorsaam sonder sy hulp nie, kan jy ook nie ‘n tempel van God wees as die Heilige Gees jou nie help nie.  Hy sal vir jou sê wanneer jy verkeerd doen, maar sal terselfdertyd by God vir jou intree.   Wanneer jy die Gees van God se stem hoor, luister na Hom!


Gebed:  Heilige Gees, baie dankie vir die voorreg om u tempel te mag wees.  Help my om heilig te lewe en waarsku my wanneer ek verkeerd doen.  Dankie dat U vir my by God intree.


*Ek is ‘n tempel – God se tempel.*


Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon.  Dan sal julle besef dat Ek die Here is.  Ek het dit gesê en Ek sal dit doen, sê die Here  (Eseg  37:14).



~ Uit Dagboek vir die Vrou – Nina Smit ~


No comments: