Sunday 5 May 2013





GODS  ORDE


Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van Sy hande bekend.  -  Ps  19:2


Heer, ek weet, die oomblik as ek agterkom dat ek betrokke raak by een of ander vorm van disharmonie om my, moet ek net stil word voor U.

Diep in my diepste heiligdom vat ek U Vaderhand, en U liefde en vrede wat my in die stil tyd saam met U binnevloei, kan nie in woorde beskryf word nie.  Dit voel asof die dinge wat my geteister het van alle krag ontneem word.  Ek voel so verlig dat ek sommer dieper begin asemhaal, en die spanning en stres wat in my opgebou het rol van my skouers af.

Dít, Heer van my hart, is omdat ek myself en alles wat my aangaan in U hande geplaas het.  Wanneer ek dit doen, neem U orde oor, en geen wanorde of disharmonie kan staande bly voor die wonder van U orde nie.  Ek kyk na die werke van U hande in my en om my, ek maak dit my eie, en daarna bekommer ek my nie meer nie, want Ú is in beheer.  Hoe groot die voorreg om deel te wees van so ‘n ordelike plan wat ook op my lewe van toepassing is!  Dankie, Vader!


Gebed:  U orde Heer, heers in my lewe!


~ Uit Daelikse Woord ~





No comments: