Friday 10 May 2013





LIEFDE


Lees – Johannes  4:7-21


Die vrug van die Gees ... is liefde  (Gal  5:22).


Die liefde waarvan Paulus hier praat, is goddelike liefde, liefde “ten spyte van”.   Tot hierdie liefde is ons nooit uit onsself in staat nie omdat dit indruis teen ons sondige natuur.  Tog is hierdie liefde vir God só belangrik dat dit heel bo-aan die lys van die vrug van die Gees staan.  As ons nie liefde in ons lewens het nie, is ons niks  (1 Kor  13:2).

God verwag van ons om ons medemens lief te hê met dieselfde onselfsugtige liefde waarmee Hy ons liefhet.  Ons moet ander liefhê al maak hulle ons soms kwaad;  al benadeel hulle ons;  al verkondig hulle onwaarhede oor ons.  Hierdie liefde is sonder voorwaardes en sluit selfs ons vyande in.  Ons moet húlle ook liefhê en bid vir dié wat ons vervolg (Matt  5:44).

In watter mate is hierdie liefde as deel van die vrug van die Gees in jou lewe teenwoordig?


Gebed:  Hemelse Vader, baie dankie dat ek kan liefhê omdat U my eerste liefgehad het.  Help my om ander ten spyte van al hul tekortkominge lief te hê met die liefde wat U vir my het.


*My liefde vir God word getoets aan my liefde vir my naaste.*


My verhouding tot my naaste is in baie opsigte die vertoonvenster van hoe my verhouding met God is (uit:  Ek glo in die Heilige Gees. Bybelkor).


~ Uit Nina Smit se Dagboek vir die Vrou ~





No comments: