Wednesday 31 October 2012






BLYDSKAP EN DANKBAARHEID


My dienaars sal jubel omdat dit met hulle goed gaan.  -  Jes. 65:14


Blydskap word gebore in ‘n dankbare hart.  Ek is dankbaar en bly want ek is ‘n kind van God, en my blydskap ken geen perke nie.  Soos helende balsem werk dit in en deur elke sel in my liggaam.  ‘n Vrolike lied met ‘n boodskap van krag, van hoop en liefde, weerklink uit die dieptes van my jubelende hart.

Die probleme van gister bestaan nie meer nie – dit het in die niet verdwyn. Met my Heer aan die stuur van my lewe, gaan ek vrolik en bly voort op my pad van lig.

Vanuit ‘n fontein diep binne-in my borrel hierdie blydskap en vreugde op, en vrylik deel ek dit met my medemens, om ook hulle te seën en te heel.

Ek deel hierdie blydskap met elkeen wat my pad mag kruis – groot of klein, oud of jonk, met ‘n glimlag wat hulle welkom laat voel, ‘n groet wat wys dat ek hulle waardeer.

‘n Benadering soos hierdie werk aansteeklik, weldra ontwaak daar ook ‘n lied in die hart van elkeen van hulle saam met wie my paadjie deur die lewe kronkel en vleg.


Gebed:  Vrolik en bly gaan ek voort!


~ Uit Daelikse Woord ~






Tuesday 30 October 2012






VOLHARD EN GLO


Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 
Gal. 6:9


Ek hou aan om aan te hou.  Ek weier om ontmoedig te word deur wat mag lyk soos ‘n gebrek aan vooruitgang of deur oponthoude.  Ek wéét dat ek met Gods hulp kán slaag en sál slaag.

As my mikpunt gesondheid is, hou ek áán om aan te hou.  Ek dink aan ‘n lewe van gesondheid.  Ek volhard met die bevestiging van gesondheid en heelheid.  As dit lyk asof gesondheid of genesing stadig is om plaas te vind, hou ek net áán om te glo.  Ek word nie ontmoedig nie en ek raak nie moedverlore nie.  Ek, my familie, dierbares, bure, vriende, kennisse en diere vir wie ek innig lief het kán genees word en sál genees word.  Ek wéét dit en ek gló dit.

As my mikpunt vir sukses in die een of ander spesifieke rigting is, raak ek nie moedverlore wanneer dit lyk asof daar komplikasies is nie, of wanneer daar struikelblokke is wat oorkom moet word nie.  Ek hou net áán om áán te hou.  Ek gló dat deur die krag van Christus in my ek meer as mans genoeg is vir élke uitdaging in my lewe.

Met  Gods hulp kán ek slaag en sál ek slaag!!


Gebed:  Ek hou áán om aan te hou!   Met Gods hulp kán ek slaag want Hy ís in beheer!!


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday 29 October 2012





GODS OPROEP


U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  Uit U hand kom net wat mooi  is.  – Ps. 16:11


Die oproep tot gebed weerklink in my hart.  Ek word stil, ek ontspan en gaan my binneste heiligdom binne.  Dit is hier waar ek alle strewes stil, en alle persoonlike behoeftes en begeertes onvoorwaardelik in Gods hande plaas.

Elke skadu word uitgewis in Sy lig.  Elke probleem word opgelos in Sy wysheid.  Elke fout  word gekanselleer in Sy liefde.  Ek rus in Sy hemelse teenwoordigheid.

Die oproep tot gebed kom van my Heer.  As ek daarop reageer en my tot Hom wend, glo ek en weet ek dat ek die mens kan wees wat ek so graag wil wees.  Ek kan dit wat my hartewens is bereik.

My verstand is oop vir God lig;  my hart is oop vir Sy liefde;  en my liggaam vir Sy lewenskrag.  Alles om my is rustig en vreedsaam, want die vrede van God heers hier.  My sake en belange word reggestel en verloop ordelik en volgens plan, want ek het Hom daarin geken.


Gebed:  Ek bid en my gedagtes bly God-gerig.


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 28 October 2012





SY SAGTE STEM


Al sit ek in die donker, die Here is my lig.  –  Miga 7:8


Die stralende lig van God skyn helder in my en om my.  Om seker te maak dat dit nooit afneem nie, maar slegs al hoe helderder skyn, begin ek elke nuwe dag in die stilte van gebed diep binne-in my diepste binneste.

Die lig wat so helder in my en om my skyn, verhelder my denke en my oordeel is reg en goed.  Ek gebruik dit in alles wat my aangaan, of die aangeleentheid nou groot of klein is.  Moet ek belangrike besluite neem – ek wend my tot die Heer van my hart.  In ootmoed luister ek na Sy sagte stem in my diepste wese – Hy antwoord die vrae wat my teister en plaas my voete op die regte weg.

Die leiding wat ek van God kry is soos ‘n helder straal van lig wat voor my uit skyn, en die pad wat ek moet volg duidelik uitwys.  Sonder die geringste huiwering of twyfel volg ek hierdie baan van lig.

Aan u Heer, al my lof en dank vir U lig wat so helder op my pad skyn!


Gebed:  U Heer, is my lig en my heil.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 27 October 2012





MOED


Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie want die Here jou God is met jou oral waar jy heengaan.  – Jos. 1:9 (OV)


Dit maak nie saak waar ons ons bevind nie, hoe die weer lyk of watter besluite ons moet neem nie – ons kan nóú, op hierdie oomblik vry, vol moed, geloof en vertroue wees.

Waar ons ook al is, daar is God.  God is met ons, God is rondom ons en God is in alle situasies waarin ons onsself bevind.

God is met ons waar ons is.  Ons is nooit alleen nie want Hy is met ons.  Of ons nou in ‘n besige kantoor is, in ‘n winkel wat wemel van mense, in ‘n lawaaierige stad of tussen vreemdelinge, God is altyd met ons!  En omdat ons dit weet, het ons gemoedsrus!!

God is met ons en Hy gee aan ons ‘n groter geloof en ‘n nuwe gevoel van vryheid en vertroue wat die weg open tot die heil wat ons soek.  Ons is nou, op hierdie oomblik vol moed, vry en vol geloof.


Gebed:  Ek is sterk en vol moed!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 25 October 2012





‘N VOORBEELD


Julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword … So het  julle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges.  -  1 Tess. 1:6-7


‘n Besondere onderwyser, ‘n wyse familielid, ‘n vriend wat omgee – dit is die mense wat vir ons rigting in die lewe gee.  Vir hulle inspirasie, hul leiding en omgee-liefde vir ons, sonder dat hulle dit altyd eens weet, sê ons uit die diepte van ons harte, dankie dierbare Vader!  Dankie vir hierdie mense in ons lewens wat hul hoër geestelike waardes uitleef – ware voorbeelde vir andere!

Hoe graag wil ons nie ook so ‘n voorbeeld wees nie.  Ons beskik ook oor hoër geestelike waardes, wat ons graag wil uitleef teenoor ons naaste.  Ons weet nie hoeveel volwassenes, en moontlik ook kinders, ons as ‘n rolmodel sien waarop hulle hul eie lewens kan skoei nie.  Jou familie, jou bure, jou vriende, kennisse, afgesien van jou huweliksmaat en kinders, en ook die vreemdeling wat by jou verbystap of wat jy ontmoet in die dorp of in jou motor in die verkeer, is maar enkele voorbeelde.  Daarom is dit so belangrik om ons voete stewig op ons pad van lig te hou.

Daar is net een onfeilbare manier om dit te doen, en dit is om die voetspore van Jesus Christus, ons Leermeester en Wegwyser, te volg.  Om soos Hy, met deernis, respek, eerbied, vergifnis, en bo alles, liefde, ons medemens te benader – ‘n ware voorbeeld vir andere.


Gebed:  Omskep my in ‘n omgee-mens, dierbare Heer, met U liefde.


~ Uit Daelikse Woord ~







Sunday 21 October 2012





BID VIR ANDERE


Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet  bid vir dié wat julle vervolg.
Matt. 5:44


Ons bid almal vir ons geliefdes wanneer hulle in nood verkeer, maar bid ons ook vir diégene met wie ons probleme het wanneer hulle in nood verkeer?  Ons kan bid vir leiding vir iemand wie se dade en lewenswyse ons nie aanstaan nie.

Ja, as ons die waarheid wat Jesus ons geleer het nastreef, bid ons nie net vir die regverdiges nie, maar ook vir die onregverdiges;  nie net vir diegene vir wie ons lief is en respekteer nie, maar ook vir hulle met wie ons nie saamstem nie;  nie net vir diegene wat ons ons vriende noem nie, maar ook vir hulle wat skynbaar nie van ons hou nie.

Ons bid vir ‘n ieder en ‘n elk, omdat ons weet ons gebede sal vir hul tot seën wees, en ook omdat ons weet dat elke keer wanneer ons stil word in gebed, ons self ook al hoe nader aan ons Heer beweeg, om geseën te word in Sy liefde en lig, soos ook hulle vir wie ons bid om geseën te word.


Gebed:  Met liefde bid ek vir jou en seën ek jou.


~ Uit Daelikse Woord ~









VADER, IN DIE NAAM VAN JESUS CHRISTUS U KOSBARE SEUN, KOM EK VANDAG NA U TOE. 

EK LOOF EN PRYS U NAAM, WANT EK WEET AS U WERK, KAN NIKS OF NIEMAND U KEER OF STOP NIE. 

VADER, IN DIE NAAM VAN JESUS CHRISTUS, STEL EK NOU DIE KRAG VAN DIE BLOED
  VAN DIE LAM IN WERKING EN 

WEET EK DAT NIKS MY OP ENIGE MANIER SAL LEED AANDOEN WANNEER EK NOU HIERDIE GEBED BID NIE. NOG MINDER SAL

ENIGIETS MY OF MY GESIN OF ENIGE VAN ONS BESITTINGS OF TROETELDIERE SKADE AANDOEN NIE.

VADER, EK VRA DAT U VANDAG ASSEBLIEF DIE MENSE VAN SUID-AFRIKA SE HARTS-TAFELS SAL OMKEER!!!! 

DRING VERSTARDE HARTE MET GEWELD BINNE EN MAAK DAAR SKOON, MY KONING EN HEILAND!!! 

WAS AL DAARDIE BESMETTINGE VAN DIE WÊRELD EN SY SISTEME, MET U SEUN, JESUS CHRISTUS, 

SE KOSBARE BLOED WEG, O GROTE GOD. 

GEBRUIK U SWAARD MET DIE TWEE SNYKANTE OM DAARDIE VUILHEID WAT HARDNEKKIG BLY VASKLEEF, WEG TE SNY!!! 

SNY DIEP EN SEKUUR, MY REDDER EN VERLOSSER! DOEN DEEGLIKE WERK TODAT AL DAARDIE WERKE VAN DIE DUISTERNIS - 

owerspel, hoerery, onreinheid, twis, jaloersheid, naywer, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, toornigheid, tweedrag, partyskap, 

afguns, moord, dronkenskap en brassery, UITGEWIS IS!!! 

EN LAAT U LIEFDE, LANKMOEDIGHEID, BLYDSKAP, VREDE, GOEDHEID, GETROUHEID, SAGMOEDIGHEID EN SELFBEHEERSING - 

DIE KARAKTER-EIENSKAPPE VAN DIE HEILIGE GEES, AL DAARDIE LEË HARTE BINNEVLOEI, EN HELING BRING!!

LAAT STROME LEWENDE WATER IN DIE DORRE WOESTYN-LANDE VAN HARTE EN LEWENS VLOEI, OM NUWE LEWE EN GROEI TE 

BRING. WANT NET Ú KAN NUWE LEWE IN SAKKIES VERDORDE, WIT BEENDERE PLAAS!!!

EK WEET U IS WAARDIG OM DIT TE KAN DOEN, EN EK WEET U WIL DIT GRAAG DOEN!!

LAAT U GEES WAT LEWE GEE, OOR DIE VLAKTES, BERGE EN DALE EN RIVIERE VAN SUID-AFRIKA SWEEF, EN NUWE GROEI 

VOORTBRING, NIÉ OMDAT ONS DIT VERDIEN NIE, O NÉÉ! MAAR BLOOT OMDAT U GENADE SO WONDERBAAR GROOT IS!!!

LAAT NOGTANS U WIL GESKIED, EN NIE MYNE NIE!!!

SOLI DEO GLORIA!!! ALLE EER AAN CHRISTUS ONS HEER!!! 

AMEN.


~ Koekie Marais ~


foto:  borisfrkovic





CHRISTUS IN ONS


Vir almal het ek alles geword.  -  1 Kor. 9:22


In die krag van Christus wat in my woon, kan ek die groot uitdagings in my lewe met welslae die hoof bied.  Maar slaag ek daarin om gedurende die klein alledaagse gebeurtenisse waarmee ek te kampe het Sy liefde, lig en krag in my ten volle uit te leef?

Die mate waarop ek dit uitleef, kom veral onder die soeklig wanneer my planne begin skeefloop, wanneer andere die ordelike roetine van my dag omvergooi, of wanneer onverwagte eise gestel word aan my tyd en aandag.

As ek voel ek skiet hierin tekort, is daar net een antwoord – ek moet elke dag tyd maak om stil te word, en my Heer te nader in my diepste heiligdom.  In Sy liefde en krag wat my hart daar binne-vloei, sal ek nooit onredelik optree teenoor iemand anders nie – ek sal nooit ‘n gebrek aan belangstelling toon wanneer iemand my aandag en my tyd nodig het nie.

As ek leef vanuit die liefde van Christus binne-in my, benader ek alles wat die dag my bied met ‘n gees van liefde, geduld en belangstelling.  Dis dan wanneer dit goed gaan met my.


Gebed:  Christus leef in my en deur my en alles is wel!


~ Uit Daelikse Woord ~





Friday 19 October 2012





GOD IN BEVEL


Want die Here ons God wat mag oor alles het, wys nou dat Hy koning is.  Laat ons bly wees en juig en Hom die eer gee.  – Openb. 19:6, 7


As ons toelaat dat ons gedagtes gaan oor alles wat in die wêreld verkeerd is, word ons bekommerd en angstig.  As ons ons gedagtes posiftief en vol vertroue hou, het ons gemoedsrus.

Hierdie is God se wêreld.  God is in bevel.  Laat ons dit weet, laat ons dit glo en laat ons dit bevestig.  Hoe die situasie ookal op die oog af lyk, God is in bevel.  Hy is nog in beheer van Sy wêreld, aan die werk in die harte en lewens van al Sy kinders om die goeie voort te bring.


Gebed:  Hierdie is God se wêreld.  God is in bevel!


~ Uit Daelikse Woord ~






Foto: Madeline


REG


“My oordeel  is regverdig.” – Joh. 5:30


Die volgende gediggie van Martha Smock (vry vertaal), is ‘n baie goeie verwysing na Gods regverdigheid:

“As ons maar die patroon van ons dae kon sien,
Sal ons besef hoe baie draaie daar in die pad was
     waarlangs ons tot hier gekom het.
Ons moet die seer, die ompaaie en vrese vergeet,
En besef dat ons langs geen ander weg
     kon kom nie,
Op geen ander manier kon groei
Tot dit waarmee ons nou geseën is nie,
Langs hierdie trappe wat ons voete
Soms so moeilik gevind het om te klim.”

Met hierdie woorde in gedagte moet ons ook onthou dat ons Heer altyd met ons is, altyd aktief deel is van ons lewens.  Die seer van die verlede is soos niks in Sy liefde nie, en alles wat vir ons so uiters onregverdig lyk, is maar net nog ‘n trap op die hoofweg van die siel.


Gebed:  Gods regverdigheid heers in my lewe.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 16 October 2012





LAAT LOS LAAT GOD


Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng?
 -  Luk. 12:25


As ons ‘n gewoonte daarvan maak om alles wat ons pla, alles wat ons kwel, te plaas in die hande van die Heer van ons hart, sal vrede en rus ons gemoed vul.  Al ons kommer en sorge draai ons toe in ‘n pakkie wat Hy by ons oorneem.  Hy plaas dit op ‘n ligrakkie binne-in ons versteekte toring van krag, waar dit omskep word in ‘n stralende ligpakkie.

Vry van die kommer wat ons skei van Sy liefde en krag, weet ons wat om te doen en ons doen dit ook.  Niks staan meer tussen ons en Sy lig nie, en idees van wat om waar en wanneer te doen, skiet ons op die regte tyd te binne.  Die uitdaging wat ons die lewe noem, word ‘n plesier, want ons weet Hy is in beheer.

Ook ons liggame vind baat by hierdie leefwyse.  Dit wat uit harmonie is met Sy lewenskrag in ons, los ons aan Sy voete, en strome van lewende water verkwik ons na siel en liggaam.  Ons ontspan en doen alles maklik en sonder moeite wanneer ons laat los en God alles in ons lewens laat hanteer.


Gebed:  Ek laat los en laat God alles hanteer!


~ Uit Daelikse Woord ~






Saturday 13 October 2012






GOUE TRAPPIES


Staan stil en gee ag op die wonders van God.  -  Job 37:14  OV


Het ons gesê goue trappies?  Ja, goue trappies wat voor ons uit opwaarts strek tot binne-in die koninkryk van God – dit is wat die uitdaging wat ons oorwin vir ons bou!  Dis mensedeernis wat ons daartoe in staat stel om te vergewe – om op te staan uit daardie verdriet en teleurstelling.

Ons sien die goue trappies wat ons toewink, en begin uit ons hart uit dankie sê, omdat ons weet ons het geslaag in hierdie uitdaging of toets.  Die herinnering sal van alle seer onthef word, dit sal aangenaam wees, en vergifnis word gebore.

En vir die vermoë om onvoorwaardelik te vergewe – as ons maar kon sien wat dit alles beteken in die koninkryk van God, sal ons nooit ophou dankie sê nie!  Ons sal ons dankie uit jubel – ons sal dit sing – ons sal dit oor en oor herhaal en diep in ons hart sal dit een groot vreugde word – vir ons en vir ‘n ieder en ‘n elk wat hulle lewe met ons deel.  Dankie, dankie, dankie, sing ons, en dankie, dankie, dankie, sing die wêreld saam met ons!


Gebed:  Ek sing saam met die wêreld!


~ Uit Daelikse Woord ~









BESKERMD


Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots by wie ek skuil.  -  Ps. 18:3


Dierbare Vader, hoe heerlik om so rustig en kalm te voel waar ek my ookal mag bevind, omdat ek weet, U is met my.  In U liefde vou U my toe.  U lig is soos ‘n skild om my wat deur geen duisternis oorweldig kan word nie, en in U krag staan ek vas, wat ookal die uitdaging.  Ek is altyd op die regte tyd op die regte plek, want ek wandel in U lig, en ken U op al my weë.

Moet ek op reis gaan – U reis saam met my, my troue Vriend en Medereisiger.  Of die pad nou veilig of minder veilig is, ek sal geen onheil vrees nie.

Moet ek ‘n nuwe, vreemde toekoms aandurf – ook daar is U met my, nou en vir ewig.  U is en bly my rots by wie ek skuil, my troue redder deur die ure van die dag en ook in die nag.

Hand aan hand saam met U op my lewensweg kan ek nêrens wees waar U nie is nie, en ek sal veilig en beskut in U huis bly, in lengte van dae.

Dankie, Vader, vir elke heerlike kommervrye dag saam met U.


Gebed:  U Heer, is my Herder, en ek is veilig.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 11 October 2012





GEBED


Bid gedurig.  -  1 Tess. 5:17


Daar is mense wat hulle hande saamslaan wanneer iets ernstigs met hulle gebeur, en amper wanhopig sê:  “Al wat ek nou kan doen, is om te bid.”  Onder sulke omstandighede is dit seker die enigste ding wat ons kan doen, maar om te bid, is ook die grootste ding wat ons kan doen!

Waarom die grootste ding?  Kom ons kyk.  Deur te bid, erken ons dat Gods hulp altyd beskikbaar is.  Dat Hy onder alle omstandighede, op enige plek, enige tyd, altyd daar is vir ons.  Gebed herinner ons daaraan dat dit nie ons is wat die werk doen nie, maar dat dit sy krag is wat in en deur ons werk en van ons wenners maak.  Gebed verseker ons daarvan dat God in beheer is en alles is wel – ons kan maar laat los en Hom laat oorneem.  Ons bid, Hy neem ons hand, en lei ons na waters waar rus is.  Hy verkwik ons siel met ‘n diep vrede en rus.

En gebed werk!  Gebed maak die deur tot Gods lig, liefde en krag wawyd oop, en wondere begin geskied in ons en om ons!  Gebed is voorwaar die grootste ding wat ons kan doen!


Gebed:  Dankie, Heer!  Ek bid gedurig!


~ Uit Daelikse Woord ~






Monday 8 October 2012





VOORSPOED


Dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep ryklik.  -  Rom. 10:12


In die oggend roep ek my Heer aan – in die middag en in die aand soek ek Hom op diep in my hart, en ek is ryklik geseënd!

Wat is die seëninge waarmee Hy my so ryklik seën?  Ek hoef maar net om my te kyk, en ek sal verbaas wees oor wat God my bied.

My familie, my vriende en medewerkers, die dak oor my kop en die lug wat ek inasem en uitasem en wat my aan die lewe hou – is dit nie alles ryke seëninge vanuit ‘n Vaderhart vol liefde nie?

Hy sorg vir my – in tye van oorvloed sien Hy na my om, en in my tye van nood is Hy nog steeds daar om in al my behoeftes te voorsien.

Miskien is daar deure wat voor my toegaan – miskien verloor ek my werk en alles lyk duister, dan bly die waarheid nog steeds staan – ek is ‘n kind van ‘n liefdevolle Vader en Hy sorg vir my – Hy maak my voorspoedig.  En al is die seëninge op die oog af hoé min, ek soek hulle, ek vind hulle, en ek sê dankie!


Gebed:  Dankie Heer, vir u ryke seëninge ook vir my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 7 October 2012





As 1 Korintiërs 13 net vir Mammas geskryf was .....



Al sou mamma die mooiste huis besit en die lekkerste etes vir ons voorberei, maar dit nie met liefde doen nie, dan is dit so waardeloos soos 'n leë kastrol.


Al is mamma die besigste mamma op die Beheerraad en vir my eendag die duurste sporttoerusting koop, maar mamma het  nie die tyd om my langs die sportveld aan te spoor nie, dan sal dit my niks baat nie.


Al koop mamma 'n kamer vol van die duurste opvoedkundige speelgoed en betaal sakke vol geld vir ekstra klasse, maar mamma sit nie ook self by my en speel of sukkel met die skoolwerk nie, dan sal dit my niks baat nie.


'n Liefdevolle mamma is geduldig met my, sy tel maar partykeer my speelgoed en klere op.


'n Liefdevolle mamma is lankmoedig en vriendelik, sy laai haar motor maar somtyds vol kletsende, bakleiende, swetende skoolkinders.


Mamma's vergelyk nie hul kinders met ander kinders nie en is nie verwaand oor prestasies nie.


Mamma's bedek skrape met liefde en pleisters en glo in my, hoop net die beste vir my en verdra die klaery en kritiek. My gewasde en gestrykte wasgoed word weer vuil en 'n netjies huis weer deurmekaar.......maar 'n opregte drukkie en 'n intieme gesprek sal vir altyd in my kinderhartjie bly.


Eendag sal ons huis en sy binnekant tot niet gaan, maar mamma en ons gesin se siele sal ondersoek word.


Toe mamma nog 'n jong meisie was, was mamma gesteld op mamma se mooi voorkoms en aardse besittings, maar noudat mamma 'n MA is, het ons kinders die belangrikste geword.


Een van die dae kyk mamma miskien vas in 'n opstandige tienergesig, maar eendag as ek groot geword het, sal ek die vrugte pluk van die LIEFDE wat mamma in my kleintyd gesaai het.


En nou bly, AANDAG, GEDULD en LIEFDE, hierdie drie, maar die waardevolste hiervan is die onvoorwaardelike LIEFDE van 'n mamma! ♥










Gebed vir 'n vriendin …


Jesus, ek weet nie watter traumas in my vriendin opgehoop het nie, maar U weet alles.


Ek hoor haar swyg;  U hoor haar pleit.

Ek sien haar glimlag;  U sien haar trane en angs.

Ek sien wat sy gee;  U weet waarvan sy beroof is.

Ek ken haar standvastigheid;    U ken haar gebrokenheid.

Ek sien haar skoon klere;    U ken elke litteken in haar siel.

Ek beleef haar geloof;    U ken haar twyfel.


Ek bring haar met hierdie gebed tot voor U troon en vra:


Here, gee vir haar alles wat sy nodig het, 'n sekerheid
dat U elke sekonde van elke dag en nag by haar is.


Amen








VERKWIK


Na waters waar rus is lei Hy my heen.  Hy verkwik my siel.   
Ps. 23:2-3 OV


Die Here is my herder … Hy verkwik my siel.
Hy verkwik my siel met lig tot ek self weer die lig begin sien.
Hy verkwik my siel met liefde, en ‘n diepe rus en vrede vloei my hart en gemoed binne.
Hy verkwik my siel met krag, en ek kan weer opstaan en aangaan.
Hy verkwik my siel met deernis.
Hy verkwik my siel met geloof.
Hy verkwik my siel met ‘n diep, tintelende blydskap.
Hy verkwik my siel met ‘n lied van oorwinning.
Hy verkwik my siel met sy liefdevolle teenwoordigheid, en die seker wete:

Hy is hier!  Hy is daar!  Hy is oraloor!
By die wonder-waters waar rus is, daar word my siel voorwaar verkwik!


Gebed:  Dankie, Heer, my siel is verkwik!


~ Uit Daelikse Woord ~