Friday 27 June 2014




LAAT LOS LAAT GOD


Moenie bang wees nie, want  Ek is by jou.  Ek sal jou seën.  -  Gen. 26:24


Staan ek voor ‘n uitdaging wat dreig om my te oorweldig?  Soek ek versekering dat die besluit wat ek in ‘n belangrike saak neem, die regte een is?  As my antwoord op hierdie twee vrae of enigiets anders wat my hinder, ja is, neem ek nou ‘n oomblik om stil te word en by Jesus se voete te gaan sit.  In hierdie gewyde oomblik waarin ek met my Heer verkeer, maak ek my gedagtes stil sodat Hy in en deur my kan werk.

Ek laat los en laat God.   Wat ookal mag gebeur, ek laat geen negatiwiteit toe om my gedagtes oor te neem nie.  Ek laat alles in Sy bekwame hande, en ek weet ek hoef my nie te bekommer dat dinge nie volmaak sal uitwerk nie.

Ek laat los en laat God.   Ek wys sodoende dat ek glo dat Sy volmaakte orde in my lewe tot stand kom.  Ek doen alles in my vermoë om ‘n kanaal te word waardeur Hy kan werk om alles en almal betrokke te seën.


Gebed:  Ek laat los en laat God


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 26 June 2014






GOUE OOMBLIKKE


Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit.  -  Job.  37:22


Die kosbaarste tye in my lewe is die tye waarin ek ‘n diep sielevreugde ervaar.  Dit is goue oomblikke hierdie wat God gebruik om Sy doel met my en die betekenis van my lewe aan my te openbaar.

Ek weet dat elke oomblik ‘n spesiale betekenis het vir my.  Of dit nou iets is wat gebeur wat ek as toeval beskou, of ‘n goeduitgewerkte plan, ek moet goed kyk, want God mag ‘n doel daarmee hê – iets belangrik vir my en vir die weg wat ek moet volg in my lewe.

Ek kyk dus na alles wat met my gebeur soos ek dink God dit sou sien – propvol geleenthede vir my om te leer en verder geestelik te groei.  Met hierdie benadering verwelkom ek elke geleentheid, of dit nou deel van my roetinesake is, of iets ongewoons, en ek soek en vind die seën daarin verborge  vir my.

Elke oomblik van elke dag is ‘n goue oomblik op my lewensweg, aan  my geskenk deur God.  ‘n Geskenk so mooi en so wonderlik dat ek dit vir ewig soos ‘n kleinood koester.


Gebed:  Ek koester en onthou elke goue oomblik in my lewe.



~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday 22 June 2014





TROOS


Die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, ... sal julle alles leer.”  -  Joh. 14:26 (Ou Vertaling)


Wanneer ons bedroef is, sal die gedagte dat ons Trooster altyd by ons is, vertroosting bring vir ons hart en berusting vir ons seer gemoed.  Die krag wat bomenslik is, die vreugde wat geen trane kan uitdoof nie, die liefde wat weet dat ons nooit ‘n geliefde kan verloor nie, dit alles behoort aan u deur Christus, ons Heer.

Dink aan die vertroostende woorde van Jesus: 

“Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid ... julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees ...  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle;  nie soos die wêreld gee nie, gee Ek aan julle nie.  Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”  (Joh. 14 vanaf vers 16 Ou Vertaling).

Mag die liefde van Christus wat in u hart woon, u vertroos, onderskraag en die nodige krag gee deur enige gebeurlikheid.


Gebed:  Dankie Heer, vir U liefde in my hart.


~ Uit Daelikse Woord – Maart 1989 ~




Saturday 21 June 2014





EK VAT JOU HAND


Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand.  -  Jes. 41:13


Wat ‘n pragtige belofte!   Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand.  Is daar groter trooswoorde as juis hierdie??  Kom ons luister na God se stem:

“Is daar ‘n tekort aan een of ander noodsaaklikheid in jou lewe?  Ek vat jou hand – niks sal jou ontbreek nie.

Is jy uitgeput en moeg na siel en liggaam?  Ek vat jou hand en lei jou na waters waar rus is – Ek verkwik jou siel.

Sit jy vasgevang in die diepste duisternis, moenie bang wees nie – kyk, Ek is met jou.  Ek vat jou hand.  Ek vertroos jou.  Hier is My stok en My staf, gebruik dit, en Ek sal jou uit die duisternis die lig in lei.

Is jou hart in stukke gebreek en sit jy bedroef en moedeloos langs die pad, glad nie meer lus om een tree verder te gee op jou lewenspad nie?  Kom, vat My hand.  Vir geen oomblik sal ek jou begewe of verlaat nie – Ek vat jou hand en stap saam met jou die onbekende toekoms in.  Die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag, want Ek is elke oomblik aan jou sy.  Kyk, Ek vat jou hand.”


Gebed:  Vat my hand dierbaarste Heer, en hou dit styf vas.


~ Uit Daelikse Woord ~








Griet en haar 15 Kleutertjies - Ons God is SO groot! (bietjie lank maar oor en oor die moeite werd!)

deur Nina Smit 


Tydens 'n televisieopname vir Christen-Net gesels ek met 'n vrou in Happy Valley wat elke dag na 15 kleutertjies, wie se ouderdomme van sowat nege maande tot ses jaar wissel, omsien. Sy bly in n eenkamerplakkershut, sonder 'n toilet of kombuis. Die dubbelbed in die klein vertrekkie beslaan omtrent een derde van die beskikbare ruimte.

'Griet,' wil ek by haar weet, 'wat op aarde vang jy élke dag vir twaalf uur lank met so baie kinders in so 'n klein kamertjie aan?'

Sy glimlag stralend vir my. 'O, ek kyk na hulle en ek lees vir hulle stories en ek leer hulle sing en ek is lief vir hulle.' sê sy.

'Kan hulle vir ons sing?' vra die televisieregisseur. Griet stel haar spannetjie in gelid voor die plakkershut op - sommer so tussen die wapperende wasgoed - en neem langs hulle stelling in met die twee jongstes op haar heupe. Sy sit in en hulle begin sing:

My God is so groot, so sterk en so magtig,
daar's niks wat my God nie kan doen!
Die berge maak Hy, riviere daarby,
die blommetjies, voëltjies en sonneskyn -
My God is so groot, so sterk en so maggtig,
daar's niks wat my God nie kan doen!

Die kuier by Griet het vir my weer die waarheid van die kleuters se koortjie onderstreep: die God wat ons aanbid, is groot, *so* groot en *so* magtig, dat daar heeltemal niks is wat Hy nie kan doen nie. Ons mag maar met groot vrymoedigheid op sy hulp staatmaak en oor Hom bly wees!

(Is dit nie ongelooflik wat hierdie vrou doen nie - sy laat die kinders sing van die mooiste ou blommetjies wat hulle dalk nog nie eens gesien het nie, want hul word groot tussen sinkplate en roesplekke! Ek is seker daar sal eendag 'n baie spesiale plekkie in die hemel wees, want wat SY doen vir die kindertjies wag GOD *so* liefhet, is sekerlik een van die grootste liefdesdade *ooit*!


Thursday 19 June 2014





MY  STERKTE


God is my sterkte;  aan Hom behoort  ek vir altyd.  -  Ps 73:26


Heer van my hart, ek vat U hand!  Gee my die nodige krag vir die ure en die dag wat voorlê.  Maak my sterk, dierbaarste Heer, na gees, siel en liggaam.  Versterk my wil en versterk my moed en geloof sodat ek kan doen en wees dít wat ek in U krag kan doen en wees en moet deurgaan.

Maak my liggaam oop en ontvanklik vir die helende krag van U liefde en lig wat onverpoosd in my are vloei, en seën my met nuwe lewensenergie en krag.

Heer van my hart, gee my die krag om vas te staan in my geloof in U en U almag, en nie ontsteld te word deur die voorkoms van dinge om my nie.  Hou net my hand styf vas, Heer, dan sal nie struikel of val nie – dit wéét ek!

Heer van my hart, voorsien my vandag van ál die lig, ál die liefde en ál krag wat ek nodig mag hê om van hiérdie dag ‘n sukses-dag, ‘n Lig-dag, ‘n dag saam met U te maak!

Dierbaarste Heer – dankie dat U só naby aan my is – net een enkele gedagte, een gebed ver!


Gebed:  Ek vat U hand, Heer, besitter van heel my lewe!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 18 June 2014






WONDERLIK!


Staan stil en gee ag op die wonders van God.  -  Job 37:14 (OV)


Is dit nie wonderlik dat ons die geleentheid het om deur positiewe, liefdevolle, konstruktiewe denke en gevoel ons lewe kan omskep in ‘n aangename avontuur nie?

Is dit nie wonderlik dat ons vryheid van keuse het en boonop soveel het om van te kies nie!

Is dit nie wonderlik dat ons van ander kan verskil wat begeertes, optrede en opinie aanbetref en nogtans vir hulle kan liefhê en respekteer nie!

Is dit nie wonderlik dat daar oorgenoeg van Gods goedheid is om in ons almal se behoeftes te voorsien nie!

Is dit nie wonderlik dat niemand van ons geestelike kwaliteite van ons kan wegneem nie!

Is dit nie wonderlik dat ons kan glo soos ons wil glo nie, en wat ons glo, dit geskied!

Is dit nie wonderlik dat God liefde en volmaaktheid is en dat Sy seun in ons woon nie!

Is dit nie wonderlik om elke dag hand-aan-hand saam met Hom te stap nie!


Gebed:  Is die lewe nie wonderlik nie!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 17 June 2014





WELKOM!


Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde.  -  Jes 65:17 (Ou Vert.)


“Welkom!”  roep ek.  “Welkom lewe en welkom nuwe dag!”  Die duisternis het verdwyn en die skaduwees het gevlug toe die nuwe dag gebreek het.  ‘n Gees van nuutheid heers in die huis wat my hart is.  Ek wag gretig op die goeie wat op pad is na my toe.

Welkom geluk!  Welkom blydskap!  Kom in en bly by my.  Ek is klaar met terneergedruktheid en bedroefdheid.  Ek is klaar met nuttelose spyt.  Ek is nuut, die lewe is nuut.  Ek voel helderheid en ‘n glorie wat alles deurstraal.  Ek is omring met die wonder en die skoonheid van Gods liefde.

Ek kom reg.  Ek kan alles tegemoetgaan en oorwin.  Ek kan ‘n nuwe lewe bou – ‘n lewe wat ryk, vervullend en na my smaak sowel as na God se smaak is.

Welkom lewe!  Welkom nuwe dag!  Ek is bly om te lewe en om in hierdie wonderlike wêreld te kan leef.


Gebed:  Welkom lewe!  Welkom nuwe dag!


~ Uit Daelikse Woord  April 1990 ~


(Ek versamel hierdie stokoud Daelikse Woord boekies wat nou Wees Lig genoem word.  As julle daarvan het en dit nie meer gebruik nie – stuur dit asb vir my.  Hulle sal ‘n ereplekkie hê in my versamelinkie!  Baie dankie,  Poppie Oosthuizen - My epos adres is:  mamma333@gmail.com )

Monday 16 June 2014






MY   WEG


By U is die fontein van die lewe;  in U lig sien ons die lig.  -  Ps. 36:10 (OV)


Verlig my weg, Heer.    Laat my U lig sien, hoe donker alles om my heen ookal mag wees – U lig wat my wink na my spesiale plek in U wonderlike wêreld.

Verlig my weg, Heer.   Soek ek na genesing na liggaam, siel en gees, laat U lig die weg aandui wat ek moet volg.  Gee my die lig-gedagtes wat my onderskraag en my lei in dit wat ek moet doen, lig-gedagtes wat my hernu en genees.

Verlig my weg, Heer.   As ek vandag met mense moet saamwerk, in watter hoedanigheid ookal, gee aan my die geduld om te luister na wat hulle sê, en die wysheid om so te reageer dat andere ook U lig in my sal vind, en alles beter verstaan.

Verlig my weg, Heer.   Maak my ‘n ware kind van die lig, iemand wat saam met U werk om ook lig te bring vir hierdie wêreld en sy mense.  Maak my ‘n lewende, bydraende deel van U heelal, Heer.  In U lig wil ek lewe, in U lig wil ek dien, in U lig wil ek liefhê en groei.  Hier is ek, Heer.  Verlig U my weg!


Gebed:  Verlig U my weg, Heer.



~ Uit Daelikse Woord ~



Sunday 15 June 2014





GENADE VAN GOD


Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die gendadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered sal kan word.  -  Hebr. 4:16


Ongeag die voorkoms van ons lewensomstandighede, die genade van God is altyd aan die werk in ons lewens, of ons dit nou glo of nie.  As ons ophou inmeng – ophou probeer om dinge in ‘n sekere rigting te forseer omdat ons ‘n sekere doelwit nastreef, sal ons vind dat die genade van God oorneem.  In Sy genade werk alles reg uit en ons vind rus vir ons siel.  As ons alles gedoen het in ‘n sekere situasie wat menslik gedoen kan word, sal Sy genade aangaan en nog meer doen.  Sy genade verseker ons van liefde, beskerming, voorsiening en leiding.

As ons in ons gebede die “genadetroon” nader, sal ons versterk word in ons geloof en ons sal alles beter verstaan.

Sy genade sien ook om na ons geliefdes wanneer  hulle deur moeilike tye moet gaan.  Ons glo dit, ons weet dit en ontspan in die wete dat hulle veilig en versorg is.  Die seën van Gods genade is baie groter as wat ons ooit kan droom.


Gebed:  Ek glo en ontspan in die genade van God vir my en my geliefdes.


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 14 June 2014





KINDERS


“Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”  - JESUS - (Matt 19:14)


Die kinders van die wêreld is die volwassenes van die toekoms, daarom is ons almal ten nouste betrokke by hulle.  Waar ons ookal vandag is, wat ons ookal doen, ons kan die kinders van ons wêreld in ons gebede seën.

Ons kan begin deur vir die kinders in ons eie familie te bid.  Laat ons dan die kinders in ons omgewing, in ons land en in die wêreld insluit.

Kinders het ‘n behoefte  aan liefde.  Daar moet vir hulle gesorg word, hulle moet gevoed word, opgelei word, beskerm en gelei word.  In ons eie families, gemeenskappe en dele van die wêreld, sien ons wel om na die kinders.

Deur die krag van ons gebede, kan ons alle kinders dwarsoor die wêreld seën.  Op die vleuels van ons liefde kring ons gebede wyer en wyer uit, tot seën van elke verlore, eensame, bang kind, op enige plek in die wêreld.

Deur ons kinders te seën in ons gebede, seën ons ook ons wêreld en die toekoms van die wêreld.


Gebed:  Seën die kinders van die wêreld, Heer, hulle is die volwassenes van die toekoms.  Laat ook U seënende hand rus op ons land en ons wêreld en beskerm ons teen die versoekings van bose.  Uit eie krag kan ons nie, maar alleen deur Ú krag is die bose magteloos en ons veilig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 13 June 2014





‘N SUIWER STROOM


Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly.  -  Psalm 46:5 (OV)


Die lewenskrag van God pols in my hart en vloei in my are.  Dis ‘n suiwer rivierstroom, wat gesondheid, vitaliteit, krag, blydskap, orde, harmonie en lig vir my bring na gees, siel en liggaam.  Hierdie wonder-stroom van lewe en van krag, vloei deur my gedagtewêreld.  Ek sien hoe die opgehoopte puin van gedagtes aan siekte, gebrek en beperking wegspoel, en ek is vry!

Suiwer en skoon is dit, en sover dit vloei, maak dit elke sel en atoom in my liggaam weer jonk en energiek, en gesond en sterk kan ek weer elke mooi dag geniet in my lewe.

Die reinigende aksie daarvan vloei ook deur my hart en emosies.  Dit spoel alle wrewel, veroordeling, vrees en afguns weg, en Christus self neem sy intrek in my hart.

Dankie, Heer, vir hierdie wonder-rivier vanuit U bron van liefde en lig wat steeds in en deur my vloei – die rivier wat my in staat stel om in die vlees ook te wees wat ek in die gees is – U volmaakte kind van die lig!


Gebed:  Vry en bly, is ek ‘n volmaakte kind van die lig!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 12 June 2014





EK IS STIL


Bedaar en erken dat Ek God is.  (Be still and know that I am God.)  -  Ps 46:11


Ek is stil.
Ek is nie bang nie.  Ek is nie bekommerd nie.  Ek is nie gespanne nie.  Ek is nie moedeloos nie.  Ek is nie hartseer nie.

Ek is stil.
God is my hulp – nou, net hier waar ek nou is.  Hy is die sagte stem diep in my hart, wat my met woorde van wysheid lei en rig.  God is my lig, my veilige hawe en my krag.  Hy is my voorsiening en my voorsiener, altyd daar om my en almal om my, te beskerm en te seën.

Ek is stil.
Hoe diep die stilte hier waar ek nou saam met my dierbare Heer verkeer – die plek waar my siel rus vind in Sy kosbare liefde – die plek waar ek die Lig vind wat ek sal volg tot heerlike, alles oorwinnende vryheid – die plek waar ek al die Krag sal vind wat ek ooit mag nodig hê op my pad van Lig deur heel my lewe heen.

Ek is stil, en God praat met my.


Gebed:  Ek is stil en God praat met my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 11 June 2014





KRAG


Die wat op die Here wag, kry nuwe krag;  hulle vaar op met vleuels soos die arende;  ... hulle wandel en word nie mat nie.  -  Jes. 40:31 OV


Hoe heerlik sal dit nie wees om op te vaar met die vleuels van arende, en te wandel en nie moeg te word nie!  Ons kan, sê Jesaja, ons moet net op die Here wag.  Want as ons op die Here wag, styg ons uit bo alles wat ons so vas bind op hierdie aarde.

Maar hoe wag ‘n mens op die Here?  Ons gaan ontmoet  Hom vroeg in die oggend en laat in die aand, en enige tyd deur die dag wanneer ons Hom dringend nodig het, of sommer net ‘n klein oomblikkie vry het om Hom op te soek in ons diepste heiligdom van krag.  Daar sal ons Hom ALTYD kry!

‘n Tyd om stil te word in sy Heerlikheid, Liefde, Lig en Krag – ‘n tyd om Hom toe te laat om ons hart en ons siel binne te kom, sodat ons ware opregte Ligwesens kan word wat woon in ‘n tempel van Lig.  Dit is wat ons moet doen om met die vleuels van arende oor al ons probleme heen uit te styg – só hoog sweef ons dan dat die uitdagings voor ons slegs geleenthede word!


Gebed:  Dankie, Here, op U wag ek, en kry ek nuwe krag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 9 June 2014





KIND VAN DIE LIG


Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid!  -  Kol. 2:27


Kind van die Lig, aanvaar die feit dat Ek binne-in jou is!  Diep in jou diepste wese sal jy My vind, met al My krag, al My liefde en lig vrylik tot jou beskikking.  Gebruik dit en maak julle hoop op die heerlikheid ‘n werklikheid in jou lewe!

Staan op!  in die magtige glorie van jou Ware Self. 

Gaan voort!  ‘n magtige oorwinnende teenwoordigheid so ver jy gaan.

Wees!  die lig wat Ek is in jou wat nooit verdof nie, en laat dit al hoe helderder en helderder in en deur jou werk en straal, tot seën van jou wêreld en sy mense.

Beweeg!  geklee in die lig van jou eie glorieryke Christus-self, en die heerlikheid sal nie net ‘n hoop bly nie, dit sal ‘n werklikheid word!

Wees vry!  want Ek is in jou – die rigtinggewende intelligensie in jou brein, die deernisvolle liefde in jou hart, en jou alles-oorwinnende krag.


Gebed:  Ja, Here!  U is my hoop op die heerlikheid!


~ Uit Daelikse Woord ~




Saturday 7 June 2014





LEIDING


U lei my met u raad.  -  Psalm 73:24


Onder die leiding van Gods liefde en lig vind ons die werk en vriende wat pas by ons behoeftes en belangstellings.  Ons weet ons word gelei in die liefde van God want alles gebeur so stap vir stap en ordelik, en ons begin let en reageer op die geringste gebeurlikheid.

In die loop van vandag sal ons baie besluite moet neem – sommiges belangrik en ander weer van minder belang.  As ons in ons stil gebedsuur ons hand in dié van ons Heer geplaas het, kan ons rus in die wete dat wat ons ookal vandag mag besluit, of dit nou groot of klein is, in Sy liefde en lig sal elke besluit die regte een wees.  Hy lei ons, en ons volg Sy leiding.

Al gaandeweg is Hy besig om ons te lei tot dit wat vir ons die heel beste is, daarom bid ons en luister ons aandagtig.  Dit wat Hy aan ons openbaar mag ‘n fyn uitgewerkte plan wees of ‘n skielike inspirasie.  Hoe dit kom, is egter nie van belang nie;  wat wel van belang is, is dat ons in harmonie met Sy liefde bly en die pad volg wat Hy voor ons oopmaak.


Gebed:  Lei my Heer, op U pad van lig.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 6 June 2014






LOOF  GOD!


Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.  -  Gen. 1:31


Wat 'n heerlike, kraakvars, nuwe dag is dit net nie!  Oral ontdek ons die aanraking van ons Skepper. Vrolik en bly begroet begroet ons hierdie nuwe dag.

Sodra ons bewus word van enige vorm van negatiwiteit, staan ons vas in ons geloof in God - die een krag en Teenwoordigheid in die heelal. In Hom glo ons, vertrou onskwade van alle krag ontneem word - die goeie sal seëvier. Christus sal weer na die aarde terugkeer!

Ons is oop en ontvanklik vir enige vorm van leiding van Bo, en ons loof God, want ons weet Hy waak steeds oor ons, ons geliefdes en ons wêreld!
  en ons WEET hy heers oor alles heen. In Sy krag sal die 
Elke dag bied iets nuuts wat ons kan geniet en bewonder - elke dag is nóg 'n mooier dag wat ons met oorgawe kan leef in die liefde, lig en krag van 'n almagtige hemelse Vader. SO almagtig is Hy, en tog so liefdevol, dat nie eens 'n voëltjie sal val sonder dat Hy daarvan weet nie! Wat 'n wonderlike wêreld het Hy net nie geskep nie!


Gebed:  Gods goedheid heers oor alles heen vandag!


~ Uit Daelikse Woord ~