Friday 11 May 2012

Goeiemore Maats

Ek gaan bietjie by my kinders kuier vir  plus/minus twee weke en sal ook nie op internet wees nie. Het hierdie vakansietjie baie nodig.  Sodra ek weer terug is, sal ek vir julle laat weet .... Pas julle mooi op - julle is baie kosbaar vir my!

Liefdegroete

Poppie




LEWENDE  BRIEF


Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie maar op die harte van mense.  -  2  Kor. 3:3


Paulus, in sy brief aan die Korinthiërs, gebruik ‘n beeld wat ‘n mens aan die dink sit:  “Julle is ‘n brief van Christus … geskrywe … met die Gees van die lewende God.” 

As my lewe dan soos ‘n brief is wat elke dag deur almal met wie ek in aanraking kom, gelees word, wat lees hulle in daardie brief?  Ek is net ‘n lewende brief van Christus as ek  Christus-kwaliteite ontwikkel en dit uitleef:  kwaliteite soos lewe, lig, liefde, vreugde, geloof en krag.  Ek is tot seën vir die wêreld as ek deur my gedagtes en woorde wys dat die Gees van God waarlik Sy boodskap op my hart geskryf het.

Die idee van myself as ‘n lewende brief van Christus dien as ‘n daaglikse aanmaning dat my omgang met ander, op watter manier ook al, moet getuig:  “Ek gee om.  Ek glo.  Ek verstaan.  Ek vergewe.  Ek is dankbaar.  Ek sien die Christus in jou.  Ek sien jou vervul met moed, geduld en wysheid.  Beide ek en jy kan in ons lewens uitdra dit wat mooi is, dit wat waar is en dit wat volmaak en goed is.”


Gebed:  Ek is ‘n brief van Christus.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 8 May 2012






VERGEWE


Wat is makliker?  Om te sê:  “Jou sondes is jou vergewe,” of om te sê:  “Staan op en loop”?   -  Luk.  5:23


Om met gedagtes rond te loop wat maar net nie kan vergewe en vergeet nie, is om ‘n muur te bou tussen ons die die Heer van ons hart.  Dit sal ons sielerus verstoor, en ons ontneem van die vermoë om skeppend te dink en te handel.

Die enigste manier om van hierdie dodelike las ontslae te raak, is om onsself daaraan te herinner dat die liefde van Christus in ons en ook in andere woon.  In gebed doen ons ‘n beroep op hierdie liefde om ons hele wese te deurspoel.  Ons ontspan en laat dit helder in ons en om ons vloei, tot seën van elke mens en elke gebeurlikheid.

Die liefde van ons Heer reinig ons hart van alle wrewel.  Wat ‘n rukkie gelede nog moeilik was om te vergewe, word nietig en klein.  Dit verdwyn in die lig van Sy liefde wat insig en begrip bring.  Die seer gevoelens van negatiewe gedagtes wat ons aan bande gelê het, word vervang deur die liefde van Christus, en ons siel begin weer sing.  Ons weet ons kan vergewe, en ons doen dit ook!


Gebed:  Ek kan vergewe en ek doen dit ook!


~ Uit Daelikse Woord ~




Monday 7 May 2012





BESKERMING


Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?   - Ps. 27:1


Waar ek ookal vandag mag gaan en wat ek ookal mag doen, ek weet my Heer is met my om my te beskerm en te onderskraag.  Ek kan nêrens wees waar Hy nie is nie.  Daar is niks wat Hy nie kan heel nie – geen uitdaging waardeur Hy my nie veilig kan lei nie.

Die wete dat ek nooit alleen is nie, vul my met die nodige moed en krag om blymoedig voort te gaan.  Hy voorsien my van al die krag wat ek ooit nodig mag hê, van die wysheid en intelligensie om die regte besluite te neem en die moed en durf om dit deur te voer.

Is ek in die diepste duisternis – my Heer is met my.  Sweef ek oor die bergtoppe van suiwer geluk – ook daar is Hy steeds met my.  In my smart en in my vreugde is Hy die troue vriend aan my sy.  Hy help my om positief te bly onder alle omstandighede, en saam met Hom word elke probleem slegs ‘n geleentheid om nog nader aan Hom te groei.

Elke oomblik, elke uur, is Hy met my – vir wie sou ek dan vrees?


Gebed:  Die Here is my toevlug.


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 4 May 2012






NOU


Nogtans moet ek dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.
Matt. 3:15


Ek lewe nou, op hierdie oomblik, en is rustig.  Ek leef nou, op hierdie oomblik, en is vry van enige vrese oor die toekoms.

Ek rus in die wete dat God die bron is van alles wat goed en mooi is.  Hy beskerm en lei my.  Ek rus in die vleuels van Sy liefde, en die vrede wat alle verstand te bowe gaan vul my gemoed.

Nou is hierdie oomblik – nie gister of môre nie.  ‘n Tyd om iets moois te gee, en ek dink aan maniere waarop ek die liefde waarvan my hart so vol is, kan deel met my medemens.  Ek onthou dat ek ‘n kind van God is, dat ek Sy pad van lig bewandel, steeds gelei en gerig tot my hoogste heil.

Met ‘n dankbare hart gaan ek voort, en geniet al die seëninge wat my hemelse Vader op my uitstort.

Nou is hierdie oomblik.  ‘n Tyd om te geniet en die saadjies vir ‘n wonderlike toekoms te saai.


Gebed:  Ek lewe nou, toegevou in die liefde van God.


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 3 May 2012





DIERBARES


Dit  (die liefde)  bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. 
1 Kor. 13:7


Heer, hier waar ek nou vir u dankie sê vir al U seëninge in my lewe, dink ek ook aan my dierbares, my vriende en medewerkers.  Baie dankie Heer, vir elkeen van hulle in my lewe.

Ek verstaan dat U U liefde aan my betoon deur die vriendelike dade, gebede en belangstelling van andere.  Diep uit my hart sê ek nou dankie vir die liefdevolle sorg en aandag wat ek so ontvang.

Dit maak ook nie eintlik saak of ek alleen of saam met andere woon nie, want ek weet U liefde, of dit nou deur een persoon of ‘n dosyn op my uitgestort word, kan ongetelde seëninge in my lewe inbring - seëninge van verrykende vriendskappe en kameraadskap wat my lewe o, so mooi en ryk maak!

Dankie Heer, vir elke geleentheid wat U my bied om ook my liefde teenoor andere uit te leef.  Dankie vir my familie, gewaardeerde vriende, noue medewerkers,  dierbare troeteldiertjies en talle ander wonderlike dinge in my lewe.  Op ongelooflike, unieke maniere vloei U liefde na my en deur my tot seën van ons wêreld.


Gebed:  Dankie Heer, vir almal wat vir my so dierbaar is.


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 2 May 2012





GELOOF


As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê:  “Gaan staan daar anderkant!”  en hy sal gaan.  Niks sal vir  julle onmoontlik wees nie.  -  Matt.  17:20


Ons glo in God en in die wonder van sy werke in ons en om ons.  Ons ken ons Heer as ons leidsman en raadgewer, en is nie bang om aan te gaan nie, al kan ons glad nie lig sien in die uitdaging waarvoor ons te staan gekom het nie.  Ons neem een tree op ‘n keer, en met elke tree wat ons neem, sien ons nog ‘n deeltjie van die pad.  Tree vir gelowige tree, gaan ons aan, want ons weet – een tree op ‘n keer is al wat nodig is op die hoofweg van die siel.

Ons glo ook in die krag van gebed – en laat nie toe dat gebeure ons geloof laat wankel nie.  Ons laat nie toe dat negatiewe vrese ons gedagtes vertroebel nie.  Hoe negatief alles om ons ookal skyn te wees, ons lê ons daarop toe om ons gedagtes en ons gebede positief te hou, want dan bly ons oop vir Gods werke in ons en om ons, en die goeie sal uiteindelik seëvier.  By God en vir God is alles moontlik!


Gebed:  Ek bid en glo!


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 1 May 2012





TROOS


Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos. 
Jes. 66:13  OV


Heer, wanneer ek so stil word hier by U, diep in my diepste heiligdom, voel ek so ná aan U.  U is altyd my troos en my krag, wat ek ookal mag deurgaan.

U weet so goed wat in my hart en my gemoed omgaan – U ken elke vrees en kommergedagte, en net U kan dit stil.  U liefde vul ‘n leemte in my lewe wat deur niks en niemand vervang kan word nie.

Wanneer my geliefdes voor ‘n probleem te staan kom, probeer ek hulle troos en bemoedig, maar soms voel dit vir my of dit wat ek sê en doen net nie voldoende is in hulle uur van nood nie.  Dis dan wanneer ek my tot U wend vir die nodige krag.  U sien toe dat my optrede reg is.  U lê in my mond die woorde wat hulle so nodig het op daardie tyd, en wanneer ek alles gedoen het wat ek kan, is dit U wat nog steeds na hulle omsien.

Heer, U moedig my aan wanneer ek op moedverloor se vlakte sit,  U lei my wanneer dit lyk asof ek die pad byster geraak het.  U, Heer van my hart, is my troos en my sterkte.


Gebed:  By U Heer, vind ek troos en krag.


~ Uit Daelikse Woord ~