Friday 30 December 2011





GROEI


Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.  – 1 Kor. 3:7


God het aan my die vermoë gegee om helder en skeppend te dink, en die vryheid om die stuurman van my eie lewe te wees.  Dus kan ek my gedagtes en gewoontes so verander dat slegs die beste in my na vore kom.

Ek is vry om ontslae te raak van alle gewoontes wat nie meer lonend is nie.  Ek kan my denke skoon maak van alle gedagtes van twyfel, vrees of skuldgevoelens, en hulle vervang deur die seker wete dat ek tot iets beter in staat is.  Ek loof God vir die geleentheid wat Hy my bied om altyd geestelik te kan groei en ontvou deur die ervarings wat die leerskool wat ons die lewe noem, my bied.

Ek is alles behalwe volmaak, maar ek kan elke dag so ‘n bietjie verbeter op die voorafgaande dag.  Solank ek aanhou om my bes te probeer, misluk ek nie, en elke keer wanneer ek slaag, groei my selfbeeld en vertroue in my eie vermoëns, en ek sien kans om selfs nuwe dinge aan te pak.


Gebed:  Ek word geestelik al hoe sterker.


~ Uit Daelikse Woord ~






VERHOUDINGS


Ek bid vir hulle.  -  Joh.  17:9


Die grootste geskenk wat ek ooit vir andere kan gee, is die van my gebede vir hulle:  “Liefling, ek sê dankie vir jou en vir die feit dat jy my lewe met my deel.  Met liefde en vrede seën ek jou, en ek sien jou gelukkig en suksesvol in alles wat jy aanpak.

“Ek het jou lief en aanvaar jou soos jy nou is – nie soos jy in die verlede was of soos ek jou graag in die toekoms wil hê nie.

“Ek laat jou vry om jou eie weg te vind volgens die leiding wat jy kry, en om jou eie lewe te lei – ‘n lewe wat vir jou geluk en vervulling bring.  Ek kan nie jou lewe vir jou leef nie of weet wat jou beïnvloed om die besluite te neem wat jy wel neem nie, daarom oordeel of veroordeel ek jou nie.

“Ek glo en vertrou dat jy ook vir my met die bedagsaamheid en respek sal behandel waarmee ek jou behandel.  Ek waardeer jou eerlikheid en openhartigheid, en is dankbaar oor die geleentheid wat God my bied om jou te ken – ‘n geliefde vry kind van die lig, met spesiale seëninge wat net jy vir die mensdom kan bied.”


Gebed: Liefling, ek seën jou in my gebede!


~ Uit Daelikse Woord ~


Thursday 29 December 2011





HELING


Die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.  -  2 Kor. 13:13


Die helende liefde van God raak elke liggaamsel van ons aan.  Niks wat nie in harmonie met hierdie liefde kan saamwerk nie, kan staande bly in hierdie magtige stroom van liefde nie.

As ons sukkel om ons gedagtes op God en Sy werke gerig te hou, word ons stil.  Ons gaan ons binnekamer  binne en vra die Heer van ons hart vir Sy hulp.  Hy seën ons gedagtes, maak ons rustig en kalm en bring genesing vir ons na siel en liggaam.

Hierdie helende liefde werk nie net in ons nie, maar ook om ons.  Dit bring orde in ons sake en belange en maak ons voorspoedig.

Verlang ons na beter menseverhoudings tussen ons en ons vriende, familie en medewerkers?  Dan maak ons ‘n beroep op Sy liefde om enige disharmonie wat tussen ons en hulle mag bestaan, uit die weg te ruim.  Hy reageer op elke versoek, en Sy liefde bring vergifnis en liefde teenoor almal ons harte binne.


Gebed:  Die liefde van God vloei nou in my en om my!


~ Uit Daelikse Woord ~




Wednesday 28 December 2011





GLIMLAG!


Blydskap laat ‘n mens se gesig straal … die blymoedige mens se hele lewe is ‘n fees.  - Spr. 15:13, 15


‘n Glimlag weerspieël die gedagtes wat ek dink.  Dit is ook baie maklik om te glimlag.  Hulle wat weet, sê ‘n mens gebruik baie minder spiere om te glimlag as om te frons!

Dit maak nie saak wat die dag vir my bring nie, ‘n glimlag kan dit beter maak.  En om alles te kroon – ‘n glimlag is aansteeklik!  As ek glimlag, glimlag andere ook vir my.

Al lyk die dag vir my na een groot deurmekaarspul, dit is nie nodig om dit sommer net so te aanvaar nie.  Ek kan alles verander met ‘n glimlag.  Die glimlag self sal nie die omstandighede enigsins verander nie, maar dit sê vir almal wat ek teëkom dat God nog in beheer van Sy wêreld is, en dat Hy ook hier besig is om te sorg dat alles ordelik en reg verloop.

‘n Opregte glimlag, wat ook in my oë sigbaar is, is die maklikste manier om my liefde en vriendelikheid aan andere en aan ons wêreld oor te dra.


Gebed:  My glimlag weerspieël die liefde in my hart.


~ Uit Daelikse Woord ~







GOD SEËN U!


Ons seën julle in die naam van die HERE.  – Ps. 129:8  OV


God seën u!  Wanneer ons hierdie woorde hardop of sag uitspreek, en dit bedoel, dra hulle ‘n seën oor.  Vandag straal ek my liefde en seën op alles mense uit.  Ek prewel die gebed:  “God seën jou, kind van die lig, waar jy ook al mag wees.”

God seën jou met harmonie en begrip in al jou verhoudinge met ander.

God seën jou met vreesloosheid en met geloof wanneer jy voor uitdagings te staan kom.

God seën jou met vrede en orde wanneer daar skynbaar ongeregtigheid en verwarring is.

God seën jou met liefde en verdraagsaamheid wat kritiek en foutvindery verjaag.

God seën jou met geloof in Sy genesende krag, die geloof om te weet dat by Hom alle kwale genees kan word.

God seën jou met die rykdom van Sy liefde en maak jou lewe voorspoedig.


Gebed:  God seën jou!


~ Uit Daelikse Woord ~




Thursday 22 December 2011





ONS TUISTE


As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle:  “Wees saam met my bly”. – Luk. 15:6


Terwyl ons so besig is met die voorbereidings vir ons vakansie en feesgety, kom die gedagte spontaan by ons op – wat beteken ons huis vir ons?  Ons huis is ‘n baie spesiale plek vir ons – dis ‘n toevlug wat ons rus en vrede gee ‘n plek waar ons kan ontspan en hernu kan word.

Of ons huis nou groot of klein is, in die middel van ‘n besige stad of êrens op die platteland of op ‘n plaas, dit is en bly vir ons ‘n plek waarin ons onself kan onttrek van al die eise wat die lewe aan ons stel.

Ons huis is ook ‘n plek van aangename samesyn met andere – ‘n aangename, gelukkige plek wat ‘n warm welkom bied aan geliefdes, en aan vriende wat na die skeiding van ‘n dag, ‘n jaar of selfs langer, weer bymekaar uitkom.

Met ‘n diepe besef van wat ons huis vir ons beteken, seën ons dit en ons bied dit aan as ‘n plek waar mense van Christus tot Christus met mekaar kan kommunikeer.


Gebed:  Seën ons huis, Heer, met U liefde en vrede.


~ Uit Daelikse Woord ~


Wednesday 21 December 2011





OUERS


Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.  – Joh. 3:35


LIEFDE word op so baie maniere oorgedra.  Daar is egter geen liefde so mooi en onvoorwaardelik soos die van ‘n ouer vir sy kind nie.  En so het ons hemelse Vader ons ook lief – onvoorwaardelik, te alle tye en onder alle omstandighede.

Hy staan ons by, inspireer ons, voorsien ons van die nodige insig en kennis en help ons om vanuit Sy liefde, lig en krag binne-in ons ‘n sukses van ons lewens te maak.

Kom ons lê ons dan nou daarop toe om vandag, en sommer elke dag van nou af aan, aan andere die soort liefde te gee wat God ons gee.  As nuwe ouers, of as ouers vir wie die tyd aangebreek het om hul kinders op hul eie voete te laat staan, kan ons ‘n atmosfeer van liefde en inspirasie skep wat hul aanmoedig om te groei en verder te ontvou.

Kinders herinner ons aan die dinge wat mooi en goed is.  Laat ons dan hierdie inherente skoonheid van kinders aanwakker en laat uitblom, want hulle is die grootmense van die toekoms.

En wanneer ouers uitgesluit word uit hul kinders se lewens en verworpe voel, kan hulle nog altyd aan hul liefde betoon deur vir hulle te bid en op te dra aan God.  Al versmaai hulle vandag u ouerliefde, sal hulle eendag wel verlang daarna en dit soek – daarvoor sorg ons eie Hemelvader – al is dit ook eers eendag wanneer hulle in presies dieselfde bootjie is as wat u nou is. As God klein alledaagse gebede wat u bid verhoor, hoeveel te meer sal Hy u vurige en aanhoudende gebede as Ouers verhoor!


Gebed:  God is liefde en Hy het my lief.


~ Uit Daelikse Woord ~




Tuesday 20 December 2011





TROOS


Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.  – Jos. 1:9


Moedeloos en hartseer, mag ek my hande uitstrek na familie en vriende vir hulp en vertroosting.  Maar dit wat ek nodig het, is moontlik baie meer as dit wat hulle my kan gee.

Hierdie wete ontmoedig my egter gladnie, want ek weet waar ek al die troos en aanmoediging wat ek ooit mag nodig hê sal vind, naamlik in die spesiale plekkie diep in my hart.

Dit is hier waar die beste Vriend wat enige mens ooit kan hê, getrou en geduldig op my wag – dit is hier waar ek ‘n sielsgesprek met Hom kan voer, en seker daarvan kan wees dat Hy my hoor, dat Hy my sal antwoord en sal onderskraag in Sy liefde en lig.  In Sy hemelse liefde ontspan ek.  Ek weet Hy het my lief, Hy waardeer my, en so vind ek rus vir my gemoed.

My Heer is altyd met my.  Hy is my getroue metgesel, Hy vertroos my, lei my en is en bly altyd my heel beste Vriend, oral waar ek mag gaan.


Gebed:  U Heer, is my heel beste vriend.


~ Uit Daelikse Woord ~






LIG


God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie. – 1 Joh. 1:5


Wat gebeur met die duisternis as ons ‘n lig in ‘n donker kamer aanskakel?  Dit verdwyn.  Duistere vorms en skaduwees word heeltemal omskep tot die gewone as die lig daarop val.

Net so neem onsekerheid en vrees die wyk as ek Gods lig van begrip daarop laat skyn.  Diep in my wese skyn hierdie hemelse lig baie, baie helder.  Dit laat alle kommer, alle onsekerhedid, verdwyn, en werp ‘n helder baan van lig voor my uit wat ek met oorgawe en vreugde volg.

Hierdie hemelse lig laat my seëninge raaksien wat tot op hede nog vir my verborge was.  Hoe waardeer ek nie hierdie helder lig in my lewe en op my pad nie!  As ek ooit verlore voel, as ek deur die dal van duisternis gaan, as ek huiwer oor wat my te doen staan, bid ek tot my Vader wat in die hemel is, wat die lig aanskakel.  Dit skyn in my en om my, en vol moed en met ‘n lied in my hart, gaan ek vrolik voort op my hemelse pad van lig.


Gebed:  God is Lig!


~ Uit Daelikse Woord ~





Monday 19 December 2011





VANDAG


Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.  -  Ps.  118:24


Hoe mooi hierdie dag!  ‘n Heerlike, stralende dag, tot oorlopens toe gevul met seëninge van Bo, vir my, en vir alles en almal wat hierdie mooi dag met my deel.

Vry en bly betree ek hierdie wonderskone dag, en ek laat nie toe dat enigiets of enigiemand verhoed dat ek hierdie dag en alles wat dit bied, ten volle geniet nie!

Ek sit gedagtes van môre of gister, volgende week of volgende jaar opsy, en geniet hierdie dag wat God spesiaal uit sy liefde aan my geskenk het.  Met nuwe oë kyk ek na alles wat goed, mooi en inspirerend is in my lewe, en saggies sê ek, Dankie, Vader!  Ek sien die tappiserie van my lewe geweef met goue drade so wondermooi, en bring hulde aan die Meester skepper en onwerper.

Drade van liefde, lewe, vrede en vreugde is inmekaargeweef, om die skone kunswerk wat my lewe is, daar te stel.  Mag die glans van hierdie wonder-drade deur my skyn, en hierdie dag net so mooi en vol maak vir andere soos wat dit is vir my!


Gebed:  Ek juig en is bly oor hierdie mooi dag!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 18 December 2011





‘N NUWE MENS


Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  – 2 Kor. 5:17


Hoe meer ek die waarheid dat Christus in my woon, my eie maak, hoe meer besef ek dat daar geen perke is aan wat ek kan bereik in Sy krag en liefde nie.  Hoe meer ek Hom nader in gebed, hoe helderder skyn Sy lig in my lewe.

Vrede en harmonie heers in my hart.  Hierdie vrede en harmonie waarvan my hart so vol is, kan gesien word as wysheid, gesondheid en lewensvreugde.  Ek word waarlik ‘n nuwe mens, wedergebore in Christus wat in my en deur my lewe.

Vir geen oomblik laat ek my gedagtes toe om af te dwaal van hierdie grootse waarheid nie.  Ek leef nie alleen nie, ek leef saam met die Heer van my hart.  Ek waag om dapper te wees, ek waag om liefdevol te wees, ek waag om te glo in die goedheid van my medemens – ek waag om te leef soos dit ‘n volwasse kind van God betaam om te leef – soos iemand vir wie die oue verby is – iemand wat ‘n nuwe mens is!


Gebed:  Ek behoort aan Christus en is ‘n nuwe mens!


~ Uit Daelikse Woord ~




Friday 16 December 2011





TER NAGEDAGTENIS AAN ONS VOORVADERS


Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen,
 
dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, 

ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring, 

en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, 
en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. 

Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.


Die 1838 gelofte soos deur die digter W.E.G.Louw in Afrikaans vertaal. Die gelofte was die eerste keer op 9 Desember 1838 afgelê en elke aand herhaal tot 15 Desember 1838



(Hoe 'n ryke geskiedenis het ons net nie - laat ons dit nooit 

vergeet nie, maar oordra aan ons kinders en kleinkinders - 

vir ewig!)





VERSOENINGSDAG


Die duisternis is aan die verbygaan, en die ware lig skyn alreeds.
 – 1 Joh. 2:8


Die duisternis is aan die verbygaan – is dit nie ‘n wonderlike belofte vir ons wat vandag hierdie stukkie lees nie?  Al is die wolk wat oor ons hang nóg hoe donker, al is die skares wat ons vryheid en selfs voortbestaan bedreig nóg so oorweldigend, ons kan bid en glo soos die klein klompie mense binne-in ‘n laer van waens gebid en geglo het.  Die teks sê vir ons,  “Die duisternis is aan die verbygaan.”

Miskien omdat ons bid soos hulle gebid het?  Miskien omdat ons glo soos hulle geglo het?  Ons benadering is mos dat dinge nog kan verander omdat so baie regverdiges saambid, waarom sal ons dan nie vandag opnuut ons daaraan wei om te bid vir lig vir ons land en sy inwoners nie?

Ons gebede wat opwaarts styg, breek deur die donkerste wolke en reik tot by Gods troon, vanwaar Hy wondere laat geskied.

Ons moet saam bid, ons moet die hand van vriendskap reik aan almal wat saam met ons hierdie land bewoon en vrede soek, en die duisternis sal inderdaad verbygaan.


Gebed:  Laat ons U lig sien skyn, Heer.

~ Uit Daelikse Woord ~







EK  IS


Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. – Joh. 14:6


GELIEFDE, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”  Ek sal jou na gees, siel en liggaam gesond maak.  Ek is die waarheid van jou wese.  Volmaakte lewenskrag en ewig rus en vrede, dit bied Ek jou.

Deur My lewe, beweeg en bestaan jy.  Ek is die lig wat jou lei.  Wandel in My lig en die son sal jou bedags nie steek nie, nog die maan by nag.

Ek is alles wat jy is en alles wat jy kan wees.  Ek is meer as wat jy in jou wildste drome kan bedink, en aan dit wat jy kan bereik in My krag is daar geen perke nie.

Ons kan nooit  van mekaar verwyderd wees nie, want Ek is in jou en jy is in My.  Kom, stap saam met my, want hand aan hand sal ons al jou twyfel en jou vrese te bowe kom.

Deur My en in My krag kan jy alles bereik wat jy ooit gehoop het – alles waaroor jy al gedroom het.  Ek is jou vriend en jou trooster, nou en vir ewig een met jou.  Ek is Christus in jou hart.


Gebed:  Hand aan hand stap ek saam met my Heer!


~ Uit Daelikse Woord ~





Wednesday 14 December 2011




GODS LIEFDE IN AKSIE


Hy is soos ‘n boom wat by ‘n waterstroom geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra, en waarvan die blare nie verdroog nie.  – Ps. 1:3


Dit sal nogal interessant wees om na ‘n video van my lewe te kyk.  Is my drome en ideale bewaarheid?  Was ek suksesvol in die projekte wat ek aangepak het, of in my werk? Was ek ooit tot seën van my medemens – het ek ooit iets van waarde gegee?

Maar daar is nie so ‘n video nie, en nooit sal ek weet watter invloed ek op die lewens van andere gehad het nie.  Ek kan net hoop dat dit deurgaans positief en opheffend van aard was, veral vandat ek Gods pad van lig my lewenspad gemaak het.  Hierdie pad is ‘n opheffende pad, dis ‘n vrolike, positiewe pad, ‘n pad van liefde en deernis teenoor andere.  En ek het darem seker kinders en volwassenes aangemoedig om in hulself en hul eie vermoëns te glo – altans, ek hoop so!

En mag die saadjies van Gods liefde wat ek so in menseharte om my saai, groei en gedy en op die regte tyd vrugte dra, want dan was my lewe nie nutteloos nie.


Gebed:  Ek dra Gods liefde oor aan andere so ver ek gaan.


~ Uit Daelikse Woord ~







GODS  LIG


In U lig sien ons die lig.  – Ps. 36:10  OV


Here, ek bid vir U lig en inspirasie want dit is in die helder strale van U lig wat my lewe betekenis en rigting kry.  Dit is in die glans van U lig wat ek die Christusweg voor my sien ontvou – waar my soms weifelende voetstappe die uitnodiging ontvang om U leiding te volg.

Here, ek weet dat U lig ewig skyn en ‘n gloed uitstraal wat deur niks uitgedoof kan word nie.  Dit maak nie saak hoe groot die duisternis van my menslike hart en verstand is nie, ek vertrou op U hemelse lig.

Ek laat nou U lig deur my skyn.  Ek weet dat dit nie in my mag is om die vlam aan te steek nie maar ek weet wel dat in in my mag is om die pit van die kers deur middel van my gedagtes in so ‘n toestand te hou dat U lig vir altyd helder deur die vensters van my hart en siel en lewe kan skyn.

Here, ek vertrou op U lig in my.  Ek is verlig, geïnspireerd en seker van my rigting.


Gebed:  In U lig Heer, sien ek die lig.


~ Uit Daelikse Woord ~


Tuesday 13 December 2011



DIE WONDER


Dit weet ek:  God is aan my kant. – Ps. 56:10


En nou kom die grootste wonder van alle wonders – na die groot beproewing waardeur ons Heer en Meester ons gedra het, na die wonder van ons opstanding waarna Hy ons weer op ons voete geplaas het – na dit alles, is ons nooit weer dieselfde nie.

Dis nie die seer wat ons so verander het nie – want dan sou ons met ‘n wrok rondgeloop het.

Dis nie die teleurstelling wat ons so verander het nie – want dan sou ons weer dieselfde paadjie geloop het.  Nee, dis so oneindig meer!  Dis die opstanding wat Jesus so graag wil sien in ons!

Sy liefde neem oor in ons hart, en ons word deernisvolle mense – Barmhartige Samaritane.  Sterk en kragtig in Sy krag wat nou ook ons krag is, en ons kan opstaan en ons man staan voor die grootste uitdagings heen!

Dit is Hy wat lewe in ons en deur ons omdat ons Hom toegelaat het om oor te neem diep in ons hart. En weer ken ons dank geen perke nie!


Gebed:  Dankie Skepper God dat U aan my kant is!


~ Uit Daelikse Woord ~


Monday 12 December 2011





HARMONIE


Alle dinge is moontlik vir die een wat glo.  –  Mark. 9:23  OV


Daar is seker nie een van ons wat nog nie agtergekom het dat almal en alles om ons onaangenaam en sommer deurmekaar raak wanneer ons diep ontsteld is oor iets nie.  Gelukkig is die teenoorgestelde ook waar!

As ons kalm en rustig is, tevrede met onsself en die wêreld om ons, raak alles en almal om ons ook rustig en tevrede, maar is dit enigsins moontlik om die twee bymekaar te bring?  Is dit moontlik vir ons om kalm en rustig te bly, ongeag die vreesaanjaende nuusberigte, die tweestryd en dreigende oorloë tussen verskillende groepe en volkere, kan ons nog kalm en rustig bly?  Uit ons eie sal ons dit nooit regkry nie, maar vir die een wat glo, is alle dinge moontlik.  Met God, kan alles!

Ons glo!  O Heer, ons glo!  Ons glo in U liefde in ons harte – ons glo dat ons hierdie liefde ons eie kan maak en dit kan uitleef teenoor ons naaste.  Ons glo in ons vermoë om dinge in ons eie lewens en in die wêreld om ons te verander, solank ons saam bid en vas staan in U lig, U liefde en krag.


Gebed:  Ek glo Heer, en ek kan!


~ Uit Daelikse Woord ~




Sunday 11 December 2011





EK WAARDEER JOU AS VRIENDIN



HARTSGESKENKE deur Helen Steiner Rice…en aangepas vir elkeen!



DIS NIE DIE DINGE WAT ONS KOOP WAT ONS VERRYK EN VERBLY NIE

MAAR WEL DIE “GESKENKIES VAN DIE HART” DEUR GELD NIE TE VERKRY NIE.


‘N GLIMLAG BLY, ‘N WOORDJIE SAG, ‘N HOOFKNIK STIL EN TEER,

IS ALLES KLEIN GESKENKIES UIT DIE SKATKIS VAN ONS HEER.




DIS DINGE WAT ONS NIE KAN KOOP NIE, WANT DIS ONMOONTLIK OM

MET GELD OF GOUD – BEDAGSAAMHEID EN LIEFDE TE BEKOM!


DIS LEWENSSKATTE WAT ONS NOOIT MET GELD TE KOOP KAN KRY

EN RYKLIK IS DIE LOON VAN HUL WAT DIT SO MILD VERSPREI.




IN ‘N WERELD VOL VAN SORGE VOEL MENS DANKBAAR EN BLY

VIR VRIENDINNE WAT NOG HULLE TYD AAN LIEFDESDIENS TOEWY…


HULLE WAT NOG GLO DAT DEUR LIEFDE TE BETOON

HULLE VIR JESUS CHRISTUS EER WAT IN HULLE HARTE WOON.



MY VRIENDINNE…JULLE IS ALTYD GEREED OM MET WOORDE, DADE EN KRAG

‘N HAND VAN LIEFDE UIT TE STEEK…NA IEMAND WAT DAARNA SMAG!


EK WAARDEER JULLE ELKEEN WAT DIE HEMELPAD SAAM MET MY LOOP

MAG OOK JULLE DIESELFDE VAN MY ERVAAR…EN OOK ALTYD STEEDS BLY 

HOOP!



OP ‘N BLYE, NUWE MORE…VOL GELEENTHEDE OM MEKAAR TE RESPEKTEER


MEKAAR LIEF TE HE, TE BEMOEDIG EN OOK MEKAAR INSPIREER…


OM NUWE HOOGTES AAN TE DURF…LIEF TE HE…EN ELKE DAG PROBEER


OM NOG MEER TE GROEI IN VRIENDSKAP…VERAL MET


Jesus, ons Heer!







DANKIE!


Wees in alles dankbaar. – Tess. 5:18 OV


Sê dankie, dankie, dankie!  As iemand ons deur die dag seergemaak het, wat onthou ons? Die belediging – die seer?  Tob ons daaroor en kry ons onsself al hoe meer en meer jammer?  Dan het ons skoon vergeet wat Jesus se opdrag was omtrent die seer wat ons saam met ons rond dra – die seer wat uiteindelik ‘n wrok word.  En in plaas van nog ‘n geleentheid om op te staan en voort te wandel in die lig van ons Heer en Meester, sit ons vas met ‘n wrok-ketting om ons enkels… Of gaan ons sommer gou iets daaromtrent doen – voor ons sit met ‘n wrok wat al hoe moeiliker is om van ontslae te raak? Maar hoe?

Ons kyk daarna met die oë van ons siel, en ons sien dit wat met ons gebeur as lesse wat ons steeds voorwaarts en opwaarts lei op ons lewenspad, en stadig maar seker sal die seer verdwyn en plek maak vir ‘n innige  dankbaarheid  uit die diepste dieptes van ons hart! Ja, ons dankbaarheid ken geen perke nie!


Gebed:  Dankie, dankie, dankie, Heer van my hart!


~ Uit Daelikse Woord !


Saturday 10 December 2011





CHRISTUS IN ONS


Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens.  2 Kor. 5:17


Wie is dit wat van ons nuwe mense maak?  Ons eie inwonende Christus-self natuurlik, Hy wat ons in staat stel om op te staan en te wees die wonder wat Hy is in ons!  Nie meer bang en huiwerig om iets nuut aan te pak nie – sy lig verhelder ons brein, reguleer ons gedagtes en bring planne in ons doen en late wat soms selfs vir ons verstommend is!

As dit nie die geval is nie, en ons ploeter nog voort met allerhande vreesgedagtes en twyfel in die krag van God in Aksie in ons – ons eie Christus-self – dan het dit nou tyd geword om ons brein vas te vat, want dit is ons brein wat ons kort-kort laat tou opgooi met vreesgedagtes en twyfel, omdat ons nog nie alles kan sien met die oë van ons siel nie.  Wat nou?!

Moenie bang word nie – daar is ‘n oplossing!  Ons sou nie tot hier gekom het as die oplossing nie daar was nie!  En die oplossing?  Ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee!  Hoe groot hierdie wonder – hoe innig en opreg ons dankie, dankie, dankie, vandag!


Gebed:  Ek is en bly ‘n nuwe mens!


~ Uit Daelikse Woord ~