Monday 5 December 2011






JA!


Jesus Christus … is nie “ja” en “nee” tegelyk nie.  Hy is die “ja” van God.
2 Kor. 1:19


Heer van my hart, ek sê “ja” vir U helende krag wat nou in en deur my vloei.  Elke deel van my denke en my liggaam is oop vir die helende vloei van U lewenskrag.  U stralende lig skyn in en deur my, en elke sel wat herstel moet word, word daardeur verhelder, gesuiwer en hernu met nuwe lewe.

Heer van my hart, ek sê “ja” vir U teenwoordigheid wat my deur elke gebeurlikheid in my lewe lei.  Nooit is ek alleen voor ‘n uitdaging, of in my oomblikke van triomf nie.  U krag, U liefde en lig is in my, dit maak my sterk en is ‘n helder lig wat voor my uit skyn op my lewenspad.

Heer van my hart, deur “ja” te sê, maak ek die deur van my hart wawyd oop, en U lig,  liefde en krag wat my hart  binnevloei ken geen perke nie. Geen uitdaging in my lewe is te groot vir my om te oorkom nie – geen teleurstelling te diep om te verwerk – geen eensaamheid te alleen nie, want U my liefdevolle Heer, is my stok en my staf, al die dae van my lewe.  Vir U Heer, sê ek ja!  Dankie, Heer van my hart!


Gebed:  Heer van my hart – vir U sê ek “Ja”!


~ Uit Daelikse Woord ~


No comments: