Thursday 1 December 2011





LEWE


In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.
Joh. 1:4


Dierbare Heilige Gees, U krag is die lewe in elke sel van my liggaam.  Met elke klop van my hart, vloei U lewenskrag elke sel en orgaan van my liggaam binne, en dit stel my in staat om my fisiese take met gemak af te handel.  Dankie, dierbare Heer van my hart, vir hierdie wonderliggaam, met sy eie onderhoudsmeganisme, wat gebruik kan word, nie net vir my eie belange nie, maar ook vir U werke.

U lewe in my voorsien my van al die lewenskrag wat ek nodig het om enige uitdaging te bowe te kom.  U is die bron van lewe in my, en die band wat ons saambind kan nooit gebreek word nie – selfs wanneer een of ander siektetoestand dreig om my onder te kry.

En wanneer dit gebeur, Heer, kyk ek by die uitdaging verby.  Ek hou my gedagtes op U heilige teenwoordigheid in my gevestig – op U lig wat immer in en deur my straal om te heel en te genees, en ek voel sommer dadelik beter.  In U Heer, is daar lewe, en dié lewe is die lig vir my en vir alle mense, waar en wanneer ons dit nodig het.


Gebed:  Dankie, Vader, vir U wonder-lewenslig in my!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: