Wednesday 21 December 2011





OUERS


Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.  – Joh. 3:35


LIEFDE word op so baie maniere oorgedra.  Daar is egter geen liefde so mooi en onvoorwaardelik soos die van ‘n ouer vir sy kind nie.  En so het ons hemelse Vader ons ook lief – onvoorwaardelik, te alle tye en onder alle omstandighede.

Hy staan ons by, inspireer ons, voorsien ons van die nodige insig en kennis en help ons om vanuit Sy liefde, lig en krag binne-in ons ‘n sukses van ons lewens te maak.

Kom ons lê ons dan nou daarop toe om vandag, en sommer elke dag van nou af aan, aan andere die soort liefde te gee wat God ons gee.  As nuwe ouers, of as ouers vir wie die tyd aangebreek het om hul kinders op hul eie voete te laat staan, kan ons ‘n atmosfeer van liefde en inspirasie skep wat hul aanmoedig om te groei en verder te ontvou.

Kinders herinner ons aan die dinge wat mooi en goed is.  Laat ons dan hierdie inherente skoonheid van kinders aanwakker en laat uitblom, want hulle is die grootmense van die toekoms.

En wanneer ouers uitgesluit word uit hul kinders se lewens en verworpe voel, kan hulle nog altyd aan hul liefde betoon deur vir hulle te bid en op te dra aan God.  Al versmaai hulle vandag u ouerliefde, sal hulle eendag wel verlang daarna en dit soek – daarvoor sorg ons eie Hemelvader – al is dit ook eers eendag wanneer hulle in presies dieselfde bootjie is as wat u nou is. As God klein alledaagse gebede wat u bid verhoor, hoeveel te meer sal Hy u vurige en aanhoudende gebede as Ouers verhoor!


Gebed:  God is liefde en Hy het my lief.


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: