Saturday 10 December 2011




Immanuel, God met ons

Here Jesus, Kind van Betlehem, ons aanbid U.

Ons sien met verlange uit na die viering van u geboortedag.

Laat ons Kersfees met ’n opregte gesinheid tegemoetgaan.

Suiwer ons gees van bitterheid en haat, en maak ons vry van sonde.

Laat elke geskenk in opregte liefde gegee word en elke groetekaartjie ’n belydenis wees van ons geloof in U, ons Verlosser.

Gee, deur u Gees, nuwe betekenis aan ou, bekende Kersmelodieë.

Gee dat Kersfees weer versoening bring tussen God en mens sodat elkeen U Vader sal noem.

Bewerkstellig ook versoening tussen mens en mens.

Mag die vrede waarvan die engele gesing het nie net ’n ydele droom of ’n onmoontlike ideaal wees nie, maar laat ons deur ons geloof dit ’n werklikheid maak.

Gee dat die wonder van Kersfees nie net vir ’n kort rukkie ons harte sal verbly nie, maar dat dit ook by ons sal bly wanneer ons weer moet terugkeer na die pligte, die bekommernisse en verantwoordelikhede, van elke dag.

Ons vra dit in die Naam van Jesus wat gekom het om die mens van sy sonde te verlos en om vir die ganse mensdom Immanuel—God by ons—te wees.

Amen




No comments: