Sunday 18 December 2011





‘N NUWE MENS


Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  – 2 Kor. 5:17


Hoe meer ek die waarheid dat Christus in my woon, my eie maak, hoe meer besef ek dat daar geen perke is aan wat ek kan bereik in Sy krag en liefde nie.  Hoe meer ek Hom nader in gebed, hoe helderder skyn Sy lig in my lewe.

Vrede en harmonie heers in my hart.  Hierdie vrede en harmonie waarvan my hart so vol is, kan gesien word as wysheid, gesondheid en lewensvreugde.  Ek word waarlik ‘n nuwe mens, wedergebore in Christus wat in my en deur my lewe.

Vir geen oomblik laat ek my gedagtes toe om af te dwaal van hierdie grootse waarheid nie.  Ek leef nie alleen nie, ek leef saam met die Heer van my hart.  Ek waag om dapper te wees, ek waag om liefdevol te wees, ek waag om te glo in die goedheid van my medemens – ek waag om te leef soos dit ‘n volwasse kind van God betaam om te leef – soos iemand vir wie die oue verby is – iemand wat ‘n nuwe mens is!


Gebed:  Ek behoort aan Christus en is ‘n nuwe mens!


~ Uit Daelikse Woord ~




No comments: